Oom Boggom se stryd teen kanker: ‘Dit kom sit in jou kop’

Ian de Jager, beter bekend as oom Boggom, sê ‘n kankerdiagnose gaan hom nie stuit nie. (Foto: Verskaf)

Hy is bekend daarvoor dat hy sy trop Boggomjane, soos hulle allerweë bekend staan, met sy humoristiese vertellings opbeur. Oom Boggom se staaltjies het menige volgeling – daar is al sowat 46 000 van hulle – se dag al opgekikker, maar deesdae stry Ian de Jager, die man agter oom Boggom, ʼn ander stryd.

Kanker, spesifiek B-sel- chroniese limfositiese leukemie (CLL), is laat verlede jaar by hom gediagnoseer.

“Hier gaan ʼn ou nou maar doodluiters deur die lewe en jy dink nie naastenby so iets sal met jou gebeur nie. In November het ek Covid present gekry en net betyds vir Kersfees, die kanker,” sê hy met ʼn tikkie droë humor.

Dit was ʼn slag.

ʼn Geswelde klier wat net nie wou wyk nie, het De Jager aanvanklik onraad laat vermoed. Hy was etlike dae lank geweldig kortasem, het krampe in sy bene gekry en nagsweet ondervind. ʼn Witbloedseltellingtoets het gewys De Jager se telling was ʼn skrikwekkende 240 000, terwyl die normale telling vir mans tussen 4 500 en 11 000 per mikroliter is.

Op Oukersdag het hy só siek gevoel dat hy by die ongevalleafdeling van die Steve Biko-hospitaal in Pretoria om hulp gaan aanklop het. Medici daar het hom na die onkologie-afdeling verwys. Dit was in daardie stadium gesluit en hy wag nog vir ʼn afspraak by dié eenheid.

De Jager, wat nie ʼn mediese fonds het nie, het hom intussen tot die Back-a-Buddy-platform gewend waar hy ʼn beroep op sy “trop” en ander weldoeners gedoen het om hom finansieel te ondersteun. Dit was vir hom moeilik om hulp te vra, sê De Jager, want hy is “nie ʼn ou wat bakhand staan nie”.

Hy hoop egter om van die geld te gebruik om by ʼn private dokter vir ʼn CT-skandering te gaan sodat die omvang van die kanker presies bepaal kan word. Só ʼn skandering kos sowat R15 000. Dit gaan egter ʼn veel beter aanduiding gee van hoe ver die kanker reeds versprei het en wat die prognose is.

Bang, maar optimisties

Hoewel dit vir hom moeilik was om sy ondersteuners om hulp te vra, was die oproep na sy tweelingseuns – albei 26, skerts hy – om hulle mee te deel dat kanker by hom gediagnoseer is, een van die moeilikste dinge wat hy nóg moes doen. Dit het hulle die afgelope ruk egter veel nader aan mekaar gebring.

“Ek is bang, maar optimisties. Ek wag vir die CT-skandering en as dit wys die kanker is regdeur versprei, kan ek my begin voorberei op die ergste en vrede maak. Indien nie, koop dit darem nog ʼn bietjie tyd.

“Ek het nog ʼn boek in my wat ek die trop al lankal belowe het, so ek moet daai ene klaarmaak. As ʼn ou net min of meer kan weet hoeveel tyd jy het … Jy weet hoe lyk die einde van die boek, ongelukkig. Dit is net hoe lank dit gaan vat.”

Dit voel boonop soms vir hom of hy besig is om sy trop in die steek te laat, “my trop boggomjane, soos ek hulle noem, want hulle is gewoond dat ek elke dag iemand se dag probeer maak. Nou het ek net skielik opgehou, want ek is nog besig om tot verhaal te kom”.

De Jager se ma is in die ouderdom van 51 jaar aan borskanker dood, net ʼn paar jaar jonger as wat hy nou is. Destyds het hy sy stiefbroer vertroos met die woord dat “ma vroeg weg is omdat sy genoeg mense met haar lewe aangeraak het en haar kwota vol was”.

Dalk is dit dieselfde met hom, mymer hy hardop.

Maar dan kom die optimistiese leuse waarvoor hy bekend is: Kyk noord en boggom voort.

Soms is dit egter moeilik en die kanker-diagnose het die wind “so effe” uit sy seile geneem. “As ʼn ou hierdie nuus kry, dis ʼn tawwe een. Om iets te skryf, moet jy in die regte bui wees en as jy sulke slegte nuus gekry het, is jy definitief nie in die bui vir humor nie. Ongelukkig nie.”

Sy trop en sy seuns se emosionele ondersteuning is goud werd terwyl De Jager veg teen dié donker en onbekende vyand; ʼn vyand wat soms dreig om sy kenmerkende sin vir humor te steel. Maar De Jager laat hom nie so maklik beroof nie.

“My leuse is ‘kyk noord en boggom voort’ en daar is eintlik vir my ʼn dubbele betekenis agter dit. Dit is nie net die humoristiese een waar ek een van die woorde van daardie leuse verander het nie. Dit gaan daaroor dat jy jou oë op ʼn doelwit moet rig en net aangaan. Druk deur. Byt vas en druk deur.

“So daai ‘kyk noord en boggom voort’ moet ek self aan glo.”

Intussen gaan hy ook voort om sy handgemaakte vellies te verkoop. Dit is in hierdie stadium maar stil en mense moet sommer baie meer begin stap, skerts hy, sodat hulle hul sole kan deurloop en nuwes by hom kan aanskaf.

  • Luister ook bo-aan hierdie berig na uittreksels uit die onderhoud met De Jager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KhoiKhoi ·

Sterkte!
Ook ‘n kanker “survivor” en was in 2011 gediagnoseer.
Ek in nou betrokke met CANSA en doen gereeld onderhoude op radio, televisie en sosiale media.
Ook ‘n 2022 Global Heroes of Hope verteenwoordiger – ‘n internasionale groep aktiviste assok ‘n ambassador vir die Hollard DAREDEVIL Run.

My boodskap is die volgende “Kankerpasiente is God se witbroodjies, want hulle het tyd om reg te maak met Hom, hulle familie en medemens”.

Sal jou graag wil ontmoet en kyk of ons saam ‘n pad kan stap.

Maroela Media, help asseblief

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.