Onverwagse handelsbalanstekort vir SA in Junie

Vraghouerskepe in die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

ʼn Daling in uitvoere in Junie vanjaar het ekonome met ʼn handelsbalanstekort van R3,52 miljard. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Maandag die jongste handelsyfers bekendgemaak.

“Nou voer ons wat die handelsrekening én die handelsyfers betref meer in as uit,” wat volgens Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, “glad nie goeie nuus” is nie.

Tekort in syfers

“Ná die surplus [van R9,6 miljard] in Meimaand het almal gedink dat uitvoer weer goed sou presteer in Junie, maar die waarde van al die belangrike uitvoerprodukte het afgeneem wat insluit voertuie en vervoertoerusting, edelmetale, mineraalprodukte en basiese metale,” verduidelik prof. Waldo Krugell van die Noord-Wes Universiteit.

Jaar tot datum het die handelsbalans in 2023 getuimel tot ʼn voorlopige surplus van R5,6 miljard, wat ʼn verswakking is vanaf die R129,6 miljard surplus vir dieselfde tydperk in 2022.

Op ʼn jaar-tot-jaargrondslag het uitvoere in Junie ook afgeneem met 8,3% vanaf R182,9 miljard in Junie 2022 tot R167,6 miljard.

Maand-tot-maand het uitvoer met R15,8 miljard (8,6%) van R183,4 miljard na R167,6 miljard afgeneem tussen Mei en Junie 2023, terwyl invoere met R2,7 miljard (1,6%) van R173,9 miljard tot R171,1 miljard afgeneem het in dieselfde tydperk.

Wat lê agter die tekort?

“Aan die een kant gaan dit oor die stadiger groei van die wêreld-ekonomie en ʼn kleiner vraag na ons uitvoerprodukte. Aan die ander kant is daar beduidende uitdagings om produkte uitgevoer te kry,” verduidelik Krugell.

“Die bottelnekke in spoorvervoer en by hawens het ʼn groot impak op veral mynmaatskappye.”

Die afname in uitvoere is hoofsaaklik toe te skryf aan ʼn afname in uitvoere van ystererts, met ʼn afname van 13% maand tot maand, en voertuie met ʼn afname van 28% maand-tot-maand.

Uitkringgevolge

Omdat ons meer invoer as wat ons uitvoer, beteken dit volgens Roodt ook “dat ons iewers in die buiteland meer geld moet verdien om daarvoor te kan betaal” en ons dus “afhanklik is van buitelandse kapitaalinvloeie”.

Dit bekommer Krugell egter, want “as die ekonomie nie goed vaar nie, vaar maatskappye nie goed nie en is hulle aandele nie aantreklik nie” wat beteken dat ons aandele en skuldinstrumente nie meer so aantreklik vir buitelanders is nie.

Hoe dan gemaak?

“Dit los dan net die skuldinstrumente, maar vir hulle om aantreklik te bly moet rentekoerse relatief hoog bly,” waarsku Krugell.

Op die langer termyn kan dit ontaard in ʼn kringloop van tekort waardeur die rand uiteindelik onder druk geplaas word.

Ná ʼn wisselvallige week het die rand juis Maandagmiddag tot R17,75 teen die dollar verswak, ná ʼn sterker vertoning in Junie.

‘Tweelingtekorte’

Roodt meen dié tekort vind egter plaas in ʼn omgewing van ander groot tekorte wat alles met mekaar verband jou.

“Die tekort op die lopende rekening in samehang met ʼn fiskale tekort staan bekend as sogenaamde tweelingtekorte – in ʼn neutedop beteken dit net Suid-Afrika leef al dieper en dieper in tekorte in om te oorleef.”

Wat kan hieraan gedoen word?

“Ons besighede of beleidmakers kan niks doen aan die groei van die wêreldekonomie nie, maar die logistieke probleme kan aandag kry.

“Dit gaan interessant wees om te hoor watter vordering daar gemaak is wanneer die uitvoerende hoofde wat betrokke is vandag met die president vergader,” sê Krugell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Selfs my finansies begin nou beter lyk as die staat s’n.

Jacobus ·

Die ANC regering is besig om sy eie slagaar af te sny, mag hy vinnig doodbloei.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou moet burgers net belasting boikot. Plaas druk op werkgewers om oorbetalings aan SARS te staak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.