Pampoenkraal-boere doen aansoek om ontslag

Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg en Zenzele Patrick Yende (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die verdediging in die opspraakwekkende Pampoenkraal-moordsaak het Woensdag ʼn aansoek om ontslag ingevolge art. 174 van die Strafproseswet ingedien.

Dit volg nadat die staat Maandag sy saak gesluit het.

Met die aansoek vra die verdediging, onder leiding van adv. Jaap Cilliers, adv. Marius van Zyl en adv. Werner Jungbluth, dat die ses aanklagte teen die sewe beskuldigdes teruggetrek word.

Daniel Cornelius Malan, Cornelius Lourens Greyling, Othard Johan Klingenberg, Ignatius Michael Steynberg, Zenzele Mzikayise Patrick Yende, Andries Pienaar en Werner Potgieter staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, ontvoering, dwarsboming van die gereg en die oortreding van die Wet op Beheer van Vuurwapens.

Die beskuldigdes het skuld op al die aanklagte ontken.

Die aanklagte teen hulle hou verband met die skietdood van Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka op 9 April 2021 op Pampoenkraal, ʼn plaas in die Piet Retief-omgewing.

Van links: Othard Klingenberg, Ignatius Steynberg, Andries Pienaar en Werner Potgieter (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die verdediging voer aan dat die staat se getuienis wat in die hof aangebied is nie genoegsaam is om te bewys dat die beskuldigdes hulself aan dié aanklagte aandadig gemaak het nie.

Die verdediging het Woensdag in die landdroshof op Evander, Mpumalanga, gestel dat die staat ʼn swak saak het en nie kon bewys dat die beskuldigdes wel die misdrywe waarvoor hulle aangekla word, gepleeg het nie.

Volgens die verdediging kon die staat ook nie sy weergawe dat Klingenberg vir Mgcini uit noodweer geskiet en dat Mgcini sy broer geskiet het, weerlê nie.

Ongeloofwaardige getuies

Cornelius Greyling (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die verdediging het in sy aansoek die “onbetroubaarheid en ongeloofwaardigheid” van die staatsgetuies uitgelig.

Volgens die verdediging was die weergawes van die ooggetuies wat die staat geroep het om te getuig, deurspek van teenstrydighede en het hul weergawes oor wat daardie dag gebeur het ook soos dag en nag van mekaar verskil.

Die verdediging voer aan dat dié getuinenisse ook teenstrydig is met die “werklike bewyse” (ballistiese toetse en ʼn video-opname van die gebeure wat die noodlottige skietery voorafgegaan het).

Die ballistiese toetse, video-opname en getuienis staaf die verdediging se saak dat Steynberg, Yende, Pienaar en Potgieter nie eers op die toneel van die skietery was nie.

Volgens ballistiese toetse het Malan en Greyling, wat wel op die toneel was, nie die sneller getrek nie omdat daar geen geweerresidu op hul hande gevind is nie. Die projektiele in Mgcini se liggaam behoort aan die vuurwapen van Klingenberg, wat op die toneel was.

Daar is geweerresidu op Klingenberg se hande gevind. Hy voer in sy verklaring aan dat hy Mgcini uit selfverdediging geskiet het nadat Mgcini verskeie skote afgevuur het.

Daniel Malan (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Volgens die verdediging se weergawe het Mgcini vir Zenzele met Moolman se vuurwapen geskiet. Daar is geweerresidu op Mgcini se regterhand gekry en Moolman se vuurwapen is langs sy liggaam gevind. Daar is geen geweerresidu op Moolman se hande gevind nie. Die verdediging voer aan Moolman was nie by sy bewussyn tydens die voorval nie nadat Mgcini hom met ʼn piksteel oor die kop geslaan het.

Die verdediging het ook uitgelig dat daar geen rede vir die beskuldigdes was om vir Zenzele te skiet nie, omdat hy juis as die “vredemaker” gesien is wat Mgcini en Eric Hlatshwayo van die plaas probeer afhou het. Zenzele werk ook al jare vir Potgieter en Greyling op die plaas.

Staatsaanklaer adv. Robert Malokoane het namens die staat in repliek op die ontslagaansoek aangevoer dat die verskillende getuies “verskillende observasies” van die voorval gehad het en daarom die getuienisse nie sommer as “ongeloofwaardig” kan uitgooi nie.

Die verdediging het op dié stelling gesê die staat “mislei die hof” en dat die ooggetuies naby aan die gebeure was om die werklikheid te kon aanskou en daardie feite weer te gee.

Die verdediging het verder aangevoer dat die getuies hul weergawes “gefabriseer” het om sekere gebeure wat op die dag van die voorval plaasgevind het te “verbloem”. Die regsverteenwoordigers wys onder meer na Mgcini se beweerde aanval op Moolman en die getuie Nhlanhla William Hlatshwayo se aanval op Potgieter, soos vroeër berig.

“Die getuies het nie vooraf gekonkel nie, hulle vertel net wat hulle gesien het. Mense het verskillende observasies. Daar was daardie dag baie mense op die toneel en daar het baie gebeur,” het Malokoane daarenteen aangevoer.

Gemeenskaplike doel

Die sewe beskuldigdes in die landdroshof in Evander, Mpumalanga (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die verdediging betwis ook die staat se bewerings dat die “beskuldigdes ten alle relevante tye gesamentlik opgetree het ter bevordering van ʼn gemeenskaplike doel om die betrokke misdade te pleeg”.

“Die vraag ontstaan eerder of die onwettige optrede van Mgcini en Eric daardie dag op die plaas nie dalk die tragiese skietvoorval kon voorkom het nie,” het Cilliers gevra.

Na aanleiding van die video het Mgcini en Eric aggressiewe gedrag getoon by hul aankoms op die plaas en die boere en hul plaaswerkers gekonfronteer. Dit het vroeër in die hof uitgekom dat hulle glo op soek was na William, ʼn familielid.

Die verdediging lig ook uit dat Potgieter onmiddellik die polisie (meer as een keer) gebel het om hulle van die onwettige betreding van voormalige plaaswerkers op Pampoenkraal in kennis te stel.

Nadat hy en Yende vir William in burgerlike arres geplaas het, het hy ook die polisie geskakel, voer die verdediging aan. Volgens getuienis het die arres plaasgevind nadat William glo vir Potgieter aangerand het.

“Sou iemand wat die misdrywe beplan en skuldig daaraan is so hard probeer het om die polisie op die toneel te kry, net om later in hegtenis geneem te word? Dit maak nie sin nie.”

Uitspraak op die aansoek word na verwagting Maandag in die streekshof op Middelburg gelewer.

  • Lees die vorige berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hasie ·

Dit net weer bewys dat die staat net een doel het en nie die feite wil hoor nie .

Harley Davidson ·

Die mense het hulself verdedig soos die wet bepaal,ek hoop en vertrou dat die boere se regspan dagvaar die staat vir alle skade en maak sodoende ‘n voorbeeld van onbevoegdheid.

ES ·

Ongelukkig kan mens nie net die staat dagvaar as jy ‘n beskuldigde is nie, tensy jy onregmatig gearresteer was of dat die aanklaer jou kwaadwillig aangekla het. Dit is baie moeilik om te bewys, maar ek dink dat as die staatsaanklaer aanhou met sy lastige litigasie staan hulle ‘n baie goeie kans staan om die staat te dagvaar vir verlies van inkomste.

ES ·

Die staatsaanklaer se bewering dat die staatsgetuies verskillende “observasies” gehad het is verregaande – een ding het afgespeel, mense kan nie verskillende goed sien gebeur nie.

Die staat gaan baie moontlik hierdie saak verloor, en dit klink vir my of die staatsaanklaer besig is met lastige litigasie.

LANA is ELANè ·

Dit moet ñ nagmerrie wees om in ons land ñ boer te wees. Veral as jy weet die regerende party voel ñ veer vir hul boere want WOOLIES kos is mos maar net om die hoek van hul paleise, waarvan die belastingbetaler die rek kry.
Mag geregtigheid geskied in hierdie reeds te lang uitgerekte saak waarin mense deur ons howe versaak word, omdat kriminele meer regte as eerbare mense het.

Gaitsigubib ·

Daar is baie mense wat spesifiek vir die boere bid Lana. Dis wat mens aan die gang hou – God se genade.

Yolandie ·

Interessant dat gefabriseerde gebeure afgemaak word as elke ou het sy eie storie (ongeag dat dit eintlik leuns is), dat die staat dit wil voorhou as genoegsame bewyse dat die boere gemoor het. Dit is afskuwelik. Sterkte aan die manne, hopelik is hulle sommer gu terug by die huis.

Gaitsigubib ·

Die mense wat n oordeel gevel het oor hierdie arme mense is nou maar redelik stil. Hierdie is niks anders as n plaasaanval wat suksesvol gefnuik was nie. Die Boere kan bly wees hulle leef nog.

Amelia ·

Is daar nie so paar jaar gelede ook geval van getuie gelieg eht en persoon toe skuldig bevind is nie getuie toe mos later gese hy gelieg omdat hy n huis gekry het kan nie meer hele saak onthou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.