Ontvoerde sakeman na 111 dae gered

Ismail Rajah (69). (Foto: Twitter / Yusuf Abramjee)

Die polisie het ʼn ontvoerde sakeman van Kaapstad Woensdagoggend kort na middernag ná 111 dae uit ʼn huis in Khayelitsha gered.

Ismail Rajah (69) is in Maart vanjaar by sy sakeperseel in Parow ontvoer. Hy is die stigter en uitvoerende hoof van die maatskappy Good Hope Construction.

Maroela Media het vroeër berig dat Rajah glo om 11:00 besig was om voor sy onderneming in Joubertstraat te parkeer toe twee gewapende mans uit ʼn Audi Q7 gespring en hom gegryp het.

Sy ontvoerders het hom sedertdien aangehou en ʼn losprys by sy familie geëis. Vier mans is tydens Rajah se redding in hegtenis geneem.

Ismail Rajah (69) was 111 dae aangehou. (Foto: SAPD)

“Die familie was reeds na Dubai onderweg om die losprysbetaling te bespoedig toe die SAPD se nasionale teenkapingstaakspan ingespan is om die voorval te ondersoek,” het kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die span het onmiddellik die spesiale taakmag, georganiseerde misdaadondersoekers en misdaadtoneelkenners gemobiliseer en ook saam met private sekerheidsmaatskappye gewerk. Kort na middernag Woensdag het die span op die geïdentifiseerde adres toegeslaan en die slagoffer gered.”

Volgens die polisie is Rajah ongedeerd en veilig met sy geliefdes herenig.

Die huis waaruit Ismail Rajah (69) gered is. (Foto: SAPD)

Twee Mosambiekers en twee Suid-Afrikaners is op die toneel in hegtenis geneem en sal na verwagting Donderdag in die Parow-landdroshof verskyn. Hulle is almal tussen 30 en 38 jaar oud.

Die polisie het ook beslag gelê op selfone en verskeie toerusting wat glo in die uitvoering van die misdaad gebruik is.

“Die polisie moedig lede van die publiek aan om ontvoerings dadelik aan te meld sodat die polisie ondersoek kan instel, slagoffers kan red en skuldiges in hegtenis neem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Waarom ·

Raak nou so erg soos in Mexiko waar gangsters die land regeer.

philippus ·

Die mense wat regtig die geld in matrasse wegsteek en nie in bank sit sodat die ontvanger dit kan sien nie, is maar op risiko…

Cherokee ·

Flippie, daai sitplek wat vir twee of drie mense gemaak is, word tòg ‘n bank genoem.

Blikkies ·

Nou kom die stryd om hulle agter tralies te hou en ‘n goeie ondersoek doen sodat die Dept van Justisie hulle swaar kan vonnis? Ons sal maar sien of die staat hierdie saak ook op…

christo ·

Dit laat mens dink aan die Polokwane motorhandelaar wie se kinders onlangs ontvoer is. Die gesin het verkies om die losprys te betaal.
Baie ontvoerings word nié eers aangemeld nie, want die risiko van ‘n gyselaarsdrama verkeerd hanteer word deur die polisie, ongevalle veroorsaak.
Die groot vraag is ISIS betrokke is of nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.