Oorsese SA’ners kan aanlyn registreer om te stem

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, sal na verwagting in die volgende paar dae kan registreer om aan volgende jaar se provinsiale en nasionale verkiesing deel te neem.

Masego Sheburi, adjunk- uitvoerende hoof van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het vandeesweek in die parlement bevestig dat die aanlyn registrasiestelsel vir kiesers in die buiteland gereed is om oorsese registrasies te ontvang.

Die DA sê hierdie stelsel is deurslaggewend vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland hul grondwetlike reg om te stem wil uitoefen.

“Met byna 2 miljoen burgers wat om verskeie redes oorsee is, waaronder vir studie, werk, vakansie of permanente verblyf, sal hierdie meganisme ongekende geleenthede bied,” sê Ludre Stevens, voorsitter van DA Abroad.

Volgens die OVK sal kiesers oorsee hul Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente benodig om die aanlyn registrasieproses te voltooi.

Gegewe die uitdagings wat Suid-Afrikaners in die buiteland al ervaar het om paspoorte en identiteitsdokumente te laat hernu, het die minister van binnelandse sake onderneem om saam met die OVK te werk om van hierdie kwessies voor die verkiesing uit te stryk.

Die OVK het ook daarop gewys dat nog drie dae in Januarie toegeken gaan word sodat burgers in die buiteland by Suid-Afrikaanse ambassades kan registreer. Die datums vir hierdie registrasie sal nog bevestig word.

“Die DA het al by verskeie geleenthede gepleit vir aanlyn registrasieprosesse, asook die vestiging van bykomende stemsentrums in die buiteland waar daar ʼn groot konsentrasie van Suid-Afrikaners is wat nie naby ʼn ambassade is nie,” sê Sheburi.

“Hoewel die aanlyn registrasie vir oorsese burgers verskeie kere vertraag is nadat dit aanvanklik verlede maand beskikbaar sou gewees het, is dit ʼn welkome stap dat alle burgers die geleentheid sal hê om volgende jaar te stem.”

Die DA het onderneem om burgers in die buiteland op hoogte te hou sodra die aanlyn registrasieproses amptelik beskikbaar gestel is.

Suid-Afrikaners op tuisbodem kan intussen vandag (Saterdag) en Sondag by meer as 23 000 registrasiestasies oor die hele land registreer om te stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.