Onafhanklike paneel moet liefs polisiehoof aanwys

khehla-sitole

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die drukgroep Action Society sê ʼn onafhanklike paneel kundiges moet voortaan die nasionale polisiekommissaris aanwys.

Die organisasie se versoek volg net dae nadat die huidige nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, ʼn brief ontvang het waarin hy kennis gegee word van pres. Cyril Ramaphosa se voorneme om hom te skors.

Die brief hou verband met die hooggeregshof se bevinding in Januarie dat Sitole en twee ander hooggeplaastes hul plig versuim het deur nie met die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) tydens ʼn ondersoek saam te werk nie.

“Dit is duidelik dat die huidige bestuur nie vertrou kan word om bekwame amptenare aan te stel wat werk om eerder die mense van die land as die politieke agendas van ander te dien nie,” sê Ian Cameron, woordvoerder van Action Society.

“Daar was nie ʼn enkele nasionale polisiekommissaris die afgelope 20 jaar wat nie bewerings van korrupsie of politieke inmenging teen hom gehad het nie. Sitole is net nog een wat by die lys gevoeg kan word.”

Sitole se medebeskuldigde en adjunkkommissaris, genl.maj. Francinah Ntombenhle Vuma, het glo dae voordat Sitole die skorsingsbrief ontvang het ʼn omsendbrief uitgestuur waarin ʼn aantal topbestuursposte in die polisie as “vakant” verklaar is.

Die omsendbrief het glo gelui dat alle poste, behalwe dié van die nasionale en provinsiale kommissarisse, in die goedgekeurde organisasiestruktuur as vakant beskou word. Dit sluit in die afdelingskommissarisse, nasionale afdelingshoofde en adjunk- provinsiale kommissarisse.

Volgens Cameron het die brief verder gemeld dat provinsiale kommissarisse ʼn provinsiale paneel moet aanstel om die aanwys van provinsiale hoofde en distrikskommissarisse te oorweeg. Die provinsiale paneel moet die aangewese adjunk- provinsiale kommissarisse en vakbonde insluit.

Dié paneel sou ingevolge die brief ʼn finale aanbeveling aan die nasionale paneel vir goedkeuring deur die nasionale kommissaris voorlê. Die nasionale polisiehoof moet die aanbevelings teen Woensdag goedkeur en nuwe poste moet teen 1 November gevul word.

“Die polisie moet van top- tot voetsoolvlak behoorlik aangestel en toegerus wees. Die regerende party het egter keer op keer bewys dat hy nie bekwame leiers in dié posisies kan aanstel nie.”

Cameron het ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn onafhanklike liggaam te stig om eerder hierdie belangrike aanstellings te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nie Verbaas ·

Niemand in ANC is bekwaam om enigiemand aan te stel nie wat enigsins iets werd is nie.

Johann ·

Die ANC sal nooit toelaat dat hy sy wurg greep op die “polisie bestuur” verloor nie. Ter wille van ‘n MAGSMAL ANC …..ten koste van ‘n effektiewe polisie mag en land. Ek sidder om te dink presies hoe diep Ramapoza en sy kaders se vergrype in die Polisie is! Als om elke moontlike vervolging teen hulle misdade te verhoed.

Di ·

STEM 100% saam. ANC kaders se aanstellings draai gewoontlik uit dat ‘n korrupte, onbevoegde persoon aangestel word. Vir hulle gaan dit oor niks anders as BROEDERSKAP nie. Boetie sorg vir boetie!

KB ·

Die ANC dop tans toetse soos vlieë…
Ons sal dit by die stembus sien.

Shakespeare ·

Gelukkig kan die ANC kies en keur onder hordes onbevoegde en korrupte kandidate. Ek vertrou hul sal die regte ding doen en die onbevoegste vd lot kies.

Yvonne ·

Nou toe nou …….waar in die ANC gaan hulle die kanidate uit krap…lagwekkend…..is daar nog ooit kundiges oor….

Swerwer ·

Die vraag is , uit wie gaan die onafhanklike paneel bestaan.

Jack ·

Die anc gaan dit nie toelaat nie. Hoe gaan hulle die soustrein laat loop sonder die polisie se ondersteuning. Die senior beamptes word juis aangestel omdat hulle kwalifikasies reg is. Korrup lieg en steel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.