Papapavlou se vrou nou ook van moord aangekla

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou Simone. (Foto: Facebook)

Die vermoorde plaasvoorman van Limpopo, Raymond Gregory Papapavlou, se vrou is Donderdag in hegtenis geneem in verband met sy moord.

Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat Simone Papapavlou vroeër vandag by die polisiestasie in Groblersdal in hegtenis geneem is op verskeie aanklagte, waaronder moord, sameswering om moord te pleeg en dwarsboming van die gereg.

Sy sal na verwagting Vrydag op dié aanklagte in die landdroshof op die dorp verskyn.

Patricia Ray Lee Smith, tot onlangs nog die enigste aangekeerde in die saak, verskyn na verwagting ook môre in dié hof.

Simone is aanvanklik nie in hegtenis geneem nie ten spyte daarvan dat haar naam saam met dié van Smith op die klagstaat verskyn het. Luidens die klagstaat het die vroue saamgesweer om die 28-jarige Papapavlou te vermoor.

Papapavlou is in Oktober verlede jaar in sy plaashuis tussen Stofberg en Groblersdal doodgeskiet. Smith en Simone was glo ten tyde van die moord in ’n romantiese verhouding.

Volgens Mojapelo is Simone in hegtenis geneem nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) die dossier nagegaan het.

Maroela Media het vroeër berig die ondersoek is verlede maand eindelik afgehandel en die dossier aan die DOV oorhandig vir ’n beslissing.

Papapavlou se liggaam is in Oktober verlede jaar in die vroeë oggendure met verskeie skietwonde in sy huis aangetref.

Hy het op ’n bed in een van die plaashuis se slaapkamers gelê en slaap terwyl sy vrou, Simone, glo in die sitkamer televisie gekyk het. Sy het aangevoer dat sy ’n skaduwee in die huis gesien het waarna sy ’n skoot in die rigting van die slaapkamer gehoor het. Sy het toe self skote met haar vuurwapen in die rigting van die skaduwee afgevuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Sêmaarnet ·

Ek dink nogal so. Sy het gedink almal sal dink soos die kommentators op die oorspronklike berig.

Cherokee ·

As die beskrywing keer op keer herhaal word, maak dit haar nie keer op keer betrokke nie. Hy is net een keer vermoor.

ES ·

Ek weet nie Pierre, mans doen maar dieselfde. Kyk maar na Chris Panayiouto. Daar word meer mense vermoor vir polis-uitbetalings as vir liefdesdriehoeke.

Marietjie ·

Ja Pierre keer op keer is die vrou betrokke, behalwe vir al die ander keer waar die man betrokke is né!

JM ·

Uiteindelik het jou leuens jou niks gehelp nie. As jy enigsins ‘n gewete het, laat dít jou aankla.

Magda G ·

Al gaan n leuen ook hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel. Sluit haar toe

Frank ·

Ai, dis nie meer lekker hier op aarde nie. Kyk ook hoe gaan dit in die res van die wereld. Ma’s wat hulle kinders doodmaak, al ‘n paar keer onlangs in die nuus. TEKENS VAN DIE EINDTYE!

Casper ·

Sy liggaam is met verskeie skote aangetref.Simone het een skoot gehoor in die rigting van haar man se kamer.Sy het self skote met haar eie vuurwapen op die skaduwee geskiet.In al die vorige berigte word geen melding gemaak van bewyse dat daar ‘n inbraak was nie ook nie van doppies om Simone se weergawe te staaf nie.My beskeie mening is dat Somone haar man kon geskiet het of was die skaduwee die van Smith.Hulle het hierdie moord haarfyn beplan of het hulle.

Cherokee ·

‘n Haarfyn beplande moord laat nie moordenaars so vinnig vastrek nie. Die hele opset maak geen sin, want hy was nie ‘n skatryk sakeman, maar ‘n plaasvoorman. Sy kon hom skei en met haar meisie trou. maar miskien was daar versekering met haar as begunstigde.

ES ·

Ek stem nogal met jou saam. Baie meer mense word vermoor vir polis-uitbetalings as vir liefdesdriehoeke. Hierdie is dalk ‘n mengsel van altwee.

Cherokee ·

Wat min sin maak in haar verklaring, is dat sy op ‘n skaduwee skiet, terwyl sy weet dat haar man in die huis is.

Melanie ·

Net omdat sy wou egbreek pleeg en haar man kwansuis in haar pad was, moes hy boet met sy lewe? wat van die wat hom opreg liefgehad het?? hoekom hom nie net skei en jou eie gang gaan nie…. ai, mag jy kry wat jy verdien.

Yvonne ·

Jy mag nie moor pleeg nie…..onskuldige bloed het hierdie land rooi gevlek…almal het net verskonings

ES ·

Ons polisie mag dalk meestal in die nuus wees vir beweerde korrupsie ens. maar ons het werklik van die beste speurders en staatsaanklaers van enige land.

Hoe mense nog dink hulle kan met moord wegkom gaan my verstand te bowe.

Kathleen ·

Dit het regtig baie lank geneem vir iemand om te besluit sy is deel van die moord-beplanning . Ek is nie ‘n speurder nie maar indien ek 1 was sou Simone my 1 ste verdagte gewees het en die “vriendin” of is dit “vriend” nommer 2 . Dit gaan my verstand te bowe dat indien jy nie meer saam met die persoon wil wees nie hoekom jy nie net uit die huwelik of verhouding stap nie , hoekom moord ?

Phillip ·

Ek het mos gese sy is deel van die moord en afdiupies gehaad . En word sy wel virdink

Sêmaarnet ·

Ek het nou na die berig van 5 Oktober 2020 gaan kyk. Miskien moet ons nie so gou beskuldigings rondslinger nie en self afleidings maak nie.

Peach ·

Selfs Carte Blanche het ONAFHANKLIK die FEITE bloot gelê en, dit was vanaf die begin duidelik sy het ‘n vinger in die spreekwoordelike misdaad pastei gehad maar, ONSKULDIG TOT SKULDIG BEVINDING BEGINSEL.

Vernon ·

Siek spul..hoop hulle gaan tronk toe,wel eendag sal hulle moet rekenskap gee..nie net oor die moord nie!!

Anoniem ·

Sy verdien die langste straf wat toegestaan kan word, sy en haar “nuwe” liefde. Hoekom kon sy nie reguit vir hom sê dat sy nou vir die ander span speel en wil skei nie. Hoekom moet sy lewe geneem word en sy dink sy anderkant skotvry sal kan voortgaan met haar nuut gevonde liefde. Ag nee, sies man.

Kathleen ·

ja nee sowaar ek stem saam , dit is om van naar te word !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.