Oorskot van gevalle soldaat op Waterkloof ontvang

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die oorskot van stafsersant Johan Andries van Rooyen (51) sal Woensdag by die Waterkloof-lugmagbasis aan sy familie oorhandig word.

Die oorskot sal tydens ’n amptelike seremonie oorhandig word. Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, is een van die hooggeplaastes wat die seremonie sal bywoon.

Van Rooyen is Saterdag in ’n hospitaal in Pemba, Mosambiek, oorlede. Hy was by die Mihluri-basis toe hy van erge hoofpyn en borsprobleme gekla het, waarna hy na ’n hospitaal geneem is. Die presiese oorsaak van sy dood is nog nie bekend gemaak nie.

Van Rooyen was as deel van Operasie Vikela in Mosambiek ontplooi en was lid van die 2 Veldgenieregiment in Kroonstad. Hy is op 10 Mei 1971 in Bloemfontein in die Vrystaat gebore en het in 1993 by die weermag aangesluit.

Hy het in verskeie missies van die Verenigde Nasies en die Afrika-unie gedien, onder andere in Burundi, die DRK, Soedan, Angola en Mosambiek. Van Rooyen word oorleef deur sy vrou, dogter en kleindogter.

Modise en genl. Rudzani Maphwanya, hoof van die weermag, het hul innige meegevoel met Van Rooyen se familie, vriende en kollegas betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

RIV. 2 Veld Genie Regiment is in Bethlehem en nie Kroonstad nie.

Prikkie ·

Nou ja, hier in ons eie land is misdaad, boewery, gangsterism, bedrog, geldwassery …… die lys gaan aan, op sy hoogtepunt.

Ons kan nie ons eie “huis” uitvee nie, maar ons gaan om ander se huise uit te vee.

Hennie ·

Modise ‘n hooggeplaasde? Sy is klas A, longdrop inhoud… Kan nie eens vir diere sorg nie…

Miena ·

Innige simpatie aan sy vrou Hannetjie en kinders Elverna & Jessica. Hy het beslis sy Erekode uitgeleef.

Niklaas ·

Ek het altyd gedink “gevalle soldaat” verwys na afsterwe/sneuwel van soldaat in ‘n konflik situasie soos ‘n oorlog skermutseling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.