Pa verkoop kosbare trekker om vir dogter se studie te betaal

Dr. Mosima Mabitsela. (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die meeste ouers sal enigiets opoffer om toe te sien dat hul kinders gesond, gelukkig en suksesvol is. Toe dr. Mosima Mabitsela van Limpopo vandeesweek haar PhD-graad in landboukunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal, het haar trotse pa, Mamothatha, geweet dit was deur en deur die moeite werd om sy kosbare trekker te verkoop om vir sy dogter se studie te betaal.

“Ek is trots, trots, trots. Ek sou alles verkoop wat ek besit,” het hy in reaksie op haar prestasie gesê.

Mabitsela, wat in die voetspore van baie generasies boere in haar familie volg, is die eerste om ʼn doktorsgraad te behaal, het die US Woensdag gesê.

Een van die vroegste herinneringe in haar lewe is om saam met haar ouma in die landerye te werk. Sy weet dus alte goed wat die uitwerking van klimaatsverandering en uiterste omstandighede op landbouproduksie is.

Dit is daarom geen verrassing dat dié voornemende agronoom (landboukundige) haar lewe wil toewy om kostedoeltreffende en groen boerdery-oplossings te vind nie. Sy heet boonop na ʼn landboustreek in Suid-Afrika se mees noordelike provinsie.

“Voedselsekerheid is ʼn groot uitdaging op die Afrika-kontinent, so ek kan ʼn groot verskil maak deur met volhoubare maniere om te boer vorendag te kom,” het Mabitsela gesê.

Sy sê voorts haar loopbaankeuse was ʼn natuurlike volgende stap aangesien sy in ʼn boerderyfamilie grootgeword en by die Harry Oppenheimer-landbouskool in Mokopane onderrig ontvang het.

Dr. Mosima Mabitsela by haar ouers, Mamothatha en Chuene. (Foto: Verskaf / US)

Daarna het Mabitsela haar tersiêre studie en meestersgraad by die Universiteit van Zoeloeland voortgesit en voltooi.

Sy het gekies om na die Wes-Kaap te verhuis om haar doktorsgraad by die US te doen aangesien dié universiteit “die beste landboufakulteit het”.

Mabitsela erken dit was ʼn groot kultuurskok aangesien die meeste studente by die veel kleiner KwaZulu-Natalse universiteit net Zoeloe gepraat het. Dit was ook moeilik om so lank van haar familie af weg te wees.

Sy sê sy het egter gou aangepas danksy haar “dryfkrag en dissipline”.

Benewens die verkoop van haar pa se trekker, wat die weg gebaan het sodat sy haar studie kon voltooi, het Mabitsela bykomende finansiering insluitend ʼn beurs bekom.

Met ʼn skerp fokus op akademiese sukses moes Mabitsela haar studie dikwels bo ander aktiwiteite en tyd saam met vriende stel, het sy gesê.

Hierdie opofferings het egter vrugte afgewerp en sy kan nou met trots na haar landelike gemeenskap terugkeer – met ʼn doktorsgraad agter haar naam.

Sy is veral opgewonde om haar kennis oor klimaat-slim-boerdery te deel.

ʼn Groot en belangrike deel van haar studie was om te bepaal hoe die inheemse angola-ertjie (Bambare groundnut) sou vaar indien dit in ʼn laekoste-, grondlose stelsel (aeroponics) en saagsels gekweek word.

Hierdie peulgewas was boonop ʼn trooskos vir Mabitsela as kind. Sy glo die angola-grondertjie kan deurslaggewend wees om gemeenskappe se afhanklikheid van rys, graan en mielies te verminder.

Volgens die US het Mabitsela se navorsing gewys dat die angola-ertjie boonop beter gevaar het wanneer dit in die laekoste-, grondlose stelsel as die tradisionele waterstelsel (hydroponics) gekweek word.

Dit kan dus aan gemeenskappe ʼn alternatiewe en meer volhoubare manier bied om te boer en hulself en hul gemeenskappe te onderhou.

Mabitsela werk tans as intern by AbInBev.

Haar raad aan voornemende studente wat ʼn loopbaan in landboukunde oorweeg, is om “gereed te wees vir ʼn uitdaging”.

Sy sê ʼn mens moet bereid wees om te leer aangesien agronomie divers is.

“Wees entoesiasties, benut elke geleentheid wat jou kan help om te ontwikkel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Aai ·

Baie slim plan daai die trekker het seker net gestaan en geen doel gehad.Baie geluk

Oom Charles ·

Die trekker het sekerlik nie ongebruik rondgestaan nie. Die familie weet van boerdery.
Geluk aan die presteerder.
Elke Suidafrikaner wat iets doen vir die toekoms is in my oë ‘n held.

Riette ·

Hartseer dat die kommentaar hierbo so negatief is. Studies is duur en haar pa het alles gedoen wat hy kon. Haar hele familie is boere. Gun haar haar prestasie. Welgedaan dr. Mosima Mabitsela!!! Baie trots op jou!!!

hpven ·

@ Cherokee, veral as dit lank gelede ingegooi was en ons bereken die toegevoegde waarde daarvan…

Wondermaarnet ·

As elke ouer net so omgegee het, dan was SA ‘n beter plek. Baie geluk met die prestasie.

Namgrl ·

Oh Wow!!! van die kommentaar hier bo laat mens wonder. Gun jul niks vir die volgende persoon nie. Laat ons bly wees met hierdie dogter en haar ouers, hul het gedoen wat hul moes om deur die studies te kom. Beneweens die feit dat die trekter verkoop was, het sy darem ook ‘n beurs bekom, wat gehelp het. Sy het nie bakhand gaan staan nie, sy het gewerk vir wat sy wil he. Welgedaan dame!!!! Jy het dit gemaak in hierdie afgunstige wereld, waar nie alle mense sukses gegun word nie. Pas nou dit toe wat jy geleer het en wys ONS waartoe jy in staat is Dr!!
Geseende Paasfees mense.

Cassie Carstens ·

Ek swel van trots vir wat die dame bereik het met ondersteuning van haar ouers. Hulle het nie bakhand gestaan nie, maar sy het haar kant gebring en hard gewerk ook. Veels geluk. Geseende Paasfees vir julle as familie ook!

SjN ·

Baie geluk met die prestasie, wys net, waar n wil is, is daar n weg.

Annakapat ·

@Joan, jy sou sekerlik ook iets verkeerd gevind het as sy dalk maer was – skaam jou!
Nietemin, baie geluk, Dr!
Jy en jou ouers mag maar trots wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.