Pa vertel van ‘grootste vrees’ ná seun verdwyn

Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19) is Vrydagmiddag laas by Kirkland se woonstelgebou op Stellenbosch gewaar (Foto: SAPS)

Paul Midlane het Saterdag die oproep gekry wat enige ouer vrees: Jou seun word vermis.

Ethan Kirkland (19) en sy vriendin, Leila Lees (18), is Vrydagaand laas in Ethan se motor by sy woonstel in Stellenbosch gesien. Lees is die kleindogter van die befaamde joernalis Max du Preez. Sy was ʼn kelner op die dorp en Kirkland ʼn eerstejaar BSsc-rekenaarwetenskappestudent aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Ná ʼn grootskaalse soektog is die motor – met die twee jong mense se liggame daarin –  Maandagoggend in ʼn steengroef op die dorp gevind.

Volgens Midlane dui inligting in hierdie stadium daarop dat die twee in ʼn motorongeluk was, maar die polisie het dit nog nie amptelik aan Maroela Media bevestig nie.

ʼn Hartgebroke Midlane vertel hy het eers gehoop dat Ethan en Leila dalk iewers heen gery en oorgeslaap het.

“Hy het graag in sy motor geklim en iewers heen gery.”

Maar toe die familie begin dieper delf, het die realiteit dat die twee studente “iets ernstig” oorgekom het, begin insink.

“Ethan was Vrydagaand laas op WhatsApp en dit was ook die laaste keer wat hy sy bankkaart gebruik het.”

Die familie het hospitale en lykshuise in en rondom Stellenbosch gebel, maar niks wys geword nie.

“Ons het ook dadelik die idee dat hulle in ʼn ongeluk was, uitgeskakel, want dan sou dit al iewers aangemeld gewees het.”

Midlane is Sondagoggend van Pretoria na Stellenbosch om na Ethan en Leila te help soek.

“Van toe af het ek net gehoop vir die beste en terselfdertyd gevrees vir die ergste”.

Ethan en Leila is Saterdagoggend as vermis aangemeld nadat Leila nie die oggend vir haar skof by ʼn bekende restaurant op die dorp opgedaag het nie. Beide Leila en Ethan se selfone was ook afgeskakel en niemand kon hulle in die hande kry nie.

Vrydagaand

Kamerabeeldmateriaal by die woonstelgebou The Niche, waar Ethan gewoon het, wys sy maroenkleurige Subaru Forester het Vrydag omstreeks 23:45 die perseel verlaat.

Volgens Midlane is Ethan daarna na die kampus om ʼn vriend by ʼn koshuis af te laai.

“Kamerabeeldmateriaal op kampus wys hoe Ethan sy vriend omstreeks 23:51 aflaai, ʼn U-draai maak en dan die kampus verlaat,” sê Midlane.

Die laaste beeldmateriaal (net voor middernag) van Ethan se motor is vasgevang toe hy na Van Ryneveldstraat afdraai. Die beeldopname het ná middernag afgesny weens beurtkrag wat ingeskop het.

“Van die kampus af draai Ethan gewoonlik in Van Ryneveldstraat af om terug te ry na sy woonstel toe.”

Die woonstelgebou is in Paul Krugerweg geleë en die steengroef waar Ethan se motor gevind is, is op die hoek van Paul Krugerweg en Birdstraat geleë. Die steengroef is sowat 300 meter van die woonstelgebou af.

Volgens Midlane het ʼn inwoner, wat naby die steengroef woon, die Vrydagaand aangemeld dat sy kort voor middernag ʼn harde slag – wat soos ʼn ongeluk klink – gehoor het.

“Owerhede na die toneel ontbied, maar het later bevestig daar was geen ongeluk nie en dat dit ʼn vals alarm was. Hulle kon nie die kar sien nie, want dit was toe seker reeds diep in die steengroef,” sê Midlane.

Soektog

(Foto: Google Maps

Midlane is ewig dankbaar teenoor Ethan se medestudente wat vir twee dae nie ʼn oog toegemaak het nie om na hom en Leila te soek.

“Die studente was goed gemobiliseer om te help met die soektog. Hulle het witborde, kontrolekamers en WhatsApp-groepe gehad. Hulle het van deur tot deur gegaan, kamer tot kamer nagegaan en selfs ʼn hommeltuig in die lug opgestuur.

Aan die anderkant was Midlane teleurgesteld in die polisie wat nie “goed gekoördineer, toegerus en gesentraliseerd” was nie.

“Dit is asof hulle nie só ʼn groot soektog kan hanteer nie. En boonop voel dit asof jy ‘bakhand voor hulle staan’ en vra hulle moet jou met die soektog help.”

Midlane het die polisie Maandagoggend gevra om die honde-eenheid in te span om te help met die soektog.

“Toe ek vra of hulle helikopters ook kan stuur, is ek afgelag.”

Munisipale kamerabeeldmateriaal het daarop gedui dat Ethan en Leila nie Stellenbosch verlaat het nie, en daarom het die soekpartye die dorp gefynkam op soek na die paartjie.

ʼn Lid van die gemeenskap het Maandag omstreeks 10:10 ʼn voorwerp in die steengroef op die hoek van Paul Krugerweg en Birdstraat in Stellenbosch gewaar. Die persoon het die owerhede na die toneel ontbied en Ethan se motor is met ʼn hyskraan uit die water gehaal.

“Dit was vir my opmerklik hoe die polisie, ambulanse en brandweer toe eensklaps op die toneel opgedaag het. Waar was hulle toe ons hulle tydens die soektog nodig gehad het?”

Midlane sê op die toneel het dit gelyk of die motor onderdeur die omheining – wat rondom die steengroef gespan is – gegaan het.

“Die omheining was nie plat nie, so die motor kon nie bo-oor gaan nie.”

Sinnelose dood

Volgens Midlane is Ethan en Leila se dood “sinneloos” en probeer hulle sin maak van wat presies gebeur het.

“Daar is en sal nooit ʼn antwoord of verduideliking wees nie.”

Midlane sê daar moet ook werk gemaak word van die onveilige steengroef.

“Ek het met inwoners gepraat en klink my die steengroef is al jare daar. Daar is egter geen behoortlike sekuriteitshekke, mure of waarskuwingstekens opgerig nie.”

Volgens Midlane was Ethan ʼn geliefde mens.

“Hy was vriende met almal en het soveel mense se lewens aangeraak. Hy het altyd tyd vir enigiemand gehad en was beslis ʼn mense-mens.”

Ethan se vriendin, Emma Pretorius, vertel hy het soveel vreugde in haar lewe gebring. Pretorius was betrokke by Ethan en Leila se soektog.

“Alles sal my aan hom herinner: Musiek, sterre, die strand en sonsondergang,” sê Pretorius.

Volgens Midlane was Ethan en Leila nog nie lank in ʼn verhouding nie en het hy haar nooit self ontmoet nie.

Die polisie het bevestig hulle ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nico ·

Hartseer om 2 sulke pragtige jong mense te verloor! Sterkte aan die families!!

Sheree ·

Dis verskriklik hartseer. Sterkte aan al die familie en vriende.

Nettie ·

Ek is so jammer vir julle bitter groot verlies. Hoe hartseer. Mag hulle in vrede rus en mag God die families vertroos. Dankie vir almal wat wel gehelp soek het.

Mens wonder waarom ons nog belasting betaal as mense in hul privaat hoedanigheid hierdie tipe werk moet verrig. Maar nouja, ek’s dankbaar hulle is wel gekry. Net jammer dit was nie goeie nuus nie.

Swerwer ·

Simpatie en meegevoel met die families van die twee jong mense.

FCR ·

Ai dis hartseer om sulke goed te lees. My innige simpatie met beide se familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.