Polisie, metro stem in tot taakspan ná ontvoering

Anichka Penev (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het eindelik ingestem tot die Stad Kaapstad se versoek dat die polisie van die metro se gespesialiseerde eenhede se dienste gebruik maak en ’n interregeringstaakspan vir ontvoering en afpersing te vorm.

Dít nadat die Wes-Kaap se jongste van tientalle ontvoerings vandeesweek in Kaapstad plaasgevind het.

Anichka Penev, ʼn 35-jarige Oekraïense burger, is Donderdag helder oordag voor haar man, Simeon Penev, se maatskappy Nioro Plastics in Blue Downs in ’n onbekende motor geboender nadat sy in haar geel Audi R8 voorgekeer is.

Dit is dae later en Penev is steeds soek, het kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, Sondagoggend aan Maroela Media bevestig. “Die saak word nog ondersoek en daar is geen nuwe verwikkelinge in hierdie stadium nie,” aldus Van Wyk.

Anichka Penev se Audi het ná die ontvoering verlate in die straat agtergebly. (Foto: Facebook)

Die Stad Kaapstad sê in ’n verklaring onder meer die ontvoering van Anichka “wys ons opnuut daarop dat ons nie kan bekostig om op ons louere te rus nie en dat konkrete en doeltreffende optrede onmiddellik nodig is.

“Ons beamptes is gereed om ʼn aktiewe en operasionele rol te speel om die SAPD te ondersteun, hierdie misdade te verhoed en te verseker dat skuldigbevindings plaasvind.”

Maroela Media het vroeër berig Bheki Cele, minister van polisie, het onlangs as deel van die jongste misdaadstatistieke bekend gemaak dat 32 ander ontvoerings vanjaar tussen Maart en September in die Wes-Kaap alleen aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

mattk ·

Was sy nou ñ lid van enige een van die kadergemeenskap dan het Shutup Cele lankal die WK polisie se koppe ge-eis en ñ 72 uur aksie plan sou ingestel gewees het.

Danie ·

Sy afkomstig van ukraine dink nie daar sal veel ondersteuning wees nie.Hoop sy kom veilig anderkant uit.

Moedeloos ·

Dit lyk nie of sy per toeval gekaap is nie. Dit lyk eerder na n beplande kaping

christo ·

JP Smith van Stad Kaapstad is een van die uitstekende raadslede verantwoordelik vir wet en orde in die Metro. Hy is toegewyd en proaktief. Bheki Cele wéét dat JP Smith hom ore aansit en daarom verbied Cele enige samewerking tussen die Stad Kaapstad se wetstoepassingsbeamptes ( alhoewel baie SAPD, Metropolisie en sekuriteitsmaatskappye informeel saamwerk op plaaslike vlak en só mekaar help om misdaad te bekamp). JP Smith het reeds toe hierdie ontvoerings begin kop uitgesteek, met spesialiste van die privaat sektor vergadering sodat hy meer bemagtig word om dié misdaad aan te spreek.
Die SAPD het die vermoë om ontvoerings en gyselaar situasies te hanteer, lankal verloor.
Die meeste ontvoerings en gyselaars dramas word deur professionele privaat onderhandelaars hanteer. Hoekom?
Die SAPD intervensie lei dikwels tot die dood van die gyselaars as gevolg van hulle onbeholpenheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.