Ongetoetste water in Hammanskraal verkoop

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Bewerings doen die ronde dat ongetoetste water in die cholera-geteisterde Hammanskraal verkoop word. Dít ondanks die kwessie dat 21 mense reeds weens besmette water dood is.

Die Tshwane-metro sê hy het onlangs kommerwekkende nuus van gemeenskapslede gekry dat daar watertenkwaens in die gebied is wat water aan inwoners verkoop.

Die metro sê egter dié water is nie getoets nie en maan dat dit onveilig vir menslike verbruik is.

Selby Bokaba, woordvoerder van die metro, sê Tshwane verskaf drinkbare water aan gemeenskappe van formele en informele gebiede in Hammanskraal – teen geen ekstra koste nie.

“Die water wat deur die metro se gemagtigde tenkwaens verskaf word, is veilig om te drink nadat ʼn reeks toetse wat uitgevoer is, bevestig het dat dit nie cholera bevat nie,” sê sy.

Lede van die Tshwane Metropolisie (TMPD) is reeds na Hammanskraal ontbied en sal alle watertenkwaens wat nie ʼn permit het nie, verwyder.

“Enige oortreders wat ongetoetste water sonder ʼn permit verkoop, sal in hegtenis geneem en strafregtelik vervolg word.”

Inwoners word aangeraai om die registrasienommers van die tenkwaens wat water verkoop by die TMPD by 012 358 7095/6 aan te gee.

Die uitbreking van cholera het verlede week aan die lig gekom toe tientalle mense by die Jubilee-distrikshospitaal met simptome van diarree, maagkrampe en braking aangemeld het.

Minstens 21 mense het sedertdien weens cholera gesterf.

Die metro het reeds die water getoets by verskillende waterverspreidingspunte, waaronder brandkrane en reservoirs, en die resultate het nog nie gewys dat daar cholera in hierdie waterbronne teenwoordig is nie.

Die toetsresultate van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) wat die werklike bron van die uitbreking sal bepaal, is egter nog uitstaande.

“Die metro wil weereens inwoners daaraan herinner om nie kraanwater vir drinkdoeleindes te gebruik nie, maar eerder net om toilette te was, skoon te maak en te spoel,” sê Bokaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.