Ontvoerde vrou veilig gevind

Anichka Penev (Foto: Facebook)

Anichka Penev (35) van Oekraïne wat Donderdag in Blue Downs, Kaapstad ontvoer is, is veilig gevind.

Maroela Media het vroeër berig Penev is helder oordag voor haar man, Simeon Penev, se maatskappy Nioro Plastics in Ipswitchweg in ’n onbekende motor geboender nadat sy in haar geel Audi R8 voorgekeer is.

Ao. Joseph Swartbooi, woordvoerder van die polisie, sê Penev is Vrydag veilig gevind. “Sy is met haar gesin herenig. Die omstandighede rondom haar ontvoering word nog ondersoek.”

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het eindelik ingestem tot die Stad Kaapstad se versoek dat die polisie van die metro se gespesialiseerde eenhede se dienste gebruik maak en ’n interregeringstaakspan vir ontvoering en afpersing te vorm. Dít nadat tientalle ontvoerings in Kaapstad plaasgevind het.

Anichka Penev se Audi het ná die ontvoering verlate in die straat agtergebly. (Foto: Facebook)

Die Stad Kaapstad het vroeër in ’n verklaring gesê die ontvoering van Anichka “wys ons opnuut daarop dat ons nie kan bekostig om op ons louere te rus nie en dat konkrete en doeltreffende optrede onmiddellik nodig is. Ons beamptes is gereed om ʼn aktiewe en operasionele rol te speel om die SAPD te ondersteun, hierdie misdade te verhoed en te verseker dat skuldigbevindings plaasvind.”

Bheki Cele, minister van polisie, het onlangs as deel van die jongste misdaadstatistieke bekend gemaak dat 32 ander ontvoerings vanjaar tussen Maart en September in die Wes-Kaap alleen aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.