Parlement beskerm Ramaphosa nes Zuma, sê DA

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die speaker van die nasionale vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula se weiering om ʼn ad hoc-komitee aan te stel om die diefstal van meer as $4 miljoen uit pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildsplaas in Februarie te ondersoek, is ʼn doelbewuste skuif deur die parlement om die uitvoerende raad en die president self te beskerm teen aanspreeklikheid.

Só sê John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie.

“Hierdie optrede is ʼn geval van geskiedenis wat homself herhaal as ons kyk na die parlement se weiering, onder die ANC, om ʼn ad hoc-komitee aan te stel om bewerings rondom pres. Jacob Zuma se Nkandla-tuiste te ondersoek. Dié bewerings is uiteindelik as waar bewys.”

Steenhuisen sê Mapisa-Nqakula se optrede wys die land dat die parlement en die speaker, onder die ANC, niks uit die nege vermorste jare geleer het waar Suid-Afrika biljoene rand aan korrupsie verloor het en dramatiese ontwikkeling- en ekonomiese agteruitgang beleef het nie.

“Dit wys ook dat die speaker glad nie ag slaan op die aanbevelings in die Zond-verslag of die vrae wat daarin geopper word oor die parlement se verlamming wanneer versoeke ingedien word vir dringende ad hoc-komitees en portefeuljekomitees nie.

Regter Raymond Zondo het in dié verband gesê: “Die waarheid van die saak, so blyk dit, is dat die ANC as ʼn organisasie voor die middel van 2017 onwillig was om ʼn parlementêre ondersoek of ondersoeke na die betrokke bewerings te steun. Die leierskap van die ANC het daartoe verbind gebly om pres. Zuma en die kaders te ondersteun en was nie gewillig om bewerings van magsmisbruik te onthul nie.”

Steenhuisen sê die parlement staan weer en toekyk terwyl die staatshoof gewikkel is in ernstige bewerings van diefstal, ontvoering en die misbruik van staatshulpbronne – bewerings wat ʼn klad is op die kantoor van die presidensie en wat pres. Ramaphosa onbevoeg tot die amp kan verklaar. “Die ANC wend die parlement weer aan as ʼn mat waaronder skandale en korrupsie uit die publieke oog gevee kan word.”

Die DA sal dringend regsopsies oorweeg om die speaker se besluit te daag. “Die speaker se verwysing na artikel 89 van die Grondwet is ook ʼn gerieflike manier om weg te skram en haar besluit te probeer regverdig, maar dit sal nie deug nie.”

Steenhuisen sê staatskaping en korrupsie onder die ANC en sy beleid van kader-ontplooiing is ondersteun deur kaders wat in die parlement ontplooi is om sy oorsigtelike meganismes te neutraliseer. “Die DA sal nie net staan en toekyk hoe nóg ʼn kader enige Suid-Afrikaner beskerm nie – selfs nie al is dit die president van die Republiek nie. Die parlement is nie ʼn verlengstuk van die ANC nie, en ons sal seker maak dat ons oorsigtelike instansies nooit weer gesystap word sodat kaders ongestrafbaar bly nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Realis Thailand ·

Het enige nugter dekende mens gedink dit sal nie gebeur nie.

annie ·

‘n Klein moontlikheid is dat Cyril se vyande geld geplant het in sy plaashuis en die gedoente gefabriseer het met hulpspelers om dit geloofbaar te maak, vandaar dat sekere kreukelbare karakters betrokke is wat die fiasko openbaar het. Die vraag bly waarom Ramaphosa nie dadelik wolf geskree het nie. Waarom soetjies trap? Die hoeveelheid geld is dalk ook nie so baie as wat gesê word nie. Is die prez bang om sekere mense te beskuldig so voor Desember en nou wag op polisie-ondersoek-bewyse?

Realis Thailand ·

Daar is meer kans dat ek die lotto sal wens sonder n kaartjie
Die geld is van die Midde Ooste ingesmokkel met n vriend se privaat straler soner om deur douana te gaan .
So daar het jy dit

Nico ·

Vir die twee kaders is dit ‘n land van melk en heuning, die howe luister te maklik na die kaders wat agter hulle staan is die twee soos die Faraoes van ouds.

Jack ·

Wie in sy regte verstand sou in sa verwag dat eerlikheid en deursigtigheid selfs van n man soos ramaphosa sou kom. Hy kruip nog al die tyd weg agter die voorgee dat hy n goeie kerkmens is. Dit is duidelik dat hy baie mense geflous het maar dis lankal verby.

My siening ·

Kyk sy gesig hy is n goeie akteur om die hoek lag hy vir ons arm mense! ANC gemors!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.