Onsekerheid heers of Denel weermag kan ondersteun

Denel. (Foto: Maroela Media)

Groot onsekerheid heers of die sukkelende Denel die vermoë het om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) tot so ʼn mate te kan ondersteun dat die land ʼn werkende weermag, met werkende toerusting, kan hê.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor verdediging is boonop bekommerd dat die wapenvervaardiger stagneer, veral op terreine soos nuwe verdedigingstegnologie.

Die komitee het vandeesweek met die twee entiteite vergader in ʼn poging om die kommer te bespreek en daadwerklike stappe te doen.

Cyril Xaba, medevoorsitter van die komitee, sê benewens die ingrypings wat reeds gemaak is, is hy bekommerd dat Denel nie die weermag verder kan ondersteun terwyl hy besig is om sy omkeerstrategie te implementeer om hom weer op die been te kry nie.

Soveel as R3,1 miljard is reeds aan Denel toegeken vir die nodige toerusting en tegnologie om sy interne en eksterne bedrywighede te verbeter, asook om die weermag se vlootverdedigingstelsels te herstel en in stand te hou.

“Ons is bekommerd dat daar ʼn oënskynlike verskil is tussen die verwagtinge van die SANW en Denel se vermoë om broodnodige toerusting in stand te hou en te verseker dat die weermag gereed is om sy nasionale veiligheidsmandaat uit te voer,” sê Xaba.

Die komitee het vroeër vasgestel dat die weermag ʼn groot gebrek aan onderdele vir van sy toerusting het, wat sy vermoë om sy mandaat uit te voer erg belemmer. Die gebrek aan geskikte en moderne wapens, vervoermiddels en ander boordnodige toerusting het boonop ʼn negatiewe impak op die moraal van soldate.

“Ons is van mening dat Denel ʼn sentrale rol speel in die handhawing van die verdedigingsbedryf, vir die behoud van werksgeleenthede en om meer werksgeleenthede te skep,” sê Xaba.

“Daarom het die komitee gevra dat die omkeerstrategie ten volle geïmplementeer word om te verseker dat die weermag voortaan nodige ondersteuning kry.

“Wat finansiering van binnelandse verdedigingsnavorsing en -ontwikkeling betref, ondersteun die komitee verdere belegging in verdedigingsnavorsing, veral in die benutting van tegnologiese vermoëns.”

Xaba gee toe dat die entiteite nie konsensus op al die gebiede bereik het nie, maar nietemin onderneem om werkbare oplossings vir al hulle uitdagings te kry.

Verdere vergaderings sal ook belê word sodat van die moontlike oplossings wat gegee is, geassesseer kan word.

Die komitee het intussen onderneem om sy rol as toesighouer oor die navorsing en ontwikkeling van verdedigingstegnologie te verskerp om eindelik kwaliteitprodukte aan die weermag te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.