Ontploffing: Liggaam onder motor in Jhb gekry

Die ontploffing het Woensdag (19 Julie 2023) die middestad van Johannesburg geruk. (Foto: SAgovnews/Twitter)

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, sê die liggaam van ʼn man is in die vroeë oggendure in Breestraat aangetref nadat ʼn ondergrondse ontploffing die vorige dag dié deel van Johannesburg geruk het.

Volgens Lesufi is die slagoffer se liggaam op die hoek van Bree- en Joubertstraat gevind.

“Terwyl wetstoepassingsowerhede besig was om die voertuie in die gebied te verwyder, het hulle die liggaam van ʼn man onder een van die motors aangetref,” sê hy.

“Die oorledene is nog nie geïdentifiseer nie en die polisie probeer sy naasbestaandes opspoor.”

Teen Donderdagoggend het die getal beseerdes weens die ontploffing op 48 gestaan.

“In hierdie stadium is daar nog 12 pasiënte in die hospitaal; die res is reeds ontslaan.”

Chaos in middestad

(Foto: @SaxXaba/Twitter)

Chaos het Donderdagoggend in die middestad geheers nadat verskeie strate afgesper is. Honderde motoriste en pendelaars moes van alternatiewe paaie gebruik maak om by die werk te kom en dit het tot groot vertragings en verkeersopeenhopings gelei.

“Die padsluitings is ʼn groot hoofpyn omdat Breestraat een van die besigste strate in die middestad is,” sê Lesufi.

Ondanks die chaos is die middestad wel vir die publiek toeganklik.

“Die metropolisie en die polisie bestuur die padsluitings en beveilig die toneel,” sê hy.

Nog wetstoepassers sal na verwagting deur die loop van die dag na die toneel gestuur word.

Mense was Woensdag stomgeslaan toe ʼn ontploffing die oppervlak van Breestraat oopgekloof het.

Daar is aanvanklik vermoed dat die skade weens ʼn ontploffing van ʼn ondergrondse gaspypleiding veroorsaak is. Die gasmaatskappy Egoli Gas het egter reeds gesê dat sy pyplyne nie enige skade opgedoen het nie, behalwe vir ʼn lekkasie wat aan een van sy laedruk-pyplyne opgemerk is.

Lesufi sê daar is kenners op die toneel om te help bepaal of die ontploffing wel aan gas toegeskryf kan word, aangesien daar steeds ʼn gasreuk in die lug hang.

“Al die maatskappye wat gaspyplyne in die stad het, soos Egoli Gas en Sasol, is op die toneel, asook enigiemand anders wat ʼn ondergrondse pypleiding of kabels het, soos Telkom en City Power,” sê hy.

“Hierdie spanne gaan ons help bepaal wat tot die ontploffing aanleiding gegee het, en wat die pad vorentoe is.”

City Power het reeds drie van sy substasies afgeskakel sodat sy infrastruktuur vir enige skade ondersoek kan word. Inwoners wat deur die Bree-, Braamfontein- en Johnware-substasie bedien word se kragtoevoer sal tot verdere kennisgewing onderbreek word.

Lesufi sê die spanne wat verantwoordelik is om die oorsaak van die ontploffing te bepaal het as deel van hulle krisisbestuurbeplanning gesê dat dit moontlik is dat ʼn tweede ontploffing in die gebied kan plaasvind.

“Ons sê nie dit gaan gebeur nie, maar dit is beslis moontlik.

“Intussen doen die spanne alles moontlik – soos om paaie te sluit – om enige lewensverlies te voorkom indien daar nog ʼn ontploffing is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Misky ·

Hulle sê wel ‘n 2de ontploffing is moontlik, maar mense is oral oor die toneel en in geboue steeds. Klink vir my maar baie onveilig en die Boksburg tanker ramp nog vars in almal se geheue……

B-Man ·

My geld is op rioollyn wat onklaar geraak het. Metaan is uiters plofbaar.

Karel Kobus Kruger ·

Kom ons raai hoe lank herstelwerk gaan duur.
Ek raai so Oktober volgende jaar.
Enige ander raaiskote?

annie ·

Lesufi, hoe het ons jou gemis. Darem weer terug op die lug en gebeeldsend in volle glorie. So gepraat: Wat het van die vorige drama geword toe die kêrel met sy tenkwa en al vir sy meisie gaan kuier het en toe sommer kortpad onder deur ‘n brug vat het? Al vergeet? So gedink.

Lubbe ·

Daai hele stad is een groot gemors. Dit is soos om ‘n klapper in ‘n asblik te gooi.

annie ·

Was daar nie reeds tekens van iets vreemds wat aan die gebeur is nie soos grond en teer wat opgebult het, wat nie voorheen so was nie? Maar in SA is nasorg mos gewilder as voorsorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.