Ongebruikte myne ‘teelaarde’ vir misdaad

Meer as 200 vermeende onwettige mynwerkers is die afgelope ruk aan die Wes-Rand aangekeer. (Foto: SA Polisie)

Die myn waar ʼn groep mense verlede maand oorval en beroof en verskeie vroue verkrag is, behoort aan die maatskappy Mogale Gold. Dié het mynregte tot 2029 maar die departement van minerale hulpbronne en energie het bedrywighede daar opgeskort nadat die maatskappy nie aan bepaalde vereistes voldoen het nie.

Lede van die parlementêre komitee oor minerale hulpbronne en energie, sowel as lede van die parlementêre komitee oor polisie, het die West Village-gebied die afgelope week op ʼn feitesending besoek.

Sahlulele Luzipo, voorsitter van die komitee oor minerale hulpbronne en energie, sê die departement moet die beginsel – dat indien iets nie gebruik word nie, dit verbeur moet word – doeltreffend afdwing. Luzipo sê die beleid moet gevolg word saam met die program ingevolge waarvan ongebruikte myne bestuur word.

“Onder geen omstandighede behoort myne halfpad dormant gelaat te word nie. Dit eindig as ʼn teelaarde vir onwettige mynbedrywighede,” sê hy.

“Daar moet ʼn manier wees om die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne met die Maatskappyewet te laat strook, sodat daar effektief oor kwessies oor mynregte en die likwidasie van maatskappye gehandel kan word.”

Luzipo het ook gevra vir nouer samewerking tussen verskillende belanghebbendes, waaronder die polisie, departement van binnelandse sake en die Raad vir Geowetenskap, sodat die program om ongebruikte en eienaarlose myne te seël, versnel kan word.

Tot dusver is 56 sulke skagte reeds geseël en nog 26 skagte aan die Wes-Rand sal op dieselfde manier toegemaak word.

LP’s het gehoor hoe onwettige mynbedrywighede dikwels gepaard gaan met ander misdaad soos statutêre verkragting, gewapende roof en moord met ongelisensieerde hoëkaliberwapens. Onwettige myners verwyder ook stutpale ondergronds wat lei tot die ontstaan van sinkgate.

Altesame 210 mense is aangekeer sedert die aanval op 28 Julie plaasgevind het. Almal staan tereg op aanklag van die oortreding van die Wet op Immigrasie. Een van hulle is ʼn 16-jarige seun wat saam met 13 ander mans ook op ʼn aanklag van verkragting en gewapende roof tereg staan.

Die komitee het die Krugersdorp-polisie geloof vir hul vinnige optrede ná die voorval en het ʼn beroep op hulle gedoen om met gemeenskappe in die gebied saam te werk. “Borgtog behoort nie aan die verdagtes toegestaan te word nie en hulle behoort ʼn swaarder vonnis opgelê te word. Ons hoop die volgende keer wat ons Krugersdorp besoek, vier ons hulle lewenslange vonnisse,” sê Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie.

Sy sê onwettige mynbedrywighede het “ongetwyfeld ʼn ernstige bedreiging vir nasionale veiligheid begin inhou”.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het die gebrek aan genoeg immigrasiebeamptes en korrupte amptenare in sy departement as sommige van die uitdagings wat met onwettige buitelanders verband hou, uitgewys.

Volgens die minister het maatreëls soos die inwerkingstelling van die Grensbestuursowerheid en die ontplooiing van grenswagte reeds ʼn positiewe uitwerking.

Die komiteelede sal aanbevelings in ʼn gesamentlike verslag vir bespreking aan die parlement voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

domheks ·

Goed en wel om die myne te seel. Maar WIE koop die goed by die onwettige myners. Vang die klein vissies en die groot kokkedoor sit lekker agteroor!

Harley Davidson ·

Beveilig die landsgrense dan sal daar nie so ‘n probleem in sa wees nie

007 ·

Moenie die myne seël nie gooi klom dinamiet in die skag af en sluit dit permanent. Maar wag eers dat daar klom Zama Zamas binne is. Geen deportasie fooie of vervoer benodig nie.

Di ·

Dis nou te laat om wakker te skrik!!!! Daar is reeds miljoene onwettig in die land danksy al die korrupte beamptes wat op die grensposte werk en NOG STEEDS daar werk! Dan praat ons nie eers van die hordes korruptes amptenare wat by binnelandse sake werk nie. Hoe spoor jy hierdie miljoene op wat in die land is? Die hele land is gevul met korruptes wat in poste sit

Swerwer ·

Haai skrik die Regering nou eers wakker. Dit is net onopgevoede wesens wat in plekke gaan krap waar hul nie hoort nie.

Althes ·

Hoekom kom ministers nie hul pligte na nie? Is hul nie veronderstel om ‘hands on’ te wees met probleme wat geskep word by bv die onwettige myning nie, en dat inwoners vir hul lewens vrees deur zamas wat met vuurwapens oor hul grond beweeg?
Noudat daar ñ massa verkragting was, skrik die politici wakket.

Michael ·

Dit sal nooit verander nie. Die polisie, regering en mynmaatskappye werk saam die onwettige myners. Daar is derderduisende van hierdie werkers ondergronds-ook by myne wat tans in bedryf is. Gaan kyk en luister na Isak du Plessis se gesprek met Louis Nel ‘n veilgheidskenner wat al jare hierdie onwettige bedrywighede ondersoek. Die paar inhegtenisnemings en maar net om die publiek te paai.

Lillian ·

Dit gaan oral so vir jare al, nou skielik skrik die regering wakker. Too little, too late.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.