Opod oorweeg ondersoek na polisieoptrede by Phala Phala

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: STEFAN HEUNIS/AFP)

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) oorweeg nou om ondersoek in te stel na die polisie se beweerde betrokkenheid by die rooftog by pres. Cyril Ramaphosa se luukse plaashuis.

Ramaphosa word daarvan beskuldig dat hy ʼn inbraak in 2020 op sy wildsplaas Phala Phala, waar diewe na bewering $4 miljoen gesteel het, probeer geheim hou het.

Die African Transformation Movement (ATM) het in ʼn skrywe aan die direktoraat gevra om die bewerings te ondersoek dat grootkoppe in die polisiediens ʼn hand daarin gehad het om die hele voorval toe te smeer.

ATM beweer dat die nuut aangestelde nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, en sy voorganger, Khehla Sitole, glo geweet het van die beweerde diefstal. Sebastian Ndeitunga, Namibië se polisiehoof, het reeds vroeër vandeesmaand ontken dat dié land enigsins gehelp het om die rooftog toe te smeer.

Die party het ook die skorsing van die betrokke beamptes geëis, hangende die uitkoms van Opod se ondersoek.

Opod het in ʼn verklaring ontvangs van ATM se versoek erken, maar nog nie bevestig dat hy wel ʼn ondersoek van stapel gaan stuur nie.

“Die klagte deur ATM is nog nie volledig deur Opod beoordeel nie as gevolg van die beperkte inligting wat daarin vervat word,” het Lizzy Suping, woordvoerder van Opod, gesê.

“Die direktoraat het die skrywer van die brief versoek om by Opod aan te meld vir ʼn onderhoud in verband hiermee.”

Volgens Suping sal hierdie onderhoud Opod help bepaal of ʼn volledige ondersoek geregverdig is.

“Nadat Opod ʼn formele verklaring van ATM ontvang het, sal die uitvoerende direkteur van die direktoraat besluit of die saak kragtens artikel 28 van die Opod-wet volledig deur Opod ondersoek gaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Maar géén ondersoek na die eienaar van die plaas nie? Dit lyk asof Ramaphosa vir Zoompie na kleingeld gaan laat lyk! Hy was hoeka tweede-in-bevel daai tyd…

M ·

Gróóóót en onbekostigbare skande op hande ? Dit , as dit die waarheid is, het onverwoordbare en ernstige gevolge vir ons Ramp-geteisterde land !!

Anel ·

En daar sien die nuwe kommissaris, oor wie almal so gaande was stert sonder ‘n spiëel!!! En hoedman sê nie ‘n dooie woord nie!! Baie geluk, sapd. So iets sou nooit as te nimmer of eerder dit het nooit in die ou SAP gebeur nie! Wat ‘n sirkus!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.