Ouers groet hul ‘vasbyter-kind’ ná 1 732 dae

Wimpie Boshoff voor die ongeluk. Foto: Facebook

1 732 dae. Net minder as vyf jaar was Wimpie Boshoff (28) in ʼn vegetatiewe toestand gelaat nadat hy in ʼn ernstige motorfietsongeluk betrokke was. Dit was vyf jaar van operasies, mediese prosedures, geduldige versorging, baie trane, maar net soveel lag.

1 732 dae, voordat Boshoff Donderdag in die vroeë oggendure gesterf het.

Boshoff, ʼn blokman van Lydenburg in Mpumalanga, was 24 jaar oud toe hy op 28 Februarie 2014 in ʼn motorfietsongeluk op die Long Tom-pas betrokke was. Boshoff is by ʼn klein walletjie langs die pad afgeslinger waar hy ure lank met erge beserings gelê het voordat ʼn verbyganger hom gewaar en hulp ontbied het.

Hy is na ʼn hospitaal gehaas en kort daarna per helikopter na die Mediclinic Nelspruit oorgeplaas. Hy het erge kopbeserings opgedoen en die voorste gedeelte van sy brein was ernstig beskadig. Teen die tyd dat Boshoff langs die pad gevind is, was hy reeds in ʼn koma.

Willa Boshoff (51), Wimpie se pa, vertel aan Maroela Media dokters het daardie aand vir hom en sy vrou, Ina, gesê dat dit hoogs onwaarskynlik is dat hul seun dié beserings sal oorleef. “Hulle het hom na die operasieteater geneem, maar kort daarna weer teruggebring na die waakeenheid. Dit was te gevaarlik om hom onder narkose te sit. Die dokter het daardie aand vir my kom sê dit lyk nie goed nie, Wimpie gaan dit heel waarskynlik nie maak nie,” sê Willa.

Boshoff het egter daardie nag oorleef. En die volgende nag en die een daarna.

Twee weke ná die ongeluk het ʼn breinskandering getoon dat Boshoff se brein al meer swel en dat dié swelling hom in lewensgevaar plaas. Twee dele van sy skedel weerskante van sy kop is verwyder om die brein spasie te gee om te swel. Van daar is hy na ʼn hospitaal in Kensington, Johannesburg, oorgeplaas.

Wimpie Boshoff ná die ongeluk. Foto: Facebook

“Van die dag van sy ongeluk af, was Ina elke dag by hom. Sy het nooit sy bed verlaat nie. Waar Wimpie gegaan het, het sy gegaan. Sy was heeltyd by hom in Nelspruit en is daarna saam Johannesburg toe. Sy was elke moontlike oomblik by hom,” sê Willa.

Boshoff is daarna oorgeplaas na die Life Roseacres-hospitaal in Germiston en toe weer na die M-Care in Nelspruit. Teen dié tyd was sy oë oop, maar hy was in ʼn vegetatiewe toestand. Willa verduidelik Wimpie kon sy oë oop en toe maak en het met tye sy mond getrek, maar kon glad nie praat, eet of sy hande, bene of nek beweeg nie.

Dokters het alles gedoen wat hulle kon, maar ná byna ʼn jaar was dit duidelik – hy sou nie herstel nie. Die breinskade was net te groot.

“Dokters het ons een dag ingeroep en vir ons gesê Wimpie sal na ʼn verswaktesorg-inrigting moet gaan waar daar na hom gekyk kan word. Hy sou nie beter word nie, die voorste gedeelte van sy brein was basies dood,” verduidelik Willa.

Maar vir Willa en Ina was daar nie sprake van ʼn inrigting nie en hulle het Wimpie terug geneem Lydenburg toe waar hulle self na hom sou omsien. Wat daarna gevolg het, was ʼn emosionele wipplank vir Boshoff se ouers en familie, maar een wat hulle elke dag “met krag van bo” aangepak het.

Dag vir dag

Boshoff was bedlêend, afhanklik van buisvoeding en het doeke gedra. Hy moes elke paar uur gedraai word om te voorkom dat hy bedsere kry, elke paar uur moes slym op sy bors met ʼn masjien uitgesuig word, hy moes sy medisyne ontvang, gewas word en sy beddegoed moes omgeruil word.

“Ina se uithouvermoë was ongelooflik. Sy het party nagte niks geslaap nie. As Wimpie ʼn moeilike nag gehad het, het sy die hele nag deur by hom gesit en hom versorg. Op goeie nagte het sy elke vier uur opgestaan om hom te draai. Alles wat hy nodig gehad het, het sy vir hom gegee. En bedags het sy van die huis af gewerk sodat sy deurentyd ʼn wakende oog oor Wimpie kon hou. Sy was ongelooflik,” sê Willa.

Wimpie Boshoff op sy motorfiets voor die ongeluk. Foto: Facebook

“Ons het daardie energie-koeldranke in pakke van ses aangekoop. Ina moes soms ʼn paar van hulle drink om deur die dag te kom as Wimpie ʼn moeilike nag gehad het. Ons kon nooit saam êrens heen gaan nie. As een moet winkel toe gaan, bly die ander een agter om na Wimpie te kyk. As ons albei absoluut iets saam gaan moet doen, het ʼn versorger na Wimpie gekyk, maar dit was maar duur. Ons was altyd by hom.”

Willa vertel hulle het selfs in dié tyd ʼn vakansie Margate toe aangepak met Wimpie saam op ʼn selfgemaakte bed agter in die kombi.

Boshoff se versorging was geensins maklik of sonder probleme nie. Hy het verskeie kere siek geword en moes mediese behandeling by die huis ontvang. Hy moes ook ʼn paar keer weer in die hospitaal opgeneem word. Maar niks kon die Boshoff-egpaar óf vir Wimpie onderkry nie en hy het elke uitdaging wonderbaarlik oorkom.

Sowat twee weke gelede het Boshoff egter begin verswak. “Die laaste twee weke was Wimpie se maag glad nie lekker nie. Ina het hom probeer behandel, maar hy het nie goed gelyk nie. Die laaste drie of vier dae, wou Wimpie glad nie slaap nie. As sy in die nag kyk of hy slaap, dan kyk sy net in daardie potblou oë van hom vas. Wawyd wakker,” sê Willa.

ʼn Dokter het na die huis toe gekom om Boshoff te ondersoek en gesê hy moet dadelik in die hospitaal opgeneem word. Hy is eers in ʼn plaaslike hospitaal opgeneem voordat hy na ʼn hospitaal in Middelburg oorgeplaas is waar hy in die waakeenheid opgeneem is. Daar is hy aan lewensondersteuningmasjiene gekoppel.

“Die susters het vir ons gesê hy is kritiek. Sy hartklop was baie vinnig en hulle kon nie sy bloeddruk gemeet kry nie,” sê Willa.

Woensdagaand het die hospitaalpersoneel vir Willa, Ina en Joey (29), Wimpie se suster, gebel om na die hospitaal toe te kom. “Ons het by sy bed gaan staan. Die masjien langs hom het sy hartkloptelling gewys. 135. En toe het dit net begin afgaan. 130, 125. Al stadiger en stadiger,” sê Willa.

“Toe ons daar staan, was dit asof ʼn mens net geweet het – daar is nie nou meer omdraai nie. 20…10…2… en toe nul. Die masjien het ʼn biep-geluid gemaak en toe sit hulle die masjien af. Dit was 00:23.”

Willa, Ina en Joey het saam by Wimpie se bed gebid en toe beurte geneem om hom te finaal te groet. Ná 1 732 dae, was sy stryd uiteindelik verby.

Wimpie Boshoff ná die ongeluk. Foto: Facebook

As Willa kon kies, sou hy dit anders wou hê? Sou dit beter gewees het om Wimpie eerder daardie dag in Februarie 2014 langs die pad te gegroet het? “Nee,” sê hy. “As ek dit kon oor hê, wens ek Wimpie kon nog langer by ons gewees het.

“Ek het in hierdie tyd my kind beter leer ken as wat ek hom ooit vantevore geken het. Ek weet presies hoe het my kind geruik, hoe sy kussing gelyk het, elke deeltjie van sy gesig. As Wimpie daardie dag langs die pad gesterf het, sou ek nooit die kans gekry het om vir hom te wys hoe lief ek vir hom is nie. Ek sou nie die kans gehad het om vir hom te doen wat ander nie kon nie. Wimpie se brein het seergekry en hy kon nie uiting gee aan sy gedagtes en emosies nie. Maar dit beteken nie hy kon nie daardie liefde ervaar nie.”

Ina sê ook sy is dankbaar vir elke ekstra minuut wat sy met haar “vasbyter-kind” gehad het. Dankbaar dat sy behoorlik kon afskeid neem en tyd met haar seun kon deurbring wat sy dalk andersins nooit sou gehad het nie.

“Ek het daardie aand in die hospitaal vir Wimpie gesê, as jy moet gaan, is dit reg met mamma. Ek het die Here gevra as Hy vir Wimpie moet vat, moet Hy hom dadelik vat. Ek wil nie hê my kind moet ly nie. En hy het nie gely nie.”

Dit is ʼn baie ander lewe wat nou vir Willa en Ina voorlê, maar hulle is dankbaar vir herinneringe waaraan hulle kan vashou. Herinneringe van hul vrolike seun met die baie vriende wat sy lewe voluit geleef het vóór die ongeluk. Herinneringe van Wimpie ná die ongeluk wat altyd vir pa Willa terug gesoen het wanneer Willa soene uitgedeel het en ongeduldig geblaas het as pa hom nou té veel pla. Twee weergawes van Wimpie, sê Willa, maar dieselfde onwrikbare ouerliefde.

ʼn Gedenkdiens vir Wimpie Boshoff word Vrydag om 11:00 Pinkster Protestante Kerk in Lydenburg gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

leser ·

sterkte met die afskeid van jul kind, geen ma of pa wil sien dat hul kind so moet ly
mag jul vertroosting in God vind

Lollie ·

Baie sterkte aan hierdie gesin. Julle dae gaan nou lank en leeg voel. Dit is egter beter so want hy het nie ń lewe gehad nie.
Ek weet dat mens sal klou solank daar enige teken van lewe is. Hy was ń jong man wat geen toekoms gehad het nie.
Wens ons het almal daardie kans om ons alles vir ń geliefde te gee voordat dit te laat is. Sterkte!

nikkie ·

wat ‘n verskriklike hartseer werklikheid, ek ken daardie gevoel om langs ‘n geliefde se bed te staan en te sien hoe die tyd uitloop, vir julle wil ek sê julle is wonderlike ouers om hom so te versorg het, hom gedra het met julle liefde, glo my hy het dit geweet al kon hy nie self dit sê nie, mag God julle Seen ek bid vir julle want dit is kinders wat hulle ouers moet begrawe en nie anders om nie. Rus in vrede Wimpie…..

Ouer-Hart ·

My ouer-hart huil saam met julle. Ek ken nie julle pad nie, maar ek weet dat ek ook elke oomblik moontlik sou wou hê . Innige simpatie aan julle. Mag God julle spesiaal dra in hierdie tyd van afskeid en verlange. Rus in Vrede Wimpie. Mag jy altyd ontdou hoe geliefd jy was en altyd sal wees

Gert ·

So baie ouers kan by julle leer. God seën julle en mag julle vertroosting vind in die wete dat julle jul beste gegee het. Prys die Here vir mense soos julle??

linda limbo ·

ai dis hartseer, mag die Krag en nabyheid van die Allerhoogste met julle wees
baie sterkte~!

Anoniem ·

Bomenslike ouerliefde….

As alle ouers maar so lief is vir hulle kinders en soveel moeite doen, sal die wêreld ‘n baie beter plek wees.

Sê maar net ·

Ek salueer die moeder. Sy is ‘n ystervrou en ‘n ma 10 000. Vader seën u
Mag Hy jul altyd bystaan

Lena Jonk ·

Ja liewe ouers ek weet presies wat julle moet deurmaak, om n kind af te gee aan die dood is iets vreesliks, die ergste wat n mens op aarde kan beleef. Ons het ook n seun op 27jarige ouderdom verloor a.g.v iemand wat oor n stopstraat gery het. Toe ek na sy lyk gaan kyk, het ek daar vir die Here gese Hy het die beste gedoen om hom weg te neem, hy was so vermink want hy was baie aktief en sou dit nie kon verwerk om so te le nie. Baie, baie sterkte vir julle, ons God dra ons daardeur hy is nou veilig met geen pyn nie. Mag Jesus julle styf vashou.

Seeskulp ·

Innige simpatie aan die gesin. Mamma ek wil jou salueer en sê well done. Jy was sterk en gehoorsaam en getrou tot aan die einde. Mag jy God se vrede oorvloedig beleef dat jou seun nou vry is en op die beste plek moontlik.

Wanda fourie ·

Ai Ina, ons was in gedagtes en met booddakappe elke dag deel van Wimpie se lewe. Ons is saam julle hartseer. As ek aan hom dink sien ek daai smile wat altyd op sy gesig was as mens by julle ingestap het. Ons sal Wimpas altyd onthou. Mag God vir jou en Willa die krag gee om deur hierdie tyd te kom. Sterkte.xxx

Rooikop ·

Onvoorwaardelike ouer liefde ………………… aangrypende verhaal ……………..

Sterkte vir die familie

Mercia ·

Sjoe my hart is sommer seer. Mag GOD julle pad seën voorentoe

Geregtigheid ·

Baie sterkte en ons empatie met die verlies van julle kind. Gelukkig kan julle vertrou op die Heilige Gees wat die Trooster is in die droewige en moeilike tyd.

Anoniem ·

My hart bloei vir julle, maar so dankbaar saam met julle dat julle hom kon versorg tot op die einde. Ek het self ‘n seun wat ‘n aneurisme in sy brein gebars het, wat ‘n vrou en seuntjie van 10 jaar oud het. Ek sien hom nie so gereëld nie aangesien hulle in ‘n ander dorp as ek woon, en moet sterk staan ter wille van sy familie. Ek wens ek kon hom net elke dag vashou en versorg, maar ek moet werk…

Klara ·

‘n Dapper dapper dapper Pa en Ma wat elk ‘n reuse monument verdien… Julle lewe is vir ons ‘n inspirasie! Ons sal julle pragtige seun saam met julle onthou. Julle is in ons gedagtes en gebede. Sterkte in die krag van die Een wat vir ons almal Sy Seun gegee het…

Jack ·

Wimpie, mag jy in vrede rus.
Ek het ook ernstige breinbeserings opgedoen en was in 12 dae se tyd 3 afgeskryf as, “op my laaste”, maar ons Vader was vir my so genadig dat ek so goed herstel het dat ek 5 jaar na die ongeluk ander breinbeseerdes kon help.

Sterkte vir jou ouers.

Tuisversorger ·

Ek salueer die ouers. Ek doen self tuisversorging vir n gelede en dit is nie aldag malik nie, maar so voorreg!! Baie sterkte aan die ouers en familie.

Piet Pompies ·

Kinders is kosbaar, elke kind het sy rol en plek vervul in ‘n huis. Daardie plekke sal altyd leeg bly as die kinders weg gaan (sterf). Wees lief vir jou kinders, onvoorwaardelik.
Sterkte aan die ouers, familie en vriende.

Helen ·

Dis so mooi storie, alhoewel dit bitter hartseer is. Ek het ses maande na my ma gekyk wat weens beroerte ook maar afhanklik was van my. Dit was nie maklik nie, maar ek het dit gedoen. Buurvrou en my kleinniggie het ook maar hand bygesit. Maar dit was hoofsaaklik my verantwoordelikheid. As ek kon kies, sou ek kies dat sy daardie noodlottige dag 01 Januarie 2017 dadelik gegaan het. Sy het net lyding ervaar. Maar ek sal ook nie die tyd wat ek haar kon wys hoe lief ek vir haar is, verruil nie. Dis was glad nie maklik nie, en ek het LJ elke dag gevra hoekom sy so moet ly, en Hy moet haar vat. Maar toe gee Hy my ses maande om my liefde aan haar te wys. En nou is sy waar sy wou wees. Reg waar sy hoort….in die Hemel. Sterkte vir die ouers, want dis veel erger om ‘n kind te bêre, as omgeruil.

Brian ·

Ek is so jammer oor julle verlies. Ek bid vir julle familie dat die krag van Bo genadiglik aan julle gegee word.

ZIS ·

Al is `n kind 60 jr oud,dit bly jou kind. Ons seun is Dank aan die Vader se lewe gespaar na `n motorfiets ongeluk en lank in hospitaal met 2 groot opersies en `n heup vervanging. Sterkte met Wimpi se heengaan, in ons gebede is julle by ons. JUlle het hom al jul liefde gegee. God sal julle troos.

Frances ·

Sien hom in die Lig van Jesus, daar waar dit goed en sag is.
Geen siekte of trane of seer of hartseer meer.

MERAAI ·

My hart is so seer vir julle – het elke oggend jou post dop gehou Ina. sterkte en liefde vir julle van – AGAMIS ELISIUM WESRAND – BIKERS CLUB

Essie ·

Geagte Willa en Ina woorde kannie jul opoffering beskryf nie ek was ook in n motorongeluk en vir 3maande bewusteloos en die opofferings wat my ouers vir my gehad ht my ma was bedags langs my bed en my pa moes die pot aan die kook gehou ht maar met die krag en gebed aan ons Liewe Vader Jesus Almagtig ht ek uit die koma gekom en het wonderbaarlik herstel.

Blommie ·

My ouma het altyd gesê :kind groot maak: is 3 woorde maar ‘n lewenslange taak. Will en Ina julle lewenslange taak is nou afgehandel. Die HERE het gegee en geneem. Alle sterkte en vertroosting word julle toegebid ook vir sy sussie en al die ander familie

Andrea ·

Hoe wonderlik is n ouer se liefde vir sy/haar kind nie. Ek het soveel respek vir julle. Vrede, troos, genade en seën vir julle.

Bea ·

My hart gaan uit na jul… Ina en Willa… weet net, waar hy nou is… is geen pyn of leiding… jul al als gegee wat jul kon, en hy het dit geweet. Sterkte

Wynand ·

Ai wimpie almal gaan jou mis.jou ouers is super hero’s!!!!!!

Michelle ·

Blommie – ware woorde.
Kind groot maak – net drie woorde – maar lewenslange taak.

So hartseer storie.
Sterkte aan jul hele familie.

Binks ·

Oom en Tannie….
Ek is self n mamma en weet dat meeste ouers hulle alles sal gee vir hulle kinders, maar julle het ver bo dit gegaan. Dit sit nie in elkeen se broek nie, baie min paartjies oorleef dit. Tannie en Oom is regtig Super ouers. Baie sterkte met dit wat nog voorle.

Stripes ·

Sterkte en my innigste meegevoel aan die gesin, familie en vriende.

Joey Boshoff ·

Mamma en Pappa. Hoe se ek ooit dankie vir dit wat mamma en palla vir my en my broer gedoen het . 1732 dae het mamma hul en my broer elke dag deur geveg. Dae vol struikelblokke en uitdagings wat mamma hulle elke dag oorwin het…. Danki mamma en pappa vir als wat mamma en pappa vir my boetie gedoen het. Lief mamma en pappa onmenslik baie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.