Pa verdrink in vakansieoord se swembad

Erik Rautenbach (Foto: Facebook)

’n Vrystaatse gesin se wegbreek na ’n vakansieoord in Ventersburg het in ’n nagmerrie ontaard toe die 35-jarige pa in die oord se swembad verdrink het.

Erik Rautenbach (35), sy vriendin, Luzinda Harmse, en hul dogter, Zonika Rautenbach, van Riebeeckstad, Welkom, het Sondag die Aldam-vakansieoord besoek.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, is die polisie omstreeks 16:00 van Rautenbach se verdrinking ingelig.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle ’n man [Rautenbach] uit die swembad gehaal. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar,” sê Thakeng.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die familie het Rautenbach op die toneel geïdentifiseer.

Rudi Smit, bestuurder van die vakansieoord, het aan Maroela Media gesê dat die geregtelike doodsondersoek meer duidelikheid oor die voorval sal gee.

Volgens Smit het die oord se personeellede nie gesien wat gebeur het nie, maar die oord verleen volle samewerking aan die polisie.

“Toe ons personeel na die toneel ontbied is, is hulle reeds ingelig dat die man oorlede is,” sê Smit.

Harmse en Rautenbach het saam die onderneming Burglarproof – Electronics, Security & Refrigeration bedryf wat huishoudelike toerusting verkoop en installeer.

Maroela Media kon nog nie vir Harmse in die hande kry vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Waar was die lewensredders en 25uur toesig rondom die swembad? Die polisie moes die liggaam uit die swembad haal……rerig!

Blom ·

JohanR, nie alle vakansieoorde het lewensredders by hulle swembaddens nie. Ons kuier elke jaar by ‘n baie bekende strandoord op die Suidkus en daar is duidelike tekens dat geen lewensredders aan diens is by die swembad nie.

Nettie ·

Sjoe. Hoe ontsettend. Sterkte aan die familie. Mag hy in vrede rus, en mag God aan sy gesin en familie vertroosting bring.

Casper ·

Was hy alleen in die swembad? Niemand het iets vedag opgemerk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.