Ondersoek na ontploffing in Woodstock gedoen

(Foto: Verskaf)

ʼn Voorlopige ondersoek na die brand en ontploffings wat dele van Woodstock in Kaapstad geruk het, dui daarop dat ʼn gaslek die oorsaak van die verwoesting was.

ʼn Brand Donderdagaand op die hoek van Plein- en Victoriastraat het onder meer ʼn plaaslike winkel heeltemal verwoes. Twee mense is in die proses beseer.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Kaapstad-metroraad, sê inspekteurs van die metro se brand- en reddingsdienste, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se bomspan het Vrydag die toneel gefynkam.

Nadat op twee 48 kg-gashouers aan die agterkant van die winkel afgekom is, het die inspekteurs die afleiding gemaak dat dié bottels moontlik die oorsaak van die brand was. Hoewel die bottels ongeskonde was, vermoed inspekteurs dat dit nietemin gelek het.

“As gevolg van die verhoogde druk van die houers kon ʼn lek ontwikkel het en aangesien gas swaarder as lug is, is dit moontlik dat die gas al langs die vloer beweeg het totdat die lug in die winkel heeltemal versadig was,” sê Smith.

“Dit is ook moontlik dat die gas die klere van die twee slagoffers deurweek het en hulle dit nie eens besef het nie omdat hulle agter ʼn toonbank naby die ingang van die winkel gestaan ​​het.”

Inspekteurs vermoed dat die gas eindelik vlam gevat het deur een van die induksiemotors van die verkoelingstoerusting.

“Met die skielike uitbreiding van massa, het die vensters en goedere binne die winkel na die straat se kant toe ontplof.”

Die winkelaansig is so ontwerp dat daar aluminium en glas tussen die strukturele pilare is en dit het veroorsaak dat die drukking die sagter materiaal na buite laat meegee het. Die strukturele pilare en bekisting van die gebou is egter onbeskadig gelaat.

Die winkel het egter aan die brand geraak en is heeltemal verwoes teen die tyd wat brandbestryders die brand onder bedwang kon bring.

ʼn Wegneemrestaurant in die gebied is nie deur die brand geraak nie, maar het slegs rookskade opgedoen, met geringe skade aan ʼn skeidingsmuur. Geen strukturele skade is aangemeld nie.

Die metro se brandveiligheidsafdeling doen voldoeningsinspeksies wanneer klagtes van die publiek ontvang word. Tot op hede is geen klagtes egter vir brandveiligheidsverwante aspekte vir die betrokke perseel ontvang nie.

“In hierdie geval is daar wel bevind dat die gebruik van 48 kg-gasbottels binne ʼn perseel verbode is. Slegs 19 kg-bottels word toelaat mits dit korrek geïnstalleer en gebruik word en onder ʼn geldige sertifikaat van voldoening bedryf word,” sê Smith.

“Die belangrikheid van brandveiligheid bly ʼn aspek vir alle eiendomseienaars om in ag te neem, en ook die huurders wat sulke eiendomme bedryf.”

Die toneel is reeds vir verdere ondersoek aan die SAPD oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.