‘Ons trane sal jou landerye water gee’

‘n Groot foto van Willem Kruger is voor in die stoor geplaas (Foto: Skermskoot)

“Ons trane sal jou landerye water gee.”

Só het Johan van Huyssteen namens die familie van Willem Kruger (29) gesê tydens dié jong boer se roudiens wat Dinsdag op die Krugers se familieplaas Doornpan in die Marble Hall-omgewing in Limpopo plaasgevind het.

In ʼn stampvol stoor op die plaas – wat eens dié jong boer se hemel op aarde was – is Kruger roerend gegroet.

Voor in die stoor is ʼn groot foto van Kruger geplaas, waar geliefdes ná die roudiens vir hom blomme neergelê het om finaal afskeid van hul “sagte reus” te neem.

Kruger het op 13 November spoorloos verdwyn nadat hy ʼn ramparty by Henbase Lodge in Mpumalanga bygewoon het. Ná ʼn soektog van meer as ʼn week is sy liggaam in sy bakkie in die Vaalrivier gekry.

Willem Kruger se voertuig word uit die Vaalrivier getrek. (Foto: JP von Benecke/Facebook)

Kruger se verdwyning en die soektog was op almal se lippe, met mense van heinde en ver wat gebid het dat hy ongedeerd gevind sou word.

“Willem het dit reggekry om die wêreld weer op sy knieë te bring en weer bewus te raak van God,” het ds. Christo Jooste tydens die roudiens gesê.

“Hy is te vroeg weggeneem, maar het in sy kort lewe baie vermag. Hy het nog soveel gehad om te doen. Soveel dinge om te sê. Soveel lande om te plant. ’n Laaste drukkie en ʼn laaste ‘ek is lief vir jou’. Sy glimlag is nou net vasgevang op ʼn foto. Sy stem en lag het stilgeword.”

“Al verstaan ons dit nie nou nie, sal dit eendag sinmaak.”

Kruger se oom, Eben, het in ʼn huldeblyk aan Kruger gesê dat die familie nie sal rus voordat die legkaart rondom Kruger se dood sinmaak nie.

Groot leemte

Willem Kruger word sedert Sondagoggend vermis. (Foto: Facebook)

In die begrafnisbrief skryf Kruger se ouers, Tian en Stephanie, dat hul geliefde seun se dood ʼn groot leemte laat.

“My ysterperd. My bul. Ek kan nie beskryf hoe ongelooflik trots ek op jou is nie. Jy het so baie beplan en het so baie doelwitte gehad. Jy los ʼn ongelooflike leemte in my lewe en ek gaan jou ontsettend baie mis. Ek weet jy is rustig en veilig by ons hemelse Vader. Jou sielsgenoot, Pa,” skryf Tian.

Kruger se ma skryf dat hulle Kruger by geboorte amper verloor het.

“Maar jy is as wonderwerk vir ons vir 29 jaar geleen. Daar was ʼn groter plan met jou lewe. As ek my seun moes opoffer om ʼn paar mense na God te lei, berus ek daarby.”

Eben het in sy huldeblyk gesê die familie se harte is stukkend oor sy heengaan en dat hulle hom nooit sal vergeet nie.

Volgens Eben glo hy die familie sal weer die stukkies optel en sonder Kruger nuwe planne maak en drome nastreef.

“Ons glo sy drome sal nou deur sy sussies, swaers en kinders realiseer.”

‘n Gesinsvriend Stanley van der Burg sê hy sal Kruger onthou vir sy “grootse glimlag” en dat hy ’n “ware heer was, gevul met liefde”.

“Tydens die soektog het sy vriende en hul pa’s onverpoos na hom gesoek. Almal was baie lief vir hom.”

Van der Burg sê Kruger was hardwerkend en het soggens 05:00 al opgestaan om in die lande te gaan werk.

“Die woorde ‘nee’ en ‘môre is nog ʼn dag’ was nie in Willem se woordeskat nie.”

Willem en sy twee susters, Melissa en Danelle (Foto: Melissa Viljoen, Facebook)

Kruger het BCom Rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer en was in Sonop-koshuis. Hy was lief vir gholf, rugby en tennis en het ook graag gejag.

Sonop se koshuisvader, Tonie Viljoen, het in sy huldeblyk gesê honderde “oud-Sonoppers” het ná Kruger se verdwyning vir hom gebid.

“Ons treur nou saam met sy familie, want dit is ʼn geweldige verlies. Ons dank die Here vir die besonderse, goeie jong man wat Willem was en die besonderse nalatenskap wat hy agterlaat,” sê Viljoen.

Viljoen sê hy onthou hoe Kruger as ’n skugter eerstejaar deel van die koshuis geword het en as gebalanseerde en beginselvaste man die koshuis verlaat het.

Kruger word oorleef deur sy ouers en twee susters, Melissa Viljoen en Danelle Verwey.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lizelle ·

Dit is vreeslik hartseer, ek kan myself nie eers indink nie. Sterkte aan die familie, mag jul vertroosting vind.

Groen Ghoen ·

Ai, tragies. Mag sy familie inderdaad die ontbrekende stukke van die legkaart inmekaar pas en berusting vind. Maklik sal dit nie wees nie.

Blikke ·

Ek vertrou dat die ontbrekende stukke van die legkaart wel die hele prent sal duidelik maak…dit mag dalk tyd neem……maar dit SAL gebeur!!

Mariaan ·

Hierdie was darem n hartseer storie..sterkte vir hierdie familie verder…dis darem wraggies n seer pad om te stap..ai

Hannelie ·

So ‘n mooie jong man. Baie sterkte en liefde word sy gesin toegebid.

Sonblom ·

Om die roudiens in Willem se plaas se stoor te gehou het, is die mooiste gebaar. Baie sterkte aan almal wat lief was vir Willem met die pad vorentoe.

WILLEM ·

Om ‘n kind te verloor is nie maklik nie, dis onverstaanbaar, maar dis die werklikheid.
Lees Johannes 6: 40 vir troos.

Papsak ·

Ek kan my in dink hoe hierdie ouers moet voel maar ons is almal net geleen ons gaan almal weer terug huis toe geroep word ek ook n seun my alles sterkte aan sy ouers eerstens en sy familie ons dink aan julle sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.