Ouers dagvaar Pta-kleuterskool ná boeliery

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Ouerpaar dagvaar ʼn kleuterskool in Pretoria-Oos asook die Gautengse LUR van onderwys, omdat hul seuntjie glo so erg by dié skool geboelie is dat hy rekonstruktiewe chirurgie aan sy lies en private dele moes ondergaan.

Die kind is glo oor ʼn tydperk van drie maande, tussen Julie 2021 en Oktober 2021, herhaaldelik deur ander kinders by die kleuterskool aangerand en afgeknou, hoofsaaklik deur die kind tussen sy bene in die liesarea te skop. Die seuntjie was vyf jaar oud toe die beweerde voorvalle plaasgevind het, en hy was toe reeds sowat drie jaar in die kleuterskool. Die voorvalle het na bewering daagliks tydens skooltyd in dié typerk plaasgevind.

Die ouers eis nou R285 449,61 van die kleuterskool vir die chirurgie wat hul seun moes ondergaan, asook sy ander mediese behandeling, pyn, lyding en sielkundige trauma.

Hulle word deur die firma Alet Uys Attorneys verteenwoordig.

Die ouers voer in hofstukke aan dat die kleuterskool, waarvan die naam aan Maroela Media bekend is, nie voldoende stappe gedoen het om hul kind te beskerm nie.

Die skool ontken die bewerings egter ten sterkste en sê hulle sal die ouers se skadevergoedingseis teenstaan.

“Die aantygings is vals en boeliegedrag word glad nie [by die kleuterskool] toegelaat nie,” het die hoof van die kleuterskool aan Maroela Media gesê.

Die skool se regsverteenwoordiger het ook in ʼn brief bevestig dat die kleuterskool instruksies gegee het om die dagvaarding teen te staan.

“Sodra ons die geleentheid gehad het om volledig met ons kliënt te konsulteer rakende die bewerings in die dagvaarding, sal ons kliënt se pleit beteken en liasseer word,” lui die brief.

‘Permanente skade’

Die hooggeregshof in Pretoria. (Foto: Argief)

Luidens die hofstukke wat by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is, het die seuntjie “permanente skade” aan sy lies opgedoen weens die “ernstige en voortdurende boelievoorvalle” waaraan hy onderwerp is.

Dit blyk dat die kind in Oktober 2021 rekonstruktiewe chirurgie vir twee liesbreuke ondergaan het om sy urinekanaal te herstel en om oortollige vloeistof van sy testikels te dreineer.

Dít is alles glo veroorsaak deur ander minderjarige kinders wat hom herhaaldelik oor ʼn lang tydperk tussen sy bene geskop het.

“Weens die regstreekse gevolg van die tweede verweerder se optrede en nalatigheid ervaar die kind pyn en ongemak, moes hy gehospitaliseer word, rekonstruktiewe chirurgie ondergaan en ervaar hy ʼn verlies aan lewensgemak,” lui die hofstukke.

Die kind het glo ook posttraumatiese stres ervaar en weke lank geweier om na die betrokke kleuterskool of enige ander skool terug te keer.

Hy moes ook berading ontvang en het na bewering “permanente misvorming”.

Skool het ‘niks gedoen’ om aanvalle te stop

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die kleuterskoolonderwysers – in besonder die hoof en een ander onderwyseres – word daarvan beskuldig dat hulle nie die nodige sorg en toesig oor die kind toegepas het, en opgetree het soos “redelik van ʼn onderwyser verwag word nie”.

Die skool se beleid, soos in die hofstukke vervat, stel dit glo duidelik dat “die onnodige seermaak van maatjies” teen die skoolreëls is, dat “boeliegedrag in ʼn baie ernstige lig gesien word” en dat “ouers ingeroep sal word indien daar nie voldoen word aan die reëls nie”.

Die ouers voer verder in die hofstukke aan dat die skool hulle nie ingelig het omtrent die beweerde voorvalle nie, en nie hul plig teenoor die kind nagekom het deur te verhoed dat hy seergemaak word nie. Hulle meen die skool het ook nie “redelike stappe gedoen om die veiligheid van alle leerders op die skoolgrond” te verseker nie.

Luidens die hofstukke word die Gautengse LUR van onderwys as verweerder by die dagvaarding ingesluit omdat die departement “ʼn grondwetlike en statutêre verpligting ten opsigte van die administrasie” van die kleuterskool het.

“Die skade wat geëis word, is die gevolg van voorvalle wat op die perseel van ʼn openbare skool plaasgevind het, wat onder die beheer van die Gautengse onderwysdepartement val.”

Die departement het Vrydag bevestig dat hulle die dagvaarding ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Hierdie is nie vir my duidelik nie.
Dit het glo 3mnde voortgeduur…mens behoort die eerste
dag sulke beserings op te merk veral as dit so geweldig is.
Jy mis mie besetings van die aard nie.
Was daar voorheen saak van mishandeling of aanranding teen die Skool.
Imdien wel behoort die rekord te wys dat die voirval wel.plaas gevind het

Tersia ·

En jy neem nog steeds daardie kind, na die eerste voorval, terug na daardie skool toe en se niks en laat dit vir 3 maande so voortduur. Maak nie sin nie.

mariannaj ·

Ek stem saam en het nou oor dieselfde gewonder. Indien dit so erg was dat die kind nou al rekonstuktiewe operasies moes ondergaan, moes die ouers dit sekerlik al baie gouer opgemerk het en aan die skook rapporteer het. Iets maak hier vir my glad nie sin nie.

TruthDealer ·

Soos Sarel gesê het, dis maar vir my baie eienaardig dat die ouers dit nie vroeer agtergekom het nie. Kinders sal mos normaalweg hierdie tipe ding vertel vir hul ouers. Die gemiddelde ouers sal by daardie skool opdaag na die eerste voorval, Definitief na dit die 2de keer gebeur dat hul kind so verniel word? As dit met my seuntjie gebeur het, sou my besoek aan daardie skool lank onthou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.