Onnie mag appelleer teen skuldigbevinding

Annelise Boot (Foto: Annelise Boot/Facebook)

Annelise Boot (55), ʼn onderwyseres van Centurion wat verlede jaar skuldig bevind is op aanklag van die aanranding van ’n 12-jarige seun, mag appèl aanteken op die skuldigbevinding en vonnisoplegging.

Die distrikshof in Pretoria het verlede jaar in April bevind dat Boot, ʼn voormalige onderwyseres by die Springvale Primary School, ʼn gr. 6-leerder van dié skool in Februarie 2020 gewurg en geskop het. Sy is in Oktober 2021 ʼn boete van R10 000 of 10 maande tronkstraf opgelê. Sy het die boete kort ná haar vonnis in die landdroshof in Pretoria betaal en dieselfde dag teruggekeer huis toe.

Boot het voor dieselfde landdros ʼn aansoek om verlof tot appèl gebring. Sy het volgehou dat sy onskuldig is op aanklag dat sy die 12-jarige seun aangerand het. Die landdros het egter die aansoek van die hand gewys.

Die enigste opsie was om ʼn petisie regstreeks aan die regterpresident van die hooggeregshof te rig.

Boot se regsverteenwoordiger, dr. Llewellyn Curlewis, het Saterdag aan Maroela Media gesê twee regters in die hooggeregshof het die petisie bestudeer en verlof tot appèl teen Boot se skuldigbevinding en vonnisoplegging toegestaan.

“Dit is baie goeie nuus vir ons,” voeg Curlewis by. “Die twee regters sou nooit op petisie verlof tot appèl toegestaan het as hulle nie gedink het daar bestaan ʼn redelike kans op appèl nie.”

Volgens Curlewis is dit ook ʼn bevestiging dat die landdros “grof gefouteer” het in haar uitspraak.

Hy sê dit is nie die eerste geval waar onderwysers deur leerlinge aangerand word nie. “Soveel onderwysers het al by ons gekla dat dit met hulle gebeur het, maar durf nie iets daaromtrent doen nie, uit vrees dat hulle as die aanranders uitgekryt sal word of dat dit selfs as ʼn rasse-voorval beskryf sou word.”

Curlewis het in sy betoog voor die uitspraak gesê dit sou fisies nie vir Boot moontlike gewees het om die kind aan sy nek teen die muur op te tel nie, as mens kyk na die verskil in liggaamsbou. Die mediese verslag het boonop ook nie enige beserings of kneusplekke aan die seun aangedui nie.

“Boot was ʼn mentor vir leerders. Dit is ʼn tragedie dat sy weens dié voorval die onderwys verlaat het. Sy was ʼn departementshoof met dekades se ondervinding.”

Curlewis sê stukke sal nou weer geliasseer word vir die appèlaansoek en die direkteur van openbare vervolging sal die datum bepaal wanneer die saak aangehoor word.

Maroela Media het vroeër berig Boot is aanvanklik van aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla, maar dié aanklag is later net na aanranding verander. Boot het aangevoer dat sy uit selfverdediging opgetree het toe die seun haar in ʼn woedeuitbarsting wou aanrand. Curlewis het destyds gesê die seun is  ʼn “probleemkind met ʼn baie lang geskiedenis van gedragsprobleme”, en dat dit ook tydens die hofsaak uitgewys is. “Dit is ook nooit deur die staat betwis nie. Hy het boonop vantevore al verskeie ander onderwysers en leerders met die dood en aanranding gedreig.”

Hy het bygevoeg sy kliënt het haarself beskerm deur die seun vas te druk, en dat sy die leerder ook teen homself wou beskerm aangesien hy glo sy eie kop “uit woede teen die vloer gekap het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snowball ·

Psigopatiese gedrag, kompulsiewe leuenaars en verskeie persoonlikheidsafwykings manifesteer al vroeg by kinders en onderwysers word dikwels aan hierdie gedragsprobleme blootgestel voordat hierdie kinders gediagnoseer word. Tragies dat iemand se loopbaan in die slag gebly het omdat so ‘n probleemkind nie lankal vir berading en sielkundige behandeling identifiseer is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.