Palma-terreur: Sowat 30 000 vlug reeds

Sowat 2 600 mense is reeds in die geweld in Palma dood en ’n driekwartmiljoen mense ontwortel. (Foto: TVM)

Die Verenigde Nasies (VN) sê nagenoeg 30 000 mense het reeds uit Palma in die noorde van Mosambiek gevlug nadat djihadiste dié kusdorp verlede maand aangeval het.

Die geweld het reeds meer as 2 600 lewens geëis en sowat ’n driekwartmiljoen mense ontwortel.

Maroela Media het vroeër berig dat die fyn beplande aanval ’n keerpunt is in ’n insypeling wat die afgelope drie jaar chaos in die Cabo Delgado-provinsie veroorsaak het terwyl djihadiste ’n kalifaat daar probeer vestig het.

Babar Baloch, woordvoerder van die VN se vlugteling-agentskap, sê hulle is diep bekommerd oor die humanitêre gevolge van die vinnige toename in geweld. Hy sê dit lei ook tot al hoe meer growwe menseregteskendings.

“Ons is veral bekommerd oor die welstand van die mees kwesbare mense onder diegene wat sedertdien ontwortel is, onder wie vroue en kinders,” sê Baloch.

Volgens hom het mense wat gevlug het geweldig gesukkel om plekke van veiligheid te bereik – sowel in die land as oor landsgrense.

Die VN is voorts ook uiters bekommerd oor talle familielede wat gevolglik van mekaar geskei is.

“Honderde kinders kom sonder hul ouers by plekke van veiligheid aan – uitgeput en getraumatiseerd,” sê Baloch.

Kommer heers ook omdat mense wat ontwortel is of na plekke van veiligheid gevlug het, dié bestemmings sonder enige besittings bereik.

“Baie van hulle ly ook aan siektetoestande of is erg ondervoed,” het hy gesê.

Die geweld in Palma het Total, die Franse energiereus, ook gedwing om sy nabygeleë multi-miljard rand se gasaanleg op die lange baan te skuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Versigtig dat dit nie eendag lees – nagenoeg 300 000 mense het reeds uit Nelspruit gevlug nadat djihadiste dié dorp oorgeneem het. ISIS is nou een groep wat ek nie onder wil leef nie dankie.

sopbeen ·

Ai ek voel vreeslik jammer vir die kindertjies, oumense en die diere. Wie gaan nou vir hulle sorg?

Elize ·

Hier is iets snaaks aan die gang. Die regering lyk nie uitgestress oor die aangeleentheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.