Opposisiepartye reageer op mediumtermynbegroting

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Politieke partye het Tito Mboweni, minister van finansies, se tussentydse begrotingsrede van vanmiddag verwelkom, hoewel hulle nie oortuig is dat die land se ekonomiese verknorsing gou iets van die verlede gaan wees nie.

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, sê in ’n verklaring die regerende party verwelkom Mboweni se planne om die land se ekonomie te stimuleer en onnodige uitgawes te sny.

Maroela Media het vroeër berig Mboweni het aangekondig dat luukse motors, eersteklasvlugte en groot salarisse vir regeringsamptenare iets van die verlede gaan wees.

“Leierskap moet die leiding neem met hierdie saak en ons verwelkom die vermindering van byvoordele vir politieke ampsdraers, goedkoper motors, goedkoper vlugte en die beperking van salarisstygings,” sê Mabe.

Die DA sê op sy beurt dit is prysenswaardig dat Mboweni die land se haglike finansiële situasie gedurende sy toespraak onthul het. “Ons waardeer sy eerlike erkenning dat dinge erger is as wat ons dink en ons verwelkom ook sy harde woorde oor die sny van die openbare salarisrekening en die wanbestuur van staatsbeheerde entiteite,” sê Geordin Hill-Lewis, die DA se skaduminister van finansies.

Die DA is egter van mening die minister het nié ’n geloofwaardige plan voorgelê om die nasionale skuld te beheer nie. Volgens Hill-Lewis is dit veronderstel om die minister se grootste prioriteit te wees.

“Die bestedingsbesnoeiing wat hy aangekondig het – ongeveer R50 miljard gedurende die volgende twee jaar – sal nie naastenby genoeg wees om die aansienlike toename in die nasionale skuld te vertraag nie en sal ook nie genoeg wees om die geloofwaardigheid by graderingsagentskappe te herstel nie.”

Maroela Media het ook vroeër berig Eskom sal oor die volgende drie jaar ʼn bykomende R161 miljard se hulp van die regering af ontvang om te verseker dat die entiteit sy deure oophou.

Volgens Hill-Lewis is dié besluit “’n onverdedigbare keuse”.

“Verdere uitstel sal aaklige gevolge inhou vir Suid-Afrikaners, veral vir die armes, omdat diensbesteding deur skuld en salarisse verswelg word. Ons doen ’n beroep op die minister om die DA se voorstel om die salarisrekening te verminder, in werking te stel.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, meen Mboweni se mediumtermyn-begrotingsraamwerk voldoen nie aan die basiese vereistes om die skuldkrisis waarin die land gedompel is, op te los nie.

Volgens Groenewald raak dit al duideliker dat die ANC nié die vermoë het om die land se huidige ekonomiese situasie om te keer nie.

“Pogings om te sny aan staatskuld soos die verkleining van die kabinet en ʼn inkorting van reiskoste is kosmeties van aard en sal geen wesenlike verskil aan die enorme omvang van die staat se uitgawes maak nie,” meen Groenewald.

Die partyleier voorspel die staat se besteding om sy skuld te finansier sal oor drie jaar meer wees as die besteding op gesondheid en ekonomiese ontwikkeling. “Dit is onvolhoubaar. Staatskuld gaan oor die volgende drie jaar tot R4,5 biljoen groei. Teen 2022-’23 sal dit 70% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) wees.

“Daar is niks in die raamwerk wat vir die VF Plus aandui dat die ANC-skip ʼn rampspoedige botsing met ʼn ysberg in die toekoms kan vermy nie. Geen werklike oplossings of nuwe rigting is gebied nie en prioriteite bly verkeerd. Die strop om die nek van elke belastingbetaler in die land trek al hoe stywer,” sê Groenewald.

Die ANC is egter van mening vanmiddag se begroting is ’n stap in die regte rigting, sê Mabe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Belaglik ·

Wie gaan dit werklik betaal, as dit wat die motoriste alreeds betaal net na hulle sakke toe gaan…?

RyTrein ·

Wat van die LP’s begin bietjie trein ry ipv vlieg tussen die Kaap en Pta. O ja ek moet beter spesifiseer nie die Blou Triein asb. Dit behoort heelwat te spaar en dan word die treindiens ook sommer beter gemaak. Nik in die parlement moet so dringend gedoen word. Dan is daar sommer minder tyd om op mekaar te skree em te honarable

Luke ·

Lebanon se skuld verhouding tot BBP is 150%, SA sin Gaan eers 70% wees teen 2023! So die soustrein kan Nog rustig voort snel voor enige werklike “sous” te Korte regtig sigbaar sal word!

Johanna Botha ·

Geldjies is op en 29.1 % van mense sit sonder werk …al die anc planne en dit is nou die uitkoms ….PATETIES !

Ferdie ·

Die Chinese gaan die land red hul besit al reeds amper alles. Elke dorp is daar Chinese hul is al baie diep ingegrawe .

Regtig ·

Laer salarisse vir staatsamptenarrre! Het dit al 8 jaar terug ook gehoor. Asb moet net nie my ou salarissie afskaal nie

TDW ·

Ek sou graag van ‘n paar ekonome wou hoor wat hulle voorstel sou wees om ons land uit sy ekonomiese verknorsing te help. Ek sou graag by ekonome wou hoor wat nie verskuilde agendas het nie. MM kan jul ons help daarmee?

Ruiklont ·

Die middelklas moet mos opdok vir die onvermoë van die regering. Verkoopsbelasting gaan op, tolgelde gaan uit die mense gewurg word, watter belastings gaan nog verhoog word? En die hoof indoenas loop steeds lekker rond en spandeer, swaar verdiende belasting geld word spandeer, baie gepraat oor “STAATSKAPING” en dit is waar dit bly. ESKOM en SAA storm voort op dieselfde spoor. Munisipaliteite gaan voort om hul riool in die riviere te stort, water word uit die Vaaldam losgelaat om die gemors weg te spoel maar tonne riool word direk na die “SPOEL” weer in die riviere “Losgelaat” en so gaan dit aan en aan. Net een woord om dit te beskryf: “PATETIES”

K.P ·

Die man ploeter voort met dieselfde storie drie keer agtermekaar en niks word gedoen wat dinge moet verander. Hy praat baie maar doen min.Die rede die anc is bang vir sy eie kiesers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.