Opruiming duur voort ná dieselstorting

Diesel het in massas in die rivier ingevloei. (Foto: Verskaf)

Pogings om die reusehoeveelhede diesel op te ruim wat verlede week uit ʼn Transnet-pypleiding in die Vrystaat gelek en toe in ʼn nabygeleë rivier ingevloei het, is steeds aan die gang.

Dié proses sal vir minstens nog ʼn week voortduur voordat daar met rehabilitasie in die gebied begin kan word.

Die storting volg nadat diewe met die pypleiding naby Harrismith gepeuter en ʼn lekkasie veroorsaak het.

Terwyl duisende liters diesel uit die pypleiding gestort het, het van die brandstof ook in die Meulrivier naby Verkykerskop ingevloei. Die rivier vloei na die Vaaldam wat Gauteng van drinkwater voorsien.

Saret Knoetze, woordvoerder van Transnet-pypleidings, het aan Maroela Media bevestig dat spanne nog aan’t werk is om die diesel onder meer uit die rivier te probeer verwyder.

Noodreaksiespanne het reeds verlede week absorberende versperrings langs die rivier en stroomaf gepak om enige oortollige brandstof op te neem. Dit verhoed dat die diesel verder stroomaf vloei.

Opruiming duur voort. (Foto: Verskaf)

Tammy Breedt, ʼn VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor omgewingsake, sê die vinnige optrede van verskeie rolspelers het gehelp om die skade weens die brandstofstorting te beperk.

“Dit gaan wel ʼn tydjie neem om al die diesel op te ruim, aangesien die grond rondom die lekkasie nou versadig is van die diesel en dus steeds in die rivier insyfer,” sê sy.

ʼn Verslag sal ná afloop van die opruimingsproses saamgestel word sodat ʼn rehabilitasieplan in werking gestel kan word.

Transnet het mense gevra om enige pogings om brandstof uit sy pypleidings te steel so gou moontlik aan te meld.

Daar is egter groot kommer oor die uitwerking wat die storting op die omgewing kan hê.

“Daar is nog geen bykomende lekkasies geïdentifiseer nie, maar die spanne werk daaraan om die diesel op te ruim wat steeds in riviere insyfer,” sê Breedt.

Volgens Knoetze sal omvattende watergehaltetoetse nou gedoen word.

“Monsters sal deurlopend geneem word om die teenwoordigheid van brandstof in die water te monitor. Die absorberende versperrings sal ook eers verwyder word wanneer gunstige toetse terugkom.”

Brandstof het uit die pypleiding gelek. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

En die SKULDIGES gaan seker nooit gevang word nie! Hoekom is daar nie omheinings en sekuriteit by hierdie plek wat duidelik ‘n aantrekkingskrag is vir misdadigers nie?

Marius ·

Dit is die resultaat van omgewings impak studies wat nie gedoen is nie en daar word net voort gekarring.

Gawie ·

Ek sien hierdie berig, asook die oorspronklike berig noem die hele tyd ‘n ‘lekkasie’ en diesel wat uit die pypleiding ‘lek’.
As ek so na die fotos kyk is hierdie duidelike nie net ‘n lekkasie nie. Die diesel stroom letterlik uit die pypleiding. As hierdie ‘n ‘lekkasie’ is, dan wil ek nie weet hoe lyk dit wanneer daar ‘n ordentlike gat in die pyp is nie.

marius ·

Waarom is daar geen mure soos wat die wet vereis nie ? Want wette is net vir sekeres . Dis hoekom !

Pietertjie ·

Afrika op sy beste. Ek wonder hoe lank dit gaan neem voordat die volle waarheid uitkom. Dit lyk of daar gereeld brandstof by die betrokke punt getap word. Teen R24 per liter. Hoeveel sulke punte is daar nóg? Die verliese word sekerlik in berekening gebring by prysvasstelling.

Miena ·

Ek lees…”pogings…diesel op te ruim…uit n Transnet pypleiding…steeds aan die gang… nog n week… rehabilitasie” Nou my vriendin woon in Vereeniging en sukkel nou al vir die afgelope 1jr + met Sasol en hofsake oor “jetfuel” wat in hulle en omliggende plotte se water pype beland het. Ja mens jy het reg gelees – ondergrondse boorgat water pype is besmet met die gif-goete en die oplossing vir water is n watertenker wat omkom 2x per week om water te voorsien aan al die mense in omgewing en hulle klein boerderytjies wat hulle het. Wie weet waar kom daai water vandaan? Die ketel staan tot bo die deksel uit met skuim wanneer die “afgelewerde water” gekook word. Die dierevrektes het geen einde nie. Plant gewasse het gevrek en die grond is nie meer geskik om groente te plant nie. Wanneer mens klaar gestort het moet jy n hele bottel E45 smeer want jou lyf brand. Jou klere is vol vlekke en stasoft maak n wit poeier laag op die klere. Glad nie haastig om water te suiwer nie. Dankie.

Roek ·

Net buite Alberton Suidwaarts op die N3 ook Spilltech voertuie daar opgemerk wat daar bedrywig was met opruimings werk vir tenminste ‘n week , wonder of daar ook ‘n lek was , laas was daar ‘n groot ontploffing asgevolg van peutery met die pyplyn. wonder of ons alles weet wat aangaan ?

Piet ·

Dit gaan meer en meer gebeur. n’ Dief neem niemand in ag nie, en het geen respek nie, dis hoekom hy/sy dit in die eerste plek doen.

Carel Aaron ·

Lyk meer of dit uit spuit.
Vandat die Nigeriers het aangeland het, het ons kabeldiefstal begin en nou die hoeveelste brandstof pyp diefstal. In hulle land ñ weeklikse ding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.