Orkas wat 18 haaie dood verken nuwe weivelde

Die orka-paar staan bekend as Port en Starboard. (Foto: Marine Dynamics/Facebook)

Die twee orkas, oftewel moordvisse, wat vandeesweek 18 haaie naby Gansbaai doodgemaak het, is skynbaar besig om die kus van Suid-Afrika opnuut te verken.

Port en Starboard, soos die twee gedoop is, het vroeër vandeesweek die hasepad gekies nadat 17 platneus-sewekiefhaaie en later ʼn gespikkelde sloothaai se karkasse by Pearly Beach uitgespoel het.

Sedertdien is hulle aan die kus van Mosselbaai, sowat 300 km van Gansbaai, gewaar.

Nico Booyens, mariene bioloog en hoofnavorser aan die Shark Research Unit in Mosselbaai, sê spanne het Vrydag om 17:00 die twee orkas vir die laaste keer aan die punt van Mosselbaai gesien.

“Weens die weerstoestande vandag [Saterdag] is niemand uit op die see nie, maar spanne het al langs die kuslyn beweeg om die twee orkas te soek,” sê hy.

“Daar is vandag nog geen teken van die orkas by Mosselbaai nie, ook nie by Klein-Brak, Groot-Brak, Hartenbos of Glentana nie.”

Booysens vermoed dat die orkas dalk na Knysna of Plettenbergbaai op pad is.

“Ons hoop dat die orkas net hier verbygegaan het en nie iewers wegkruip om later weer een van ons haaie te eet nie. Ek dink ná die jongste slagting is hulle buitendien versadig,” sê hy.

“Daar is in elk geval nie baie haaie in Mosselbaai op die oomblik nie. Ek het self oor die afgelope maand slegs ses raakgesien.”

Port en Starboard is geen vreemdelinge aan die Suid-Afrikaanse kus nie en is berug vir hul jagtogte op haaie in Suid-Afrika.

18 haaie ondersoek

Al die haaie het vandeesweek uitgespoel. (Foto: Marine Dynamics/Facebook)

Alison Towner, ʼn haaiwetenskaplike verbonde aan die Marine Dynamics-akademie, sê die nadoodse ondersoeke van al 18 haaie wat naby Gansbaai uitgespoel het, is Vrydag afgehandel.

“Dit is fassinerend om te sien hoe hierdie haaie deur die orkas hanteer is,” sê sy.

“In hierdie geval, soortgelyk aan die eerste ondersoek op die ander haaie, het elke haai baie duidelike afdrukke van die orkas se tande op hulle. Dit staan bekend as harkmerke.”

Towner het in die verlede verskeie witdoodshaaie ondersoek nadat die betrokke orka-paar hulle beet gehad het, maar die harkmerke op daardie haaie was nie so duidelik soos op die kleiner platneus-sewekiefhaaie nie.

“Dit kan weens verskillende hanteringstegnieke wees wat die orkas gebruik op verskillende spesies haaie of dat platneus-sewekiefhaaie se vel veel sagter is en daarom wys die tandafdrukke beter.”

Uit die 18 haaie wat ondersoek is, is almal behalwe een platneus-sewekiefhaai oopgeskeur. Hulle lewers was afwesig en die meeste van hulle se mae was ook weg. Diegene wat wel nog ʼn maag het, het meestal beenvisse en Kaapse pelsrobbe gevreet.

Ralph Watson, ook ʼn haaiwetenskaplike, wat Towner met die ondersoeke bygestaan het, het onlangs sy PhD op kleiner endemiese haaispesies, soos die gespikkelde sloothaai gedoen.

Volgens Watson is die een manlike gespikkelde sloothaai wat uitgespoel het, korter as 1 m en sy kop en lewer was skoonveld. Dit het ook baie sigbare harkmerke oor sy lyf gehad.

“Dit is die eerste keer dat ons bevestig dat orkas op hierdie spesie haai prooi en wys hulle is in staat om baie kleiner haaie te hanteer as wat ons oorspronklik gedink het.”

Al die haaie wat uitgespoel het, is by Pearly Beach verwyder. Geen verdere haaie het intussen weer uitgespoel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Ek het tot die slotsom gekom dat Orkas die gedugste roofdier op aarde is. Nie eens walvisse is bestand teen hulle nie. Spermwalvisse, wat ook roofdiere is, kan egter hulle man staan teen Orkas afhangend van hoe groot die groep Orkas is. Spermwalvisse is soos Olifante, die koeie en kalwers bly in groepe en die bulle is alleenlopers (alleenswemmers?) wat soms hulle eie groepies vorm. Orkas sal egter selde met ‘n Spermwalvisbul sukkel want hulle is eenvoudig te groot en ‘n klap met die stert kan ‘n Orka die reënboogbruggie laat oorsteek.

TruthDealer ·

Dis maar die natuur. Die natuur is lieflik, baie keer skouspelagtig en super interressant. Maar dis ook brutaal. Mense sal goed doen om dit te onthou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.