Onafhanklikheid van Afrikaanse skole ondersoek

Melanie-Buys-onderwysberaad

Melanie Buys was een van die sprekers tydens die Solidariteit Beweging se toekomsberaad oor Afrikaanse onderwys: Foto: Reint Dykema/Solidariteit Facebook.

Die Solidariteit Beweging het Woensdag tydens ʼn toekomsberaad oor onderwys in Centurion aangekondig dat dié organisasie binnekort ʼn taakspan van kenners sal aanwys om onafhanklike Afrikaanse onderwys te ondersoek.

“In sekere dele van Suid-Afrika, veral buite die groot stede, is die krisis van Afrikaanse onderwys akuut. Ons het nog nie bevredigende antwoorde vir hierdie probleme nie. Ons gaan in ons ondersoek daarna kyk, asook na die spesifieke rol wat tegnologie kan speel om buite die stedelike omgewings waar die konsentrasie van Afrikaanse skoolkinders laag is, wêreldklas- bekostigbare Afrikaanse onderwys te bied,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Sprekers het ook tydens die beraad verwys na die konstitusionele hofuitspraak wat Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR van onderwys, die mag gee om te besluit wie in Gautengse skole toegelaat moet word. Hulle was veral bekommerd oor die toenemende staatsinmening by skole en die verminderde staatsgeld wat vir veral Afrikaanse openbare skole beskikbaar is.

Volgens Melanie Buys, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se bestuurder in Gauteng, wil al hoe meer Afrikaanse openbare skole weet hoe hulle selfstandigheid kan bekom. Sy meen dat die skole baie meer selfstandig kan raak deur net te kyk na die manier waarop hulle hul geld bestuur. “Skole kan byvoorbeeld fondse en skenkings deur ʼn onafhanklike regsentiteit soos met ʼn trust of ʼn maatskappy sonder winsoogmerk met die skool as begunstigde laat bestuur.”

Buys het ook die voorbeeld genoem van ʼn skool wat ʼn naskoolsentrum gebou het met geld wat vanuit ʼn trust bestuur is. “Die trust is die eienaar van die naskoolsentrum wat op ʼn terrein aangrensend aan dié van die skool gebou is. In die oggend word die klasse van die sentrum verhuur aan die skool vir onderrigdoeleindes en in die middae word dit as ʼn naskoolsentrum gebruik wat nóg ʼn inkomste vir die skool genereer,” het sy gesê.

Afrikaanse openbare skole is tydens die beraad geloof vir hulle uitnemendheid en goeie uitslae wat hulle steeds lewer ten spyte van verskeie uitdagings. “Daar is geweldige kapasiteit in ons openbare skole en daarom kan daar nie net gesê word die toekoms van gehalte onderwys lê by private skole nie,” het Buys gesê.

Van die sprekers het ʼn beroep gedoen dat Afrikaanse openbare skole beskerm moet word en dat gemeenskappe en organisasies die skole moet ondersteun sodat hulle voort kan gaan om gehalte onderrig in Afrikaans aan leerders te lewer.

“Die Afrikaanse gemeenskap, insluitende kerke, moet betrokke raak. Openbare en onafhanklike skole moet nie teenoor mekaar staan nie, maar moet mekaar aanvul binne werklikhede wat ontstaan. Soos daar wêreldklas- openbare skole bestaan, moet daar sorg gedra word dat, waar dit nodig is, gapings gevul word met wêreldklas- onafhanklike skole. Sodoende gaan ons seker maak dat ons kinders se kinders wêreldklas-onderrig in Afrikaans gaan ontvang. Ek sien dus openbare en onafhanklike Afrikaanse skole nie as teenoor mekaar opgestel nie, maar as ’n plussom waar 1 + 1 = 3 is,” het Hermann gesê.

  • Klik op die speler hierbo om na ʼn onderhoud met Melanie Buys te luister.
  • Lees dr. Dirk Hermann se volledige toespraak op Maroela Media se debatsportaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Kobus ·

Dankie vir die inligting, dit help dat ons saam met jul planne en visie geneem word.

Pietman ·

Ek waardeer Solidariteit se goeie werk. Ek neem aan “onafhanklik” verwys na “privaat”.

Koos ·

Die enigste manier om die standaarde van die huidige onderwys te verbeter voor jy as dit nie reeds die geval is nie sit met ‘n gedeelte van die jong bevolking wat sit met ‘n “” matriek sertifikaat ” maar nie eers ordentlik kan lees en skryf nie.

Mamma ·

My kind is in ‘n Afrikaanse privaatskool. Dis glad nie ‘n “regse” skool nie. Enigiemand wat Afrikaans praat is welkom en alle onderrig geskied in Afrikaans. Die resultate is fenomenaal. Wanneer ek my kind se skoolwerk met kinders in staatskole s’n vergelyk is sy hulle myle voor. Die skool verg harde werk van die kinders en kos ongelukkig meer as staatskole, maar dit is die moeite werd.

oumie ·

Ek is bereid om te betaal al moet ek sonder my rookgoed gaan vir my kleinkids vir n beter lewe te verseker ongelukig drink ek nie dan was daar meer geld

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.