Onthou, petrol en diesel styg vanaand

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Reeds vuisvoos verbruikers moet hulle staal vir die brandstofverhogings wat Dinsdag om middernag in werking tree.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het die wysigings aan die brandstofprys Dinsdag aangekondig. Dit geld van Woensdag af.

Suid-Afrika se brandstofpryse word maandeliks aangepas, gegrond op internasionale en plaaslike faktore.

Volgens Mantashe het die internasionale prys van petrol, diesel en paraffien tydens die tydperk onder hersiening toegeneem en het die rand swakker teen die dollar vertoon.

Gevolglik word die volgende aanpassings gemaak:

  • Petrol (93) is 29c per liter duurder
  • Petrol (95) is 26c per liter duurder
  • Diesel (0,05% swael) is 42c per liter duurder
  • Diesel (0,005% swael) is 41c per liter duurder
  • Paraffien is 48c per liter duurder
  • Gas word 63c/kg duurder

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond UASA, sê die stygings gaan weereens die armstes in Suid-Afrika benadeel.

“Dit sal die prys van voedsel en ander noodsaaklikhede beïnvloed en sodoende die rug van armer gemeenskappe breek.”

Moyo sê diegene wat afhanklik is van paraffien vir beligting en verhitting gaan voortaan sowat R60 per maand meer betaal indien hulle twee liter per dag gebruik.

“Ons is in die middel van winter en ondanks dié styging en ons land se hoë werkloosheidsyfer gaan daar meer druk op broodwinners met beperkte inkomste wees.”

Maroela Media het vroeër berig dat die Automobiel-Assosiasie (AA) van mening is dat die Suid-Afrikaanse ekonomie daaronder gaan lei indien die rand verder verswak terwyl die prys van olie bly styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gato ·

Hoe lank is die regering nou al besig om te kyk na die prysbepalings meganisme vir brandstof? Dit is soos iemand anders gesê het die regering werk op n kalender en nie n horlosie nie. Alles vat jare om afgehandel te word, indien ooit.

Rooikoos ·

Ek glo eerlikwaar hulle kyk nie daarna nie. Die soustrein kort seker weer brandstof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.