Ouers ruk op na Herold-skool

Die hekpaal op die buurman se grens.

Die gewraakte pilaar by die ingang van die Franken Primêre Skool in Herold naby George, wat ʼn halwe baksteen diep op hul buurman se plaas staan, is Dinsdagoggend afgebreek.

Die verwydering van die pilaar was die afgelope jaar een van vele voorwaardes wat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) moes nakom vóór die verhuurder ʼn nuwe kontrak wou sluit.

Die WKOD huur die geboue reeds etlike jare by die De Villiers-gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) en die predikant, ds. David Elias, weier sedert 2016 om ʼn verdere kontrak te onderteken voordat sy voorwaardes nie nagekom is nie. Op versoek van die WKOD het die skool al die voorwaardes nagekom buiten die imposante pilaar wat bly staan het.

Werkers besig om die hekpaal af te breek.

Die voorwaardes het onder meer ingesluit dat die skool sy biomassa-verwarmingstelsel moes verwyder, sy boorgat moes toesluit en dat die busse die kinders in die hoofpad moes aflaai en nie by die skool se hek nie. Maroela Media het verlede week berig dat die 330 leerders sedertdien daagliks ʼn kan water saambring sodat hulle die skool se spoeltoilette kan gebruik.

Die rede vir die byna onmenslike voorwaardes is glo omdat ds. Elias eintlik die skool wil verkoop en nie verhuur nie, glo om sy pensioen aan te vul. Hy het die eerste opsie aan die WKOD gegee, maar dit het intussen verval.

Die departement se woordvoerder, Millicent Merton, sê die afbreek van die pilaar is deel van die onderhandelings vir ʼn huurooreenkoms terwyl die proses rakende die verkoop van die skool afgehandel word. Verlede week is amptelik laat weet dat die departement van openbare werke die moontlike onderhandeling bekyk.

Ds. David Elias.

Intussen het ds. Elias reeds Sondag tydens die kerkdiens die laaste van die voorgeskrewe drie afkondigings gemaak dat hy die skool gaan verkoop. Die lidmate van die gemeente het reeds ʼn brief met sowat 70 handtekeninge van beswaarmakers na die ring gestuur, maar daar was geen reaksie nie.

Ontstoke inwoners van Herold en die ouers van leerders wat uit die omgewing aangery word, het vroeër die week die skool se hekke gesluit, waarskynlik om druk op die WKOD te plaas om die skool te koop sodat dit nie in ander hande val en gesluit word nie. Hulle vrees dat hul kinders sowat 40 km verder na skole in George en Oudtshoorn sal moet gaan. Die arm gemeenskap kan dit nie bekostig nie en dit sal boonop baie ongerieflik wees.

Merton het aan Maroela Media gesê die ouers wou antwoorde oor die toekoms van die skool hê, asook dat die WKOD dit duidelik gemaak het dat die departement nie van voorneme is om die skool te sluit nie. “Die ouers het die perseel daarna verlaat en die skoolprogram is hervat.”

Ouers het vroeër die week na die skool opgeruk.

Die ouers en die krisiskomitee wat gestig is om die verkoop van die skool stop te sit, hou egter vol dat die skool nie te koop is nie en dat die predikant nog nooit ʼn mandaat gehad het om namens die gemeente te onderhandel nie. Hulle sê ds. Elias moes volgens die Kerkorde reeds afgetree het. Hy is dus onwettig hul predikant en die kerk se grond is al in 1933 aan die gemeente geskenk.

Ds. Elias se konsultant, Theo Adams, se swartbemagtigingsmaatskappy besit die buurplaas wat die kerk en die skool omring en dis op sy grond waar die hekpaal gestaan het. Adams het gevorderde planne om Herold in ʼn historiese toeriste-aantreklikheid te omskep en ʼn behuisingskompleks in die piepklein dorpie te ontwikkel.

Die inwoners vrees dat Adams ook die skool wil bekom, maar hy het reeds herhaaldelik gesê dat hy nie belangstel nie en bloot ʼn professionele raadgewingsdiens aan die VGK lewer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Baardman ·

Die ds. moet hom bepaal om sy gemeente te bedien en begin glo wat hy veronderstel is om te preek, naamlik dat hy nie moet kwel oor die dag van more, wat hy sal eet of aantrek nie.

Heinrich ·

Dit wil vir my voorkom asof hierdie predikant hom nie te veel skaar met die breër gemeenskap nie. Ek sal graag sy kant van die storie wil hoor…

Drico ·

En jy noem jouself n Godsman! Is daar dan niemand wat die ouers en kinders kan bystaan nie?! Satan het altyd die wreedste aanvalle op God se kinders. Ek kan net in gebed tree, wens ek was in die posisie om meer te doen tesame met gebed.

Harold ·

Daar is soveel predikers wat sê Here,Here maar totaal n ander god soos bv. mammon dien. Laat die Sinode besluit en God in die saak ken .Hy sal eendag aan ons Vader met sê,hoe hy die skape gelei he

Karel Kobus Kruger ·

Van wanneer af het n dominee die finale sê oor n gemeente se bates? Eendag lank lank gelede was daar n goeie dominee. Maar dit was lank gelede, en ook net vir een dag.

My siening ·

En hy meen hy leef as n herder van n gemeente wat hy benadeel, ja jy kry goeie en slegte mense kies maar wat is die een!

Sarel ·

Hier is iets nie reg nie en die Kerk help ook nie. Soos daai ou in ons huis Mr. Nobody. Jy kry hom nooit en daarom.ooknie vir Mr. Somebody nir

Gert ·

Ek verstaan die man wil aftree maar hy kan mos nie die kerk se bates verkoop vir eie gewin nie die volgende predikant moet mos aangaan waar hy ophou. Ek wonder net wat gaan gebeur as elke predikant besluit nou verkoop ek die kerk se bates en tree af

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.