‘Onthul maatskappy wie se werkers in Krugersdorp verkrag is’ – ActionSA

Herman Mashaba, leier van ActionSA. (Foto: ActionSA)

Die leier van ActionSA dring daarop aan dat die naam van die onderneming wat betrokke was by die verfilming van ʼn musiekvideo in Krugersdorp waar agt vroue aangeval, beroof en verkrag is, aan die publiek bekend gemaak word.

Herman Mashaba het in ʼn skrywe aan polisieminister Bheki Cele en lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris van Gauteng, versoek dat die naam van die onderneming eersdaags bekend gemaak word.

ActionSA het Cele en Mawela sewe dae gegee om die onderneming se identiteit te onthul.

“Indien dit nie gebeur nie, behou ons ons die reg voor om ons eie middele te gebruik om hierdie produksiemaatskappy aan die kaak te stel,” sê Mashaba.

Volgens die party moes die betrokke onderneming die nodige veiligheidsmaatreëls getref het voor die aanvang van die verfilming van die video om te verseker dat sy werknemers beskerm is.

“Die maatreëls was veral noodsaaklik aangesien die gebied waar die verfilming plaasgevind het, berug is vir sy gevaarlike en onwettige aktiwiteite.”

Mashaba het bygevoeg dat ActionSA die privaatheid van die verkragtingslagoffers te alle tye respekteer, maar voel dat die betrokke onderneming nie dieselfde reg tot privaatheid moet geniet nie.

“[Die onderneming] se bedrywighede moet dadelik opgeskort word hangende die uitkoms van ʼn ondersoek na die maatreëls wat deur die onderneming getref is om sy werknemers te beveilig,” sê hy.

“Ons hoop dat hierdie aangeleentheid veral tydens Vrouemaand die nodige aandag sal geniet wat dit verdien.”

Mashaba het opnuut sy afgryse oor die dag se gebeure uitgespreek en meen dat alle pogings om soortgelyke voorvalle te verhoed, verskerp moet word.

“Die voorval het plaasgevind deur ʼn ongelukkige sameloop van gebeure en die betrokke onderneming moet aanspreeklik gehou word as daar wel bevind word dat alles moontlik nie gedoen is om die vroue te beskerm nie.”

Inwoners van Kagiso in Krugersdorp het die afgelope week uiting aan hul woede oor die voorval gegee deur onwettige burgers en sogenaamde zama‑zamas wat aan die gemeenskap bekend is, te teiken.

Een persoon is reeds weens die oproerigheid dood, maar honderde onwettige myners is intussen in die gebied in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Julle benader die sitsuasie verkeerd ,alle plekke in die land moet veilig wees baklei die polisie dit is hulle werk om seker te maak dat daar nie onveilige plekke in die land is nie.

Jean ·

Daar het seker meer as 20-30 mense opgedaag wat deel was van die vekragters, al het die maatskappy veiligheidswagte gehuur sou dit te min wees.

miche ·

Gaan alle werkgewers nou aangevat word oor die Regering se onvermoë om wet en orde in ‘n misdaadhool te handhaaf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.