Ondersoek na NSFAS verwelkom

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Enige kriminele optrede wat aan die lig gebring word deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se ondersoek na die nasionale studente finansiële hulpskema (NSFAS), moet vervolg word tot die volle omvang van die wet.

Chantel King, DA-LP en woordvoerder vir hoër onderwys, het die ondersoek na bewerings van korrupsie en wanadministrasie by NSFAS verwelkom.

“NSFAS is in 2018‑’19 onder administrasie geplaas om te help met finansiële en operasionele bestuur. Teenstrydige sienings oor die benadering van die administrateur het vakbondinmenging en teenstrydige verslae uit die kantoor van die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, en die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys opgelewer.”

Volgens King het die oorgang van ’n lening- na ’n beursstelsel ook verskeie uitdagings tot gevolg gehad. “Verouderde IT-stelsels, onderbefondsde administrasiekoste, bekommernisse van die ouditeur-generaal (OG) oor die wetgewende raamwerk van NSFAS, is maar enkele van die kwessies wat sy mandaat belemmer. Tot op hede duur hierdie uitdagings voort en dit het gelei tot twyfelagtige uitbetaling van beurse, agterstallige appèlle en uitgebreide vertragings in verslagdoening.”

King het gesê die ministeriële taakspan, wat aangestel is om die skema te hersien, moet intussen nog sy lank agterstallige verslag oor die volhoubaarheid van studentefinansiering lewer.

Pres. Cyril Ramaphosa het magtiging aan die SOE gegee om NSFAS te ondersoek. Die ondersoek sal waarskynlik op die tydperk van April 2016 tot Augustus vanjaar fokus, maar kan enige tydperk insluit wat die eenheid as relevant tot die ondersoek beskou.

Luidens die SOE se verklaring sal die ondersoek uit twee bene bestaan. Die eerste sal die finansiële bestuur van die skema bekyk en die tweede sal ondersoek instel hoe beurse, lenings en enige ander finansiering aan studente toegewys is. Die eenheid sal verder enige ongemagtigde, onreëlmatige of verkwistende uitgawes bekyk wat deur NSFAS en die staat aangegaan is.

Begunstigdes van NSFAS kla jaar ná jaar oor die skynbare onbevoegheid en onvermoë van NSFAS om beursgeld betyds uit te betaal en honderde studente moet soms maande lank klaarkom sonder geld vir kos, boeke of verblyf. Daar is ook ernstige vrae oor die skema se lewensvatbaarheid, aangesien dit tot dusver net daarin kon slaag om ʼn fraksie van die skuld aan lenings wat in die verlede aan studente toegestaan is, in te vorder.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christelle ·

Dis hoog tyd dat dit ondersoek word. Ek het n dogter in pleegsorg wat regtig n beurs en studie hulp nodig gehad het, maar vir voor die hand liggende redes nie kwalifiseer het nie. Ek dink alle beurse en studie hulpe moet ondersoek word, want dit is waar dat die geld in baie gevalle vir alles behalwe studies gebruik word.

Elma ·

Dieselfde hier! My dogter se aansoek ht nt nooit verby die “application received” deel gekom nie. Soos jy sê – vir voorhandliggende redes! Maak mens SIEK.

Cecilia ·

Ek het destyds met my studies ook nie gekwalifiseer nie. My velkleur is verkeerd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.