Opposisiepartye soek mosie van wantroue in president

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

ʼn Groep van verskeie politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word, gaan vra vir ʼn mosie van wantroue teen pres. Cyril Ramaphosa in ʼn poging om hom aanspreeklik te hou vir die Phala Phala-saga.

Volgens die forum van opposisiepartye moet die parlement Ramaphosa aanspreeklik hou vir die oortreding van wetgewing, sy ampseed en die Grondwet na aanleiding van die herrie oor die miljoene dollar wat op sy wildsplaas in Limpopo gesteel is.

Die forum vra ook dat die Openbare Beskermer (OB) ʼn verslag oor beweerde skendings tydens die voorval bekend maak.

Die partye sê in ʼn verklaring wat EFF-leier Julius Malema voorgelees het, hulle is “bekommerd dat dit nou al meer as 70 dae is” sedert die beweerde oortredings by die polisie aangemeld is. Hulle voer ook aan dat instellings soos die Reserwebank, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Finansiële Intelligensiesentrum doelbewus parlementêre vrae daaroor ignoreer en “oënskynlik betrokke is in die toesmeerdery om ʼn dienende president te beskerm”.

Die partye gaan nou gesamentlik en afsonderlik die name van verskeie oudregters aan die parlement se artikel 89-ondersoekpaneel voorlê wat Ramaphosa se gedrag moet ondersoek.

Hulle gaan ook die DA se voorstel steun dat ʼn ad hoc-komitee aangewys word om alle beweerde oortredings te ondersoek. Dit sluit in beweerde oortredings deur die president self, maar ook deur polisiebeamptes, lede van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) en “almal anders wat betrokke was by die uitvoering en verdoeseling van die misdade wat by Phala Phala gepleeg is”.

Alle opposisiepartye – die DA uitgesluit – het ingestem dat ʼn mosie van wantroue dadelik teen Ramaphosa ingedien moet word.

Hulle eis ook dat die Reserwebank, die Finansiële Intelligensiesentrum, die SAID, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke “dadelik en met integriteit” optree oor Ramaphosa se beweerde oortreding van wetgewing en die Grondwet.

Hulle beoog ook om volgende maand by die OB se kantoor te betoog vir die onmiddellike bekendmaking van ʼn verslag oor ʼn skending van die etiekkode vir die uitvoerende gesag. Wetgewing daaroor bepaal dat dit binne 30 dae gedoen moet word.

Malema sê hulle verwag ook van ANC-lede wat “lojaal aan Suid-Afrika en sy Grondwet is” om die regte ding te doen wanneer die mosie van wantroue in die parlement dien.

 

“Dit maak nie saak hoe lief ek jou het nie. Dit maak nie saak of ek aan dieselfde politieke party as jy behoort nie. Ek moet die regte ding ingevolge die Grondwet doen,” sê Malema.

Volgens die EFF-leier het hulle nie die ANC nodig om ʼn mosie van wantroue deur te voer nie, maar “eerbare lede van die parlement wat hul ampseed eerbiedig”.

DA steun nie mosie

Die DA het besluit om nie in hierdie stadium die mosie te steun nie.

Siviwe Gwarube, woordvoerder van die amptelike opposisie, sê die party het vantevore al in vergaderings met ander opposisiepartye aangedui dat die artikel 89-ondersoekproses, wat die ATM van stapel gestuur het, die ruimte gegun moet word om afgehandel te word.

Ingevolge nuwe reëls wat die parlement aanvaar het, kan partye nou kandidate benoem vir die onafhanklike paneel wat oor die erns van die bewerings teen Ramaphosa moet besluit. “Ons gaan hierdie proses fyn dophou,” sê Gwarube.

Sy sê die mosie van wantroue wat op dieselfde tyd as die artikel 89-ondersoek van stapel gestuur word, sal die uitslagproses ondermyn – en dít is om Ramaphosa aanspreeklik te hou en te verseker die parlement vervul sy oorsigrol.

“Dit sal ook die indruk skep dat ons geen vertroue het in die staat van beskuldiging-proses wat aan die gang gesit is nie.”

Gwarube sê dit is nie ongewoon vir partye om breedweg oor kwessies soos deursigtigheid en aanspreeklikheid saam te stem, maar nie noodwendig oor die proses oor hoe om dit te doen nie.

“Ons bly verbind tot samewerking met die verskillende opposisiepartye in die parlement. Ons glo ʼn sterk opposisie is belangrik vir ʼn gesonde demokrasie. Dit is hoekom ons saam met die groep stem om die parlement as die voertuig te gebruik om by die waarheid oor hierdie saak uit te kom en diegene wat die wet oortree het, aanspreeklik te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waarnemer ·

En net hier swaai die DA gat oor kop….stem VF oor 2 jaar mense…..die DA gaan julle verraai.

Witbaard ·

Net soos hulle voorgangers….eers die Nasionale party, toe die Nuwe Nasionale party……

Elméne ·

VF?? Ek is ook blank maar WAT het die VF+ die afgelope 28 jaar gedoen??? Diep teleurgesteld in hierdie party!!!

Swerwer ·

Al die “Draadsitters” sal besils nog ‘n beter party wees as al die ander

Jack ·

Wel wat maak dit werklik saak watter onbekwame mens die kroon dra. Dit bly maar net n kroon wat op enige een se kop geplaas word deur die anc. Dit hang net af hoeveel gunste en stemme in die geheim gekoop word en geen ander kriteria as dit bestaan nie. Wie van ons het bv vir ramaphosa die president gemaak en van enige van sy voorgangers? Dis hoe diktators in afrika aan bewind kom en dan begin die onderdrukking.

Swerwer ·

So lagwekkend, probeer die DA nou hul pad opkoop vir die 2024 verkiesing. Mosie van wantroue teen die hele Regering sou miskien beter gewees het want die hele regering is vrot appels, maak nou nie saak aan watter party wie en wat behoort nie.

Esme ·

Ek is ‘n ewige optimis maar my vertroue in die DA is op ‘n laagtepunt.
‘n Mosie van wantroue deur so’veel partye wat so swak verteenwoordig word in Parlementere sittings is volgens my net weer ‘n poging om ons te paai.
Hiervan gaan niks kom nie.
Ons is al deur te veel Covid 19 bedrog, Staatskaping, Bedrog, Swak Leierskap en ‘n President wat almal paai en net t-hempies uitdeel.

Andries ·

Alles goed en wel maar ons moet ‘n president hê. Wie van die huidige topleiers in die AMC wil julle hê moet by hom oorneem? Hoe sê die Engelse?: “Better the devil you know than the devil you don’t”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.