‘Ons sleep g’n voete met tender terwyl kankerpasiënte ly’, sê departement

Die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. (Argieffoto: Masego Mafata/GroundUp)

Die Gautengse departement van gesondheid ontken verdoemende bewerings in die media dat hy voete sleep met die finalisering van ʼn tender vir die uitkontraktering van bestralingsdienste vir bors- en prostaatkankerpasiënte.

Die departement hou vol die tender – wat in Oktober geadverteer is – is in ’n “gevorderde stadium” van finalisering.

Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, sê die betrokke tender is op 20 Oktober verlede jaar geadverteer en aansoeke het op 3 November gesluit.

“Die departement het op 21 November 2023 met die evaluering van die tender begin en op 16 Januarie 2024 daarmee klaargemaak. Die departement wag tans is op die eerlikheidsouditeur se oorsig oor die integriteit van die tenderproses.

“Hoewel die departement die dringendheid en belangrikheid van die afhandeling van die verkrygingsproses verstaan om te verseker dat pasiënte die nodige sorg ontvang, is dit noodsaaklik om daarop te let dat die regering se voorsieningskettingprosesse gevolg moet word, soos uiteengesit in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

“Die Gautengse departement van gesondheid kan getuig daarvan dat die evalueringsproses deeglik en noukeurig was om te verseker dat die beste moontlike diensverskaffer gekies word,” sê Modiba.

Die antwoord volg op die bewerings dat nagenoeg 3 000 pasiënte wat vir kanker by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg behandel word, ly omdat ʼn behandelingsooreenkoms met private hospitale glo nie gefinaliseer is nie.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder van gesondheid in Gauteng, het vroeër vandeesweek gesê die provinsiale departement van gesondheid het nog geen inligting oor die tender verskaf nie en in hierdie stadium is dit onduidelik of die tender wel al toegeken is.

Maroela Media het vroeër berig R784 miljoen is verlede jaar begroot om die agterstand in chirurgiese en bestralingsonkologiedienste hok te slaan.

Modiba sê nou R534 miljoen van hierdie bedrag sal tydens die huidige boekjaar aan toerusting soos die nuutste lineêre versnellermasjiene en die bou van bunkers vir sommige van die masjiene bestee word.

“Daarbenewens is R250 miljoen bewillig vir die uitkontraktering van die bestralingsonkologietender wat in ʼn gevorderde stadium van finalisering is.

“Die Gautengse departement van gesondheid verwerp enige vals en misleidende aansprake wat oor die beweerde vertragings publiseer word en verseker die publiek dat voorsiening van hoë gehalte gesondheidsorgdienste vir alle pasiënte in Gauteng ons hoogste prioriteit bly,” sê Modiba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Samuel ·

Na al die jare van betrokkenheid by staatstenders, het ek nog nooit gehoor van ‘n eerlikheidsouditeur nie. Met die kaders kan dit seker ook nie anders nie.

Anel ·

Maar hulle wil die ngs stoomroller!!! Vir alles word daar gesê dat die onderhandelings in ‘n gevorderde statium is. Maar hoor nooit dat dit afgehandel is nie. As hulle nie eens die een hospitaal met sy een afdeling kan ondehou nie hoe wil hulle die res van die lan se wanfunksionele hospitale op standaard bring? Of dink hulle nou dat hulle maar net van die privaat mediesesorg kan gaan gebruik? Hulle kan dan nie eens betaal word nie!!!!

tweeling ·

En die onderhandelinge vir beëindiging van e-tol is ook in ‘n gevorderde stadium jare na gesê is dit gaan stop. Julle is onbevoeg in alles!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.