Oos-Rand dalk nog tot Vrydag sonder krag

(Argieffoto: Unsplash)

Dele van Benoni aan die Oos-Rand kan dalk nog tot Vrydag sonder krag sit nadat ʼn 132 kV‑ oliegevulde kabel verlede week onklaar geraak en woongebiede soos Northmead en Benoni in duisternis gelaat het.

Zweli Dlamini, woordvoerder van die Ekurhuleni-metro, het by navraag aan Maroela Media gesê dat spanne van die metro se departement van energie onverpoos werk om die lekkasie op die lyn reg te stel.

“Die spanne sal vanaf vandag [Dinsdag] die gebiede wat wel krag het in twee dele verdeel. Elk van die betrokke dele sal op ʼn slag vir ses uur nie krag hê nie om die las te verminder sodat die herstelwerk aan die res van die netwerk gedoen kan word,” sê hy.

Die ure lange kragrotasie sal na verwagting vir die res van die week voortduur totdat die kabel herstel is.

“Die kabel sal na verwagting teen Vrydag weer ten volle in werking wees.”

Inwoners sit al vyf dae lank sonder krag weens die lekkasie wat die olievlakke van die betrokke kragkabel kritiek gelaat en die onklaarraking veroorsaak het.

Dlamini het toegegee dat die kraginfrastruktuur in Benoni uiters verouderd is en dat die onklaarraking van die 132 kV‑ oliegevulde kabel wel aan dié veroudering toegeskryf kan word.

Lornette Joseph, ʼn DA-raadslid in die gebied, het vroeër haar misnoeë oor die situasie uitgespreek en gesê dit moes nooit so ʼn punt bereik het waar die kabel heeltemal onklaar geraak het nie, aangesien daar ʼn alarmstelsel is wat daarteen moet waarsku.

Volgens Dlamini was die lekkasie egter van sodanige aard dat die alarmstelsel onvoldoende was.

“Hoewel die alarmstelsel [vir die kabel] beskikbaar is, was die omvang van die lekkasie van so ʼn aard dat die kabel dadelik van die stelsel geïsoleer moes word,” sê hy.

“In ʼn geval waar daar ongunstige toestande is, moet die kragtoerusting van die res van die kragnetwerk ontkoppel word om die veiligheid van die toerusting en die personeel wat daaraan werk, te verseker.”

Hy het bygevoeg dat alarmstelsels normaalweg voordelig is om geringe, eerder as ernstige lekkasies in ʼn kabel aan te dui.

Die metro sê hy is bewus van die voortslepende uitdagings rakende kragtoevoer in Benoni en sy departement van energie is reeds besig om al die oliegevulde kabels te vervang om die kragnetwerk op die dorp te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.