Ondersoek begin ná kleuter glo in video mishandel word

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die polisie het onderneem om geen steen onaangeroer te laat om geregtigheid te laat geskied vir ʼn kleuter wat glo in ʼn video aangerand word nie.

ʼn Video wat wyd op sosiale media gedeel is, wys hoe ʼn kleuter geskop en mishandel word.

Die polisie en die Gautengse departement van sosiale ontwikkeling vermoed dat die kleuter in die video dalk deur sy biologiese ma aangerand word.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die pa van die baba het hom die afgelope naweek tot die Nordwoord-polisiestasie gewend waar hy die video onder die owerhede se aandag gebring het.

ʼn Saak van aanranding en kindermishandeling is by die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele ondersoeke aanhangig gemaak.

Die biologiese ma van die baba is kort daarna in hegtenis geneem en het Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

“Die ma is egter vrygelaat en die saak is van die hofrol geskrap,” sê Masondo.

“Die polisie is opdrag gegee om eers op die selfone van albei ouers beslag te lê vir verdere ondersoek.”

Volgens Masondo het die ondersoekbeampte in die saak reeds begin om die inhoud van die selfone te ontleed.

“Die baba is intussen deur die polisie uit die ouers se sorg verwyder en in die departement van sosiale ontwikkeling se sorg geplaas.”

Die departement het bevestig dat hy die kind na ʼn hospitaal geneem het waar hy volledig ondersoek is om die omvang van sy beserings te bepaal.

Volgens Mbali Hlophe, LUR van onderwys in Gauteng, is die kleuter egter erg getraumatiseer en het hy deurlopend gehuil toe die ondersoek op hom gedoen is.

“Dit is verskriklik dat hierdie voorval tydens Vrouemaand plaasvind waar ons vroue moet vier en voorbeeldige vrouefigure moet bevorder,” sê Hlophe.

“Ons is wel dankbaar dat die kind tans veilig is en behandeling en liefde by ons kindersorgwerkers ontvang.”

Die departement sal hom Donderdag tot die kinderhof wend sodat die kleuter elders versorg kan word.

Die ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hasie ·

Hoek is dit van die hofrol afgehaal ?Iemand te lui om hul werk te doen?

ES ·

Dis gewoonlik agv swak polisie ondersoek en min of geen bewyse wat die aanklaer kan gebruik om ‘n saak te maak nie… Die belangrikste gedeelte van ‘n ondersoek wat kan lei tot suksesvolle vervolging, begin by die polisie.

Karoo ·

Dis moontlik dat die Pa dit gedoen het om bewyse teen die Ma te he, hy het dit gaan raporteer. Dit was dalk nie die eerste keer wat dit gebeur nie.

Delia ·

Dit maak sin. Ek weet net nie hoe staan mens en verfilm terwyl dit aangaan nie.

Karoo ·

Wie sou die Pa glo sonder dit? Dis dalk die beste wat hy kon doen om dit te stop.

ES ·

My oupa het altyd gese, enigiemand wat ‘n vrou of kinders mishandel se hande moet afgekap word…

Lillian ·

Hoekom word die saak van die rol verwyder? Vele kinders en vrouens is al gefaal deur hierdie regering wat beweer hul veg vir vroue en kinderregte en steeds gaan dié tipe gedrag en misdade voort op ‘n daaglikse basis.

Delia ·

Die staat moet sy saak goed voorberei en te vinnig op die hofrol benadeel dalk die staat se saak.

Karoo ·

Dankie aan die Pa wat die moed bymekaar geskraap het en dit opgeneem het en so die Ma kon aangee met bewyse. Ek is net dankbaar dat ek nie die video tee gekom het nie, sou dit nie wou/kon kyn nie.

Alida ·

Hoekom dankie dat die pa dit afgeneem het, hy moes bloot die kind vewyder het, nou staan iemand en neem die mishandeling net af………………..hulle moet sommer as medepligtige opgesluit word

Charles ·

Ek het ook so gedink maar iemand hier het iets verduidelik en toe begryp ek. Niemand glo n pa nie. En dis nog vrouemaand óók.

Vanessa ·

Ek is dankbaar dat die saak gerapporteer is. Daar is GEEN verskoning wat dit regverdig om ‘n kind te mishandel nie. Daar is te veel mense wat wegkom met dit en dan wil almal intree as dit te laat is. Dit mag nie geduld word nie. Dis onaanvaarbaar. Ek sê weer moenie kinders kry as jy nie emosioneel en finansiëel in staat is om na hulle om te sien nie. ‘n Kind het liefde nodig en as jy dit nie kan gee nie moenie swanger raak nie. Die kind het nie gevra om daar te wees nie!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.