Paramedici verongeluk in die Oos-Kaap

Die paramedici was verbonde aan die Oos-Kaapse provinsiale ambulansdienste [Foto: Arrive Alive, Twitter]

Sewe mense is dood in vyf afsonderlike ongelukke wat tussen Vrydagaand en Saterdagoggend in die Oos-Kaap aangemeld is. Twee van die oorledenes was paramedici.

Twee paramedici verbonde aan die Oos-Kaapse provinsiale ambulansdienste en nog ʼn persoon is vroeg Saterdagoggend dood toe ʼn ambulans en vragmotor in ʼn trompop botsing op die N10-snelweg by Cradock betrokke was.

Die ongeluk het omstreeks 06:00 plaasgevind.

Die ambulans was op pad van Gqeberha na Cradock [Foto: Arrive Alive, Twitter]

Volgens Mkhululi Ndamase, woordvoerder van Nomakhosazana Meth, LUR van gesondheid in die Oos-Kaap, was Ntombehlubi Rasmeni en Tembekile Damane op pad na Cradock nadat hulle pasiënte na Gqeberha (Port Elizabeth) vervoer het.

Die Nissan-vragmotor, wat mangaan vervoer het, was op pad na Gqeberha. Slegs die vragmotorbestuurder was in die voertuig.

Meth het haar medelye met Rasmeni en Damane se familie en vriende betuig en sê hul dood is ook ʼn groot slag vir die departement.

“Hulle was soldate wat hul lewe aan die gesondheidsdiens in die Oos-Kaap gewy het,” het Meth gesê.

Ander ongelukke

Al die insittendes van die transitovoertuig het oorleef [Foto: Arrive Alive, Twitter]

Naby die Dangwana-nedersetting by Mount Frere het ʼn vragmotor en bakkie Vrydag omstreeks 19:30 kop aan kop gebots. Volgens Khuselwa Rantjie, kommunikasiebestuurder van die Oos-Kaapse departement van vervoer, het “die bestuurder van die bakkie het in die ongeluk omgekom terwyl die vragmotorbestuurder ongedeerd is.”

Dieselfde aand is ʼn manlike voetganger op die R411-pad in Mqanduli by die Kwaiman-nedersetting deur ʼn motor raakgery. Volgens Rantjie het die man later in die Ngcwanguba-kliniek in Mqanduli aan sy beserings beswyk.

Sewe mense is dood in vyf afsonderlike ongelukke die naweek [Foto: Arrive Alive, Twitter]

Volgens Rantjie is ʼn voetganger Saterdag omstreeks 01:00 op die N2-snelweg in Idutywa doodgery.

Rantjie sê ʼn vrou is Saterdag omstreeks 07:45 dood toe ʼn transitovoertuig en Datsun Go op die N2-snelweg in Oos-Londen ook kop aan kop gebots het.

“Die bestuurder van die Datsun is op die toneel dood verklaar terwyl die vier insittendes van die transitovoertuig ongedeerd is.”

Die verkeersvloei op die N2 was weens die ongeluk geraak.

“Die polisie ondersoek die omstandighede rondom al vyf ongelukke. Sake van strafbare manslag is in elk van die sake aanhangig gemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Onveilig voertuie op ons paaie, ek haal graag aan, “The DATSUN GO scored zero stars for adult occupant protection and just two stars for child occupant protection. The Datsun GO’s vehicle structure collapsed in the crash and was rated as unstable”.
Suid Afrika is tans ‘n aflaaiplek van onveilige nuwe voertuie waar die vervaardigers baie geld maak ten koste van mense se lewens. Vervaardigers behoort verantwoordelik te gehou word vir hierdie optrede.

Harry ·

Een van die beste motortjies op die pad, as enige ander voertuig daai trok getref het was dit die selfde uitslag. Hierdie kamstige mense wat karre toets vir veiligheid weet nie waarvan hulle praat nie en dis al bewys, pot bollie wat hulle berig man, seker VW, Audi of BMW wat hulle betaal om die nonsens te skryf!

Windhond ·

Daar is geen N2 snelweg binne n 100km van Idutwya nie – ???

Thelsa ·

Wit sperstrepe – ‘n ongeluk – kop aan kop – natuurlike gevolge

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.