Pakt-regering ná eeu dalk weer SA se voorland

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto’s: Twitter)

In die algemene verkiesing van 1924 het genl. J.B.M. Hertzog se Nasionale Party en F.H.P. Creswell se Arbeidersparty kragte saamgesnoer en genl. J.C. Smuts se Suid-Afrikaanse Party uit die kussings gelig.

Hertzog het Smuts as eerste minister vervang en Creswell is onder meer as minister van arbeid aangestel. Wesenlike ekonomiese verandering sou daarna gevolg.

Grondwetkenner prof. Koos Malan gaan sover om te sê dat dié destydse pakt-regering tussen ’n Afrikaanse nasionalistiese party en ’n Engelse sosialistiese party waarskynlik een van die beste regerings was wat Suid-Afrika al ooit gehad het.

Maar kan die geskiedenis hom – ironies genoeg presies ’n eeu later – in die algemene verkiesing van 2024 herhaal?

Politieke kenners en opposisiepartye is dit eens dat daar tans geen enkele politieke party is wat die ANC op sy eie kan onttroon nie.

“Suid-Afrika is in diep politieke moeilikheid. Dit is onvermydelik waar ons onsself tans bevind. Daar gáán ná 2024 ’n koalisieregering wees,” sê die skrywer en politieke kommentator Prince Mashele.

Mashele het egter sy bedenkinge of ’n pakt-regering weer kan werk. “Koalisies is van nature baie ingewikkeld. Daar is ook geen konkrete wetgewing rondom koalisies nie.”

Maroela Media het vroeër berig sewe politieke partye wat hoop om die ANC saam te onttroon kom volgende maand vir ʼn historiese konvensie byeen. Dit sluit in die DA, VF Plus, IVP, ActionSA, Nasionale Vryheidsparty (NFP), United Independent Movement (UIM) en die Spectrum National Party (SNP).

John Steenhuisen, leier van die DA, sê dié voorgestelde Moonshot-pakt bied opposisiepartye die heel beste kans om die ANC te ontsetel, die EFF uit mag te hou en ‘n meerderheid van 50% plus 1 te behaal om ’n stabiele nuwe regering tot stand te bring.

‘n Verkiesingsplakkaat van die VF Plus bloot ter illustrasie. (Foto: Elaine Krige)

Die opposisieleier glo ook die partye in die pakt sal “binne trefafstand” kom om Gauteng en KwaZulu-Natal te verower. “Die Noord-Kaap en die Vrystaat is ook ter sprake.”

Mashele is egter bekommerd daaroor dat die kleiner partye in die sogenaamde droom-pakt oor die vermoë beskik om die pakt te destabiliseer, aangesien die groter partye nie alleen ’n 50% meerderheid sal kan verseker nie.

“Dis ingewikkeld. ’n Kleiner party kan altyd kop uittrek en besluit om sy stemme vir die EFF of die ANC te gee. Dit is vir my die grootste risiko rondom ’n pakt-regering – hoe vertrou jy die kleiner partye?”

Malan glo egter dit is heeltemal moontlik vir sewe partye om saam te werk indien hulle nie teen mekaar veg nie maar eerder saam teen ‘n gemeenskaplike opponent.

Mashele meen daar is veel meer nodig as die partye se gemeenskaplike afkeer van die ANC.

“Dit is nie genoeg nie. Hierdie partye gaan Eskom moet regruk en elektrisiteit aan die land moet verskaf. Hierdie politieke partye gaan werkloosheid moet pak en ekonomiese groei moet bewerkstelling. ’n Gemeenskaplike haat vir die ANC is nie genoeg nie.

“Ja, die ANC het ons probleme veroorsaak. Maar hierdie regte brood-en-botter-probleme het konkrete beleide nodig om opgelos te word.”

‘Konvensie voortydig, ’n groot fout’

Mashele dink dis ’n fout om volgende maand reeds ’n konvensie aan te bied om ʼn gemeenskaplike visie vir ʼn nuwe regering uit te pluis.

“Sommige van die partye wat die konvensie volgende maand bywoon gaan waarskynlik nie eers ’n setel in die parlement kry nie,” wys Mashele daarop. “Dis waarom jy nie ‘n koalisie-ooreenkoms voor ’n verkiesing onderhandel nie. Jy doen dit ná ’n verkiesing want dan weet jy wie het die stemme.

“Die konvensie is baie voortydig. Hulle mors mekaar se tyd.”

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Mashele sê die partye behoort eerder hul aandag te vestig op hoe hulle soveel moontlik stemme gaan werf.  “Hulle moet eers die stemme verseker voordat hulle oor koalisieregering kan begin praat.”

Mashele waarsku dat die politieke party ook moontlik hul kiesers voor die verkiesing gaan verwar  aangesien die kiesers moontlik nie met die ideologieë van die ander partye in die pakt saamstem nie.”

Intussen mobiliseer die Moonshot-pakt die ANC en EFF om hul kragte saam te snoer.

“Hulle maak ’n groot fout,” sê Mashele.

Malan sê Suid-Afrikaners wat te vinde is vir die sogenaamde Moonshot-pakt kan vir enige party in dié pakt stem “solank dit nie vir die EFF of die ANC is nie”.

Malan en Mashele glo die ANC is bekommerd oor die pakt wat sy opposisiepartye wil vorm. Dit is egter nie die regerende party se grootste bekommernis nie.

“Ek dink die ANC is eerstens bekommerd oor die moedeloosheid en neerslagtigheid onder swart kiesers wat al armer word en dan tweedens bekommerd oor die pakt,” sê Malan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.