Pa, seun se as tydens rooftog gebuit

(Foto ter illustrasie: Pixabay)

ʼn 50-jarige vrou van Pretoria pleit om hulp ná haar twee belangrikste besittings – die enigste tasbare bewys dat haar man en kind geleef het – tydens ʼn gewapende rooftog by haar huis in Montana gesteel is.

Nadine van Dyk sê sy het Maandag omstreeks 03:30 met drie vreemde mans in haar kamer en ʼn geweer teen haar kop wakker geskrik. Die verdagtes het glo haar hande en voete met drade vasgebind en haar mond toegeplak dat sy nie kon skree nie.

“Hulle het selfs my oë toegemaak sodat ek nie kon sien nie. Daarna het hulle my oor die rug en kop met iets geslaan. Ek is nie seker wat dit was nie.”

Die boewe het haar later gelos om te vat wat hulle in die huis kon kry. Van Dyk kon oomblikke later daarin slaag om haarself los te wikkel. Sy het deur die badkamervenster en oor palissades geklim om hulp by die bure te gaan soek, waarna die bure die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) na die toneel ontbied het.

Dit was egter reeds te laat. Van Dyk se huis was byna leeggeplunder en haar hart was selfs leër toe sy uitvind dat die booswigte met haar man en seun se as – wat in reghoekige houtkissies gebêre was – op die vlug geslaan het.

“Ek het nie regtig besittings van groot waarde nie, maar dit wat hulle gevat het, was van onskatbare waarde vir my,” sê sy emosioneel.

Haar man, Kobus, is twee maande gelede, slegs ʼn maand ná sy 60ste verjaarsdag, aan natuurlike oorsake in die hospitaal dood.

Byna vier jaar gelede moes Van Dyk boonop iets deurmaak wat geen ouer ooit behoort te beleef nie. Sy het op die lewelose liggaam van haar 19-jarige seun, Josua, afgekom toe sy hom een oggend vir werk wou wakker maak. ʼn Bloedklont het vermoedelik deur sy hart gegaan.

“My man en seun se as is die belangrikste twee besittings in my lewe. Dit is hoe ek vir my twee manne tot Sondag toe nog môre- en naggesê het. Dit is hoe ek hulle naby aan my kon hou,” vertel sy.

“Wanneer ek in die oggende vir die dag gereedmaak en ek eet ontbyt, dan gesels ek altyd met my twee manne.

“Ek kan vir jare oor hulle aangaan. Hulle was my alles. My man en my seun was my beste maats. Ons was onafskeidbaar, ons wou net altyd bymekaar wees, en toe is hulle weg … nou is die enigste tasbare bewys dat my man en seun geleef het, ook uit my lewe geruk.

“Die rowers kon my hele huis leegbuit, hulle kon alles vat wat hulle wou hê, niks is vir my so belangrik soos wat my man en my seun vir my was nie. Kon hulle nie maar net dit vir my gelos het nie?”

Sy sê een van die houtkissies het haar seun se naam, Josua van Dyk, en sy geboorte- en sterftedatum daarop gegraveer. Haar man, Kobus van Dyk, se houtkissie het ʼn goue plaatjie met sy naam en geboorte- en sterftedatum daarop.

“Ek weet nie wat die booswigte daarmee sal wil doen nie. Ek is seker hulle gaan net iewers daarvan ontslae raak.

“As iemand in Montana of in die omgewing dit dalk optel, vra ek dat hulle asseblief die GPF sal bel. Hulle is bewus daarvan.

“Asseblief, ek wil dit baie graag terughê. Dit is al wat ek van my man en my seun oorhet. Vir die boewe is dit net as, maar my hele lewe is in daardie twee houtkissies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.