Ondergrondse brandstofpyplyn beskadig

Daar is glo met die pyplyn gepeuter voordat brandstof daaruit gespuit het. (Foto: Verskaf)

Die polisie is op soek na die boosdoeners wat vandeesweek ʼn ondergrondse brandstofpyplyn beskadig het en talle liters brandstof verlore laat gaan het.

Die voorval het Donderdag in Vosman, Mpumalanga, plaasgevind.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê lede van die veiligheidsmaatskappy Bidvest het kort voor sonsonder gesien dat ʼn onbekende vloeistof uit die grond spuit.

Die polisie is na die toneel ontbied en daar is eindelik vasgestel dat die vloeistof brandstof is wat uit Transnet se ondergrondse pyplyn kom.

Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat ʼn reusegat na die pyplyn gegrawe is, wat beamptes laat dink dat iemand doelbewus skade aan die infrastruktuur aangerig het.

“Altesaam R800 000 se brandstof het verlore gegaan weens die skade aan die pyplyn,” sê Mdhluli.

“Die volle omvang van die skade sal egter eers bepaal kan word wanneer Transnet se ondersoek na die saak afgehandel is.”

Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Dit is ook onduidelik of die boosdoeners van die brandstof gebuit het.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en ʼn beroep op lede van die gemeenskap gedoen om nie noodsaaklike infrastruktuur te beskadig nie.

“Benewens die verlies wat Transnet gely het, is mense se lewens ook in ernstige gevaar geplaas sou dit gebeur het dat die gebied rondom die pyplyn aan die brand geslaan het.”

Die polisie se ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.