Ooste van Pretoria kan teen Woensdag lig sien

Verskeie komponente van die substasie en die kragnetwerk is weens die brand geraak. (Foto: X)

Die kragtoevoer na dele van die ooste van Pretoria sal volgens die Tshwane-metroraad teen Woensdag herstel wees.

Inwoners van dié gebiede is sedert verlede Woensdag sonder krag nadat die Mooikloof-substasie aan die brand geraak het.

Jacqui Uys, raadslid van die Tshwane-metroraad, sê mits alles vlot verloop behoort die krag teen Woensdagaand in fases herstel te word. Dit is egter nie seker presies wanneer almal weer krag sal hê nie.

Harde werk lê voor

Die eerste transformator (R) is aan die beheerpanele gekoppel en die spanne is besig met finale bedrading en koppeling.

Sodra dit gedoen is, kan die toetsing begin. Die transformator sal aangeskakel word en vir ʼn paar uur hardloop om te kyk of dit die druk kan hanteer.

Die koppeling van die tweede transformator (A) sal begin wanneer werk aan transformator R klaar is.

Die spanne het aan transformator (C) begin werk en was teen Sondagaand besig om die olie te suiwer. Dié werk sal sowat 24 uur duur. Die transformator moet aan die regte panele gekoppel word en werk hieraan sal waarskynlik teen Dinsdag voltooi wees.

Bedrading op die panele self moet ook gedoen word. “Die spanne is tans besig om transformator R aan die beheerpaneel te koppel. Druktoetsing op die geleistang word gedoen. Die spanne het reeds die vyf nuwe panele getoets en is nou besig om die ou panele te toets,” sê Uys. “Die groot werk lê egter by die kabelnetwerk.

“Al 19 kabels van die substasie het gebrand en moes afgesny word. Die kabels moet vervang en aan die agterkant van die panele geheg word. ʼn Hele paar kabels is getoets. Die span moet nog die laaste drie kabels opgrawe. Dit moet met die hand gedoen word, sodat die kabels nie beskadig word nie.”

Sodra al 19 klaar kabels vervang is, moet werkers dit in die panele aan die een kant verbind en aan die ander kant koppel.

Wat die kabels van die substasie na woonhuise betref, het die spanne tien foutiewe kabels aangedui.

By agt van die kabels is die fout in die kabel reeds uitgewys. Van hierdie agt het werkers reeds een begin regmaak.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lettie ·

Baie dankie aan almal verbonde aan die herstel van die stasie. Ook vir breedvoerige opvolk van die herstel daarvan.

Leeubekkie ·

Dit klink soos ‘n enorme taak en moeilike werk. Baie dankie en sterkte aan al die werkers.

Marietjie ·

Ai sterkte aan die inwoners van al die gebiede, asook die herstel spanne met so ‘n Goliat van ‘n job.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.