Oudpolisiekaptein in sop ná sy seun uit tronk haal

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Wat ʼn ma ook nie vir haar kind sal doen nie.

ʼn Voormalige polisiekaptein van KwaZulu-Natal het in die hof verskyn nadat sy glo jare gelede, sonder toestemming, haar seun uit ʼn tronk naby Durban gaan haal en huis toe geneem het. Hy was in die tronk terwyl hy gewag het om voor die hof te verskyn op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Kapt. Nokulunga Gumede (59) het Woensdag vlugtig in Pinetown se landdroshof verskyn en word aangekla van die onwettige verwydering van ʼn gevangene uit ʼn korrektiewe dienssentrum, asook dwarsboming van die gereg.

Sy was ten tye van die voorval ʼn takbevelvoerder by die KwaMakhutha-polisiestasie in Amanzimtoti. Luidens inligting van die polisie word daar beweer dat sy op 17 April 2020 na die Westville-tronk buite Durban is en haar seun sonder die nodige hofdokumente by die tronk uitgeboek het. Dit is boonop gedoen sonder die medewete van die betrokke ondersoekbeampte.

Gumede het haar seun hof toe geneem, maar die saak is nie op die hofrol geplaas nie omdat streng afsonderingsmaatreëls weens die Covid-19-pandemie gegeld het. Sy het haar seun toe sommer huis toe geneem.

Die saak teen haar is deur lede van die Valke in Durban ondersoek en sy is op 5 Februarie vanjaar gedagvaar om in die hof te verskyn.

Sy is Woensdag voorlopig op ʼn waarskuwing vrygelaat en moet op 27 Maart weer in die hof verskyn.

In ʼn afsonderlike voorval het ʼn polisiekonstabel Woensdag in die landdroshof in Verulam verskyn nadat hy Sondag deur die Valke in hegtenis geneem is vir dwelmhandel en die onwettige besit van ammunisie. Sherwin Chetty (28) is tydens ʼn padblokkade in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat hy dwelms vervoer.

Hy bly in aanhouding en die saak is uitgestel tot 20 Maart, wanneer hy formeel om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adriana ·

Ook iemand wat dink hul is bo die wet verhewe. Maak mens siek hoe die mense dink hul kan met alles wegkom, geen wette is tot hul van toepassing

Karoo ·

Elke aksie het ‘n reaksie, so… beweeg deur dit en aanvaar aanspreeklikhied.

SjN ·

Die kaptein behoort seker die prosedure en wette te ken, seker weer rang getrek, hoop geregtigheid geskied.

Wondermaarnet ·

Sy sal seker niks oorkom nie, siende dat sy net ‘n waarskuwing gekry het voor sy weer in die hof moet verskyn.

Cassie Carstens ·

Vat ook maar lank om tot hier te kom. Sy sal niks oorkom nie, want die land behoort mos aan hulle en hulle maak soos hulle wil. Almal kaders.

JohanR ·

Sal jy ook nie liewer saam met jou Ma wil huis toe gaan as om by Pollsmoor uit te kom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.