Ontruimings in Sydney ná grootste dam oorloop

Mense ry Sondag met hul fietse deur ‘n oorstroomde park aan die oewer van die Nepean-rivier in die voorstad Penrith. (Foto: Saeed KHAN / AFP)

Die Australiese stad Sydney staal hom vir sy ergste oorstromings in dekades nadat rekordreënval sy grootste dam Saterdag laat oorloop het.

Talle mense aan die Australiese ooskus is aangesê om die gebied te ontruim weens dreigende vloede.

Die nooddienste in Sydney het versoek dat inwoners in laagliggende gebiede aan die noordwestelike rand van die stad na veiligheid moet vlug nadat die owerhede mense gewaarsku het oor ʼn potensieel “lewensgevaarlike” situasie in die staat Nieu-Suid-Wallis.

Dít volg nadat die Warragambadam, wat ʼn groot deel van Sydney van drinkwater voorsien, Saterdagmiddag oorgeloop het. Amptenare het intussen ook gewaarsku dat die Hawkesburyrivier na verwagting sy hoogste vlak sedert 1961 kan bereik.

’n Gedeeltelik oorstroomde pad naby Warragamba-dam in Sydney. (Foto: Saeed KHAN / AFP)

“Dit is een van die grootste oorstromings wat ons waarskynlik in ʼn baie lang tydperk sal sien,” het Justin Robinson, bestuurder van vloedaangeleenthede van die Buro vir Meteorologie, gesê.

Vloedwaters het reeds in verskeie gebiede gestyg, wat massa-ontruimings tot gevolg gehad het. Volgens amptenare kan nog 4 000 mense in die komende dae aangesê word om hul huise te verlaat.

Die owerhede het inwoners versoek om gehoor te gee aan die “tientalle” amptelike waarskuwings in die betrokke gebiede. Mense het reeds Saterdag na ontruimingsentrums in dorpe noord van Sydney begin stroom nadat stortreën oor ʼn uitgestrekte kusstreek uitgesak het wat reeds deurdrenk was tydens ʼn buitengewoon nat somer.

Gladys Berejiklian, premier van Nieu-Suid-Wallis, het ʼn nasionale ramptoestand verklaar en gesê die staat beleef ʼn “een-keer-in-100-jaar-gebeurtenis”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karlahari ·

Wat laat my dink daai 3 op die fietse is Suid Afrikaners……?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.