Ondersoek kom ná NWU-student sterf

Die Mahikeng-kampus van die Noordwes-universiteit. (Foto: NWU)

Die polisie in Noordwes het bevestig dat ʼn geregtelike doodsondersoek geopen is nadat ʼn 20-jarige student van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mahikeng-kampus Dinsdagmiddag dood in haar koshuiskamer gevind is.

Die oorsaak van Mmathabo Cornelia Sesinyi, ʼn eerstejaarstudent in BA Kommunikasie, is nie in dié stadium bekend nie.

Louis Jacobs, die NWU se woordvoerder, het op die universiteit se webblad gesê dat Sesinyi se familielede en die polisie reeds die toneel besoek het.

Sesinyi was ʼn inwoner van die GaTholo-koshuis buite die kampus.

“Ons medelye gaan uit aan mej. Sesinyi se familie, medestudente en vriende,” het Jacobs gesê.

Haar dood volg enkele dae nadat ʼn student van die Universiteit Stellenbosch (US) Saterdag dood in haar kamer by die Heemstede-vrouekoshuis aangetref is.

Die oorsaak van haar dood is nie bekend nie, maar volgens die polisie is ʼn geregtelike doodsondersoek reeds geopen. Haar naam is nie bekendgemaak nie.

OFM berig dat Onkgopotse Kgeletsane, ʼn 23-jarige student wat by die NWU se Mahikeng-kampus gestudeer het, verlede maand ook dood in sy koshuiskamer aangetref is.

Ook dié student se oorsaak van dood word nog ondersoek, berig OFM.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adri ·

Dit lyk of dit nodig geword het dat ondersoek gedoen word na die rede waarom soveel studente skielik sterf. Wat het hulle in gemeen gehad?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.