Paartjie dood na blootstelling aan giftige gasse

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

ʼn Paartjie is Woensdagoggend dood in hul woonstel aangetref nadat hulle aan giftige gasse blootgestel is. Dié walms was glo van ʼn naburige woonstel afkomstig.

ʼn Familielid van die paartjie het die oggend na hul woonstel gegaan nadat hulle nie op oproepe gereageer het nie.

“Die familielid het die man en vrou in die woonstel aangetref. Hulle het leweloos voorgekom,” sê Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911.

Paramedici is kort ná 10:00 na die woonstel in Currieweg in Musgrave, Durban, ontbied en het enkele minute later by die toneel opgedaag.

Die eThekwini- plaaslike munisipaliteit se brandweer- en reddingsdiens, asook die polisie se springstof-eenheid was op die toneel.

“Dit het aan die lig gekom dat die aangrensende woonstel, wat leeg staan, vroeër berook is. Die middels het ʼn giftige wit poeierneerslag gehad,” sê Herbst.

Die brandweer moes eers ʼn industriële waaier gebruik om die giftige stof uit die woonstel te kry voordat paramedici die toneel kon betree.

Paramedici en lede van die brandweer moes asemhalingsapparaat gebruik om die eenheid binne te gaan.

“Hulle het ʼn volwasse man en ʼn volwasse vrou in hul bed aangetref en gehaas om hulle te help. Die paartjie het egter leweloos voorgekom en is op die toneel dood verklaar.”

Die omstandighede van die paartjie se skielike dood word nou deur die polisie ondersoek.

Dit is nog nie duidelik of die familie van die oorledenes in hul persoonlike hoedanigheid verdere stappe gaan doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

Nou hoe kom n aangrensende woonstel se gif in hulle woonstel in?

Marcello ·

Die vensters en deure was seker nie dig nie. Sommige van die ou geboue se instandhouding iks maar power, om die minste te sê, plekke word uitverhuur, maar jy sien nie ‘n eienaar naby die plek wat jy huur nie. Hulle wil net die huur ontvanng, en dit is dit.

La-di-da ·

Dit is vreeslik hartseer dat 2 jongmense op dié manier aan hul dood kom. Innige meegevoel met die familie

Herman L ·

Dit is uiters onverantwoordelik om giftige gas vry te laat waar daar mense in die nabyheid is! Is dit nie teen die wet nie? Die naasbestaandes het duidelik ‘n sterk saak om die skuldiges verantwoordelik te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.