Ondersoek ‘ver van afgehandel’ in Koster-moordsaak

Van links: Stefan Nel en Adam Barnard (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Tydens ʼn vurige kruisondervraging van die ondersoekbeampte in die moordsaak van Klaas Mosimanyana Jobontho (32) het Stefan Nel se regsverteenwoordiger die beampte se stellings oor waarom hy Nel se borgtogaansoek gaan teenstaan, bevraagteken.

Nel is in Desember saam met vyf ander beskuldigdes in hegtenis geneem in verband met Jobontho se moord in Koster, Noordwes.

Nel en Adam Barnard het Donderdag in die landdroshof op Swartruggens verskyn vir hul borgtogaansoeke. Die saak is na dié hof verskuif omdat die landdroshof op Koster – waar die saak tot dusver voorgekom het – se bandopnemer sedert Maandag buite werking is.

Van links: Stefan Nel en Adam Barnard (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Nel word van moord, dwarsboming van die gereg en die verhindering van die polisie in die uitvoering van hul pligte aangekla, en Barnard slegs van laasgenoemde twee aanklagte.

Sers. Floyd Tsele van die Koster-speurtak het Donderdag in die hof benadruk dat hy Nel se borgtog gaan teenstaan omdat die staat ʼn sterk saak teen Nel het. Hy kon egter nie redes verskaf waarom hy ʼn sterk saak het nie en het nie op die meriete van die saak uitgebrei nie.

In dieselfde asem het Tsele gesê dat die ondersoek nog ver van afgehandel is.

“Hoe kan jy aanvoer dat jy ʼn sterk saak het as die ondersoek nog nie afgehandel is nie?,” het Nel se regsverteenwoordiger, Hekkie Grobler, vir Tsele gevra.

Tsele het aangevoer dat die ondersoek sloer omdat Nel nie die wagwoord van ʼn kringtelevisiekamera vir die polisie wil gee nie. Die kamera is geleë op ʼn plaas in Doornlaagte, Koster, waar Jobontho se liggaam gevind is. Dit is vroeër in die hof vasgestel dat dié plaas op Nel en sy verloofde se naam is.

Klaas Mosimanyana Jobontho (Foto: Klaas Mosimanyana Jobontho, Facebook)

“Ek het meermale die beskuldigde vir die wagwoord gevra en elke keer het hy ʼn ander antwoord gegee. Hy werk glad nie saam met die polisie nie,” het Tsele getuig.

Op hierdie stelling het Grobler in opdrag van sy kliënt gesê dat hy (Nel) vir Tsele gesê het dat hy nie die wagwoord ken nie.

Tsele het tydens kruisondervraging ook gesê “hy dink nie Jobontho is aan natuurlike oorsake dood nie”, waarop Grobler gesê het dat “die staat dus nie vir ʼn feit weet of hy vermoor is nie”. Tsele het ook erken dat hy nie ʼn deursoekingsbevel gehad het om die plaas te deursoek toe die polisie op 21 Desember die plaas betree het nie.

Nel en sy medebeskuldigdes is al meer as 50 dae in aanhouding, met die borgtogaansoeke wat al herhaaldelik uitgestel is weens verskeie redes.

Uitspraak oor Nel en Barnard se borgtogaansoeke word Maandag gelewer. Die ander drie beskuldigdes, Donovan Martin, Mustafa Albertyn en Wayne Schroeder, sal dan ook weer in die hof verskyn vir hul borgtogaansoeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sandra ·

Alhoewel mens onskuldig is totdat skuld bewys kan word, moet jy jou nie bekommer nie Sersant Tsele, as die mannetjie verantwoordelik is vir ‘n ander persoon se onnatuurlike dood, en julle kry hom nie vir die moord op die aarde nie, sal hy moet pa staan daarvoor as hy voor die groot Man staan eendag.

Harley Davidson ·

As sersant tshele so skerp was sou hy nie so oor sy eie voete geval het en homself weerspreek het nie ,’n hoë profiel saak verdien ‘n hoë profiel speurder en ongelukkig is hulle so skaars soos hoendertande.

Marcello ·

Slordige Polisie ondersoek. Hulle reageer op hoorsê, en nie op fiete nie. “n Familielid na aan my is in hegtenis geneem (Ma) van ‘n kind, op hoorsê van die bure, wat beweer het, die kind is aangerand, maar NêRENS kon dit bewys word nie, tot vandag toe, dit is nou al ‘n jaar later, en die Ma wat toe vrygelaat is na 3 dae, beleef nou-nog die trauma van hoe sy hanteer is deur die Poliisie.

Opinie ·

My swaer was vir n jaar toegesluit in die holding selle vir beweerde kinder molestering. Nooit in die hof verskyn nie, is net een oggend vry gelaaat. Na meer as n jaar in haglike omstandighede.

ES ·

Hoorsê kan in die hof aanvaar word as getuienis onder sekere omstandighede en as dit voldoen aan sekere vereistes kan dit in ag geneem word vir die uitspraak van ‘n saak. Ongelukkig as polisie swak ondersoek en speurwerk doen, dan gebeur sulke dinge. ‘n Goeie prokureur weet presies hoe om so saak te hanteer.

Vexed ·

Ek het dit nog altyd vreemd gevind dat skinder in ‘n hof gebruik word. Veral erg vir my omdat ek ‘n geskinder nie kan verdra nie. Maar nou ja. Ek hou my maar verweg van die tipe mense wat dink skinder het waarde.

Harley Davidson ·

As daar net ‘n wet was soos in die VSA dat onregmatige betreders geskiet kan word sou hulle jou eiendom sonder toestemming betree sou sa baie minder van hierdie tipe sake gehad het ,die boodskap moet duidelik wees bly van my eiendom af of dra die gevolge.

Pierre ·

Dit is darm baie oordrewe dit is nie wet in die hele VSA nie slegs in een staat

Vexed ·

Ja, die staat wat goed reg doen. Klink na ‘n plan vir my.

Danie ·

Polisie lede is net daar vir n salaris en het dalk nog verneuk met die aansoek.Jy kry bitter min goeie speurders vandag ons noem hulle kantoor speurders.

Eugene ·

Aan ramaphosa: wat van plaas moorde van Boere wat kos op u tafel sit!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.