Ondersoek na skrootvoorsiening aan metaalbedryf kom

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Nuwe riglyne wat die afgelope week deur Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, bekendgemaak is, bepaal dat alle ondersteuningsmaatreëls om hulp te verleen aan die Suid-Afrikaanse metaalbedryf wat tans onder druk verkeer, dringend ondersoek word. Die riglyne hou verband met die handelsbeleid wat vroeër vandeesmaand uitgereik is.

Die vakbond Solidariteit het dié ondersoek verwelkom. Marius Croucamp, adjunk-hoofsekretaris vir strategie by die Solidariteit Strategiese Instituut, het vandeesweek in ʼn verklaring gesê die hoeveelheid beskikbare skrootmetaal wat op groot skaal deur plaaslike staalfabrieke gebruik word, het drasties verminder. Die prys van skroot het terselfdertyd skerp gestyg.

Volgens Croucamp is die internasionale handelsadministrasiekommissie, oftewel die International Trade Administration Commission of South Africa (ITAC), nou aangesê om marktoestande en die wanbalans in vraag en aanbod in skrootmetaal te ondersoek om sodoende maatreëls te tref sodat plaaslike gieterye en staalfabrieke beskerm kan word.

“Die impak van Covid-19 en die algehele landwye afsondering het ’n verwoestende effek op die Suid-Afrikaanse staalbedryf gehad. Yster- en nie-ysterhoudende skroot wat ’n belangrike grondstof vir gieterye en staalfabrieke is, is in onvoldoende aanbod en die prys van skroot het aansienlik verhoog,” verduidelik Croucamp.

Volgens Croucamp mag geen yster- of nie-ysterhoudende skroot nou uitgevoer word gedurende die ondersoek nie. Skroot mag slegs uitgevoer word indien die ITAC bepaal het dat die skroot nie deur die plaaslike bedryf benodig word nie.

Croucamp sê dat die polisiëring van die vloei van skroothandel uitdagend is met die aansienlike ontduiking van regulasies wat na bewering plaasvind. “Solidariteit ondersteun die minister van handel, nywerheid en mededinging om ’n ondersoek in die handel en voorsiening van skrootmetaal aan te vra. Die volhoubaarheid van die bedryf en werksekerheid is op die spel en dringende maatreëls moet getref word om dit te hanteer,” het Croucamp gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Solank daar skroothandelaars is wat onwettige aankope doen sal die diefstal van alle yster en koper nie stop nie, hy kan mos sy logika gebruik as daar iemand opdaag byvoorbeeld met n vrag treinspore ens.

Pampoen ·

As gevolg van die diefstal van koper en ander metaal en die gevolglike skade wat daar aan werkende toerusting aangerig word, sou dit goedkoper wees om geen metaal (veral koper) te herwin nie. Maak dit onwettig om met koper handel te dryf of te herwin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.