Papegaai kry 3D-snawel

Die operasie word as die eerste van sy soort vir Suid-Afrika bestempel (Foto: Verskaf)

ʼn Ara-papegaai van ʼn voëlskuiling in die Wes-Kaap spog danksy ʼn spesialisspan van die Universiteit van Pretoria (UP) met ʼn splinternuwe snawel.

Dié blougoud papegaai, genaamd Max, se boonste snawel is sowat vier jaar gelede tydens ʼn skermutseling met ʼn ander papegaai in die voëlskuiling afgeruk.

Luidens ʼn verklaring van UP het ʼn spesialisspan van die universiteit in samewerking met die Bloemfontein- Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) en ander betrokkenes ʼn 3D-snawel vir Max gedruk en aangeheg.

Weens die Covid-19-afsonderingstydperk het dit uiteindelik amper twee jaar geduur voor Max sy nuwe snawel kon kry.

ʼn Chirurgiese span onder leiding van prof. Gerhard Steenkamp, ʼn veeartsenykundige spesialis in tandheelkunde en kaakchirurgie aan die Fakulteit Veeartsenykunde by Onderstepoort, het die prostetiese snawel tydens ʼn chirurgiese proses by die Robberg-veeartskliniek in Plettenbergbaai aangeheg.

’n Plaaslike veearts, dr. Brendan Tindall, het die narkose toegedien.

Die operasie word as die eerste van sy soort vir Suid-Afrika bestempel.

Steenkamp het Donderdag gesê dit gaan goed met Max en daar was tot dusver nog geen komplikasies nie.

Max se eienaar, Trevor Glover, vertel sy geliefde troeteldier is terug by die huis en het binne ʼn dag ná die operasie stukkies vaste kos begin eet. Max moes jare lank net sagte kos eet.

Volgens Glover het Max in 2017 by die voëlskuiling aangekom ná sy eienaar oorsee verhuis het.

‘n Spesialisspan van die UP, Bloemfontein- Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) en ander betrokkenes het die 3D-snawel gedruk en aangeheg (Foto: Verskaf)

“Hy was aggressief teenoor die ander voëls in die skuiling. Aan die einde van 2017 het hy ʼn ander ara-papegaai aangeval. Die papegaai het terugbaklei en Max se bobek gebyt. Hy het die linkerkant van sy snawel gekraak,” sê Glover.

“Max is na ʼn ander hok geskuif – saam met ʼn ander papegaai wat ook ʼn beseerde bek gehad het. Ná drie weke in die nuwe hok het dié twee mekaar ook beetgekry. Die ander papegaai het Max se gekraakte bek heeltemal afgeruk.”

Glover het Max, wat na raming byna 20 jaar oud is, daarna na dr. Tindall geneem vir behandeling en dié kon Max eindelik sover kry om sagte kos te eet.

“Destyds met Max se terugkeer na die skuiling het ek twee keer per dag vir hom ʼn warm, sagte kosmengsel gevoer. Hy is met die hand gevoer, maar het gou met sy tong kos begin opskep.”

Daarna het Max, benewens die sagte kosmengsel, sagte vrugte saam met amandelvlokkies gekry.

Max se boonste snawel is sowat vier jaar gelede tydens ʼn skermutseling met ʼn ander papegaai in die voëlskuiling afgeruk (Foto: Verskaf)

“Solank hy met sy tong by die kos kon uitkom, kon hy op sy eie eet.”

Die noodlot het ʼn paar maande later weer toegeslaan toe die onderkant van Max se bek reguit begin uitgroei het, met geen ondersteuning om dit af te druk nie.

“Die onderkant van die bek het langer as Max se tong geword en dit het hom gekeer om sy kos te bereik.”

Glover het besluit om Max na die Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal (OVAH) vir ʼn CT-skandering te neem om vas te stel of dit moontlik sal wees om ʼn prostetiese snawel te kan aanheg.

“Die CT-skandeerder by Onderstepoort kon nie genoeg detail gee nie. Reëlings is getref om Max by dr. Craig Muller van Eugene Marais-radiologie te laat skandeer,” het prof. Steenkamp verduidelik.

“Ek het ook afdrukke van die oorblywende bek geneem om seker te maak dat die beoogde gedrukte snawel op die oorblywende stuk bek sal pas. Die afdrukke en CT-skandering is aan Philip van der Walt van BunnyCorp gestuur, wat die bek ontwikkel en geteken het.

“Nadat ons die finale tekeninge gehad het, het die soektog begin na iemand om die bek te druk en die spesifieke skroewe te maak.”

Die werk om die skroewe te maak wat die bek vasheg, is aan Saspine, ʼn ortopediese maatskappy in Pretoria, toevertrou. Die maatskappy het ook die gespesialiseerde sluitskroewe geborg wat spesifiek vir Max ontwikkel is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Wow. Wonderlik! Max het die beste kaakspesialis in die wêreld.

Skappie ·

Dis lekker om bietjie stories van mense te lees wat vir ‘n voel soos Max omgee. Dankie aan almal wat betrokke was by die nuwe snawel van Max.

Mieke ·

Dis so aangenaam om so ‘n stukkie nuus te lees!! Bly dat Max nou ‘n normale lewe kan voorsit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.