‘Onttrek ons manne uit DRK’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die onlangse aanval op Suid-Afrikaanse weermaglede in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) laat die vraag ontstaan of dié land se veiligheid nog hoegenaamd ons weermag se prioriteit behoort te geniet.

Krygskenners meen die meer as ʼn duisend Suid-Afrikaners in die DRK behoort onttrek te word en óf in Mosambiek – ’n land waar Suid-Afrika meer belange het – ontplooi te word óf huis toe kom en die land se grense te beskerm.

Maroela Media het vroeër berig ’n aanval op ’n Oryx-helikopter onderweg van Beni na Goma het verlede naweek die lewe van ʼn vlugingenieur van die SANW geëis. Die ingenieur is in die bors getref terwyl ʼn bevelvoerder in die skouer geskiet is. Die bevelvoerder is ná die aanval in ʼn kritieke toestand hospitaal toe geneem.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê Suid-Afrikaanse soldate word al jare lank veral na die ooste van die DRK ontplooi om te verhoed dat die onstabiliteit daar suidwaarts beweeg en eindelik na Suid-Afrika oorspoel.

Prof. Abel Esterhuyse van die Fakulteit Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) verduidelik Suid-Afrika se militêre teenwoordigheid in die DRK só: “Suid-Afrika kan nie ’n eiland van stabiliteit in ’n see van onstuimigheid in die res van Afrika wees nie.”

Hy sê egter sedert 1990 het Afrika grotendeels die see van stabiliteit en Suid-Afrika die eiland van onstabiliteit geword, “wat beteken ons moet ons eie huis in orde kry”.

Esterhuyse glo die Suid-Afrikaanse regering het dus ’n moeilike besluit om te neem. “Daar moet ’n goue middeweg tussen hierdie twee realiteite gevind word … Ek kan nie sien dat die besluit vinnig geneem gaan word nie.”

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: ANA)

Daar is tans 1 198 soldate van die Suid-Afrikaanse weermag in die DRK ontplooi as deel van die Verenigde Nasies (VN) se vredesmag Monusco.

Sowat R1 miljard is tot einde Maart vir dié soldate se ontplooiing begroot, aldus die jongste magtigingsbrief vir die verlenging van die ontplooiing deur pres. Cyril Ramaphosa.

Dié magtiging, wat Maroela Media onder oë gehad het, is in April verlede jaar deur die president onderteken. Ramaphosa sal na verwagting in Maart weer die soldate se betrokkenheid by die stabiliseringsmissie in die DRK verleng.

Daar is tans vyf Oryx-helikopters van die SANW in die DRK, waarvan drie in Goma. Die ander twee is in die suide van die land gestasioneer. Daar is ook drie Rooivalk-aanvalshelikopters op die lughawe in Beni in die noorde gestasioneer.

Een Oryx -helikopter en een Agusta-helikopter is in Cabo Delgado in die noorde van Mosambiek ontplooi. Net een werkende Rooivalk uit ’n totaal van 11 op die bateregister, is in Suid-Afrika oor.

Luidens die jongste magtigingsbrief is daar tans 1 495 lede van die SANW in Cabo Delgado ontplooi om terreurdade en gewelddadige ekstremiste in die noorde van Mosambiek te bekamp.

‘n Argieffoto van Mosambiek. (Foto: John Wessels/AFP)

Marais sê nou dit maak meer sin om hulpbronne in Mosambiek in te stoot, aangesien die land geografies nader aan Suid-Afrika geleë is. Suid-Afrika het boonop meer belange in Mosambiek. Die gasontginningsprojek in die noorde van Mosambiek kan veral vir Suid-Afrika tot voordeel wees en selfs die land se huidige kragkrisis help pak.

“Dit is dus problematies om net op die DRK te fokus. Die regering behoort meer holisties na hierdie probleem te kyk en te besluit tot watter mate die ontplooiing van soldate in die DRK in die beste belang van Suid-Afrika is.

“Ons primêre verantwoordelikheid is eindelik om ons land se grense te beskerm en die veiligheid van ons mense binne Suid-Afrika te verseker,” herinner Marais. “Mens moet dus besin oor jou eie situasie wat hulpbronne betref en jouself afvra wat is prioriteit en wat kan jy bekostig.

“Indien jy nie meer alles kan doen of bekostig nie – soos ons duidelik nie meer kan nie – moet jy bepaal waarsonder jy kan klaarkom.”

Een van die vrae wat na afloop van die voorval gevra is, is of die geteikende Oryx deur ʼn tweede Oryx óf ʼn Rooivalk-aanvalshelikopter vergesel is. Dit is omdat ʼn Oryx volgens die SANW se beleid nie alleen mag vlieg nie.

Marais sê die VN is nie juis simpatiek teenoor die Suid-Afrikaners se langstaande beleid dat soldate in pare behoort te vlieg nie, aangesien daar meer koste aan verbonde is.

“Ons moet dus ook besin of ons besig is om ons soldate aan onnodige risiko’s bloot te stel. Daar moes nooit toegelaat geword het dat die Oryx alleen gevlieg het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.